Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
My mening: Dié studente kán nie suksesvol leer

Talle studente aan Suid-Afrikaanse universiteite is woedend omdat die beloftes van gratis tersiêre onderwys wat die regering en die ANC die laaste paar jaar gemaak het, verdamp het.

Die stille meerderheid van studente wat net wil studeer, asook dosente wat met hul werk wil aangaan, is net so kwaad en baie ontnugter. Gratis hoër onderwys is ’n onbekostigbare gekheid.

Trouens, onderrig wat geheel en al gratis is, misluk wêreldwyd.

Maar hoe presteer die meer as ’n miljoen studente wat tans aan Suid-Afrika se 26 universiteite studeer? Protesteer hul slegs oor gratis hoër onderwys, of is hulle skaamkwaad omdat die stelsel – wat hoofsaaklik op Westerse norme en standaarde gegrond is – hulle in die steek laat en beteken dat hulle nie suksesvol kan slaag nie?

Na raming verlaat 55% van alle studente die universiteit ná vyf jaar sonder ’n graad.

Is dit juis die rede vir die aandrang op Afrikanisering en dekolonisering?

Syfers toon dat die persentasie swart studente wat hul B-grade verwerf sedert 1990 gedaal het. In 1990 het 16% van swart matrieks ’n B-graad verwerf.

In 2010 was dit 9%. Dieselfde geld vir bruin gr. 12’s.

In 1990 het 11% van hulle ’n B-graad verwerf; teen 2010 was dit net 6%. Dit terwyl die persentasie wit en Indiër-matrieks

gestyg het – van 22% tot 29% vir wit en 15% tot 20% vir ­Indiërs.

Taal is ’n belangrike oorsaak. Skoolhoofde van Afrikaanse bruin skole sê hul matrieks sukkel by Engelstalige universiteite terwyl Engels die huistaal van slegs 2,9% van die swart bevolking is. Navorsing wat by die Universiteit van Kaapstad gedoen is, toon dat swart skoolverlaters vyf jaar agter hul wit eweknieë is.

Maatskaplike en ekonomiese faktore het ook ’n groot invloed op studente se sukses. Baie swart en bruin studente is arm, het swak huisvesting en ly selfs honger. Maar bevoorregte wit studente se prestasies van 29% is ook maar power. Tog het wit studente se universiteitsuitslae drasties verbeter tussen 2000 tot 2010.

’n Belangrike rede hiervoor is dat die kwotastelsel veroorsaak het dat wit studente strenger gekeur word en hard moet werk om hul plekke te behou.

Terselfdertyd kan die dalende tendens van graduering van swart en bruin studente sedert 1990 in ’n groot mate daaraan toegeskryf word dat universiteite oorlaai is. Studentegetalle het sedert 1994 verdubbel terwyl staatsbesteding in reële syfers gedaal het. Die student-dosent-verhouding het vinnig verswak en standaarde laat daal.

’n Student laat nie sy maatskaplike agtergrond tuis wanneer ? universiteitskampus betree word nie.

Hoe word 5 000 en selfs meer as 10 000 nuwelingeerstejaars op ’n kampus gehelp om die biblioteek, inligtingstelsels, ensovoorts sinvol te gebruik?

Swart studente kla dat hulle met beurse gelok word, maar daarna aan hul eie lot oorgelaat word.

Hoort almal op die kampusse?

Net ’n derde van alle universiteitstudente het die kognitiewe, taal- en intellektuele vermoë om suksesvol te studeer. Die departement van hoër onderwys en opleiding en universiteite weet dat die studente nie kan slaag nie.

Is dit regverdig en eties om hierdie studente se geld te vat? Kan ons hulle verkwalik dat hulle so woedend is dat hulle geboue afbrand en die toekoms van medestudente verwoes?

Ongeveer ’n derde (of 60 000) van die 180 000 nuwelingeerstejaars aan Suid-Afrikaanse universiteit gaan vanjaar druip. Na raming sal 200 000 studente vanjaar druip. Hulle het niks om te verloor nie en is die voorbokke tydens protesoptredes.

Nogtans is die projeksies dat die studentegetalle met 600 000 tot 1,6 miljoen moet styg. En transformasie word op alle vlakke van die universiteite meedoënloos gedryf.

Daar is dus geen einde aan die politieke en ideologiese waansin nie!

Daar is blykbaar ook geen verset van universiteitsbesture of -rade – individueel of gesamentlik – teen hierdie vernietigende stelsel nie.

Na raming verlaat 55% van alle studente die universiteit ná vyf jaar sonder ’n graad. By residensiële universiteite is dié syfer 45% en by Unisa is dit amper agt uit tien. Net 27% van studente verwerf hul B-graad in die voorgeskrewe drie jaar van studie.

Altesame 247 913 studente skuld sowat R6,4 miljard aan die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) terwyl ’n groot aantal ander studente meer as R5 miljard aan universiteite se eie leningskemas skuld.

Meer as 60% van die wat lenings van die NSFAS ontvang, druip jaarliks.

Die Raad op Hoër Onderwys en die Nasionale Ontwikkelingsplan erken dat die stelsel swak presteer.

Statistieke Suid-Afrika toon dat die persentasie professionele swart geskooldes ná 20 jaar van demokrasie minder is as hul vorige eweknieë.

Dr. Pali Lehohla, statistikus-generaal, noem dit “ ’n konkoksie van rampspoed”. Geen regdenkende mens kan die noodsaaklikheid van ’n verteenwoordigende studente- en personeelsamestelling betwis nie, maar die tempo waarin ons hierdie gegradueerdes oplei, voorspel ellende vir almal.

  * Prof. Flip Smit is voormalige visekanselier van die Universiteit van Pretoria. Hy doen tans navorsing oor hoër onderwys.

  * Hierdie is ’n geredigeerde weergawe van ’n referaat wat Smit voor die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns gelewer het.

Meer oor:  Pali Lehohla  |  Studente  |  Menings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.