Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
’n Kopskuif oor wiskunde is nodig

Meer as 300 skole landwyd bied nie meer wiskunde as ’n vak aan nie, sê die Vereniging vir Afrikaanse Wiskundeonderwysers (VAW).

Prof. Michael le Cordeur

Dis omdat al hoe meer leerlinge eerder wiskundige geletterdheid neem. Verlede jaar het 14 178 minder leerlinge suiwer wiskunde in matriek geneem as in 2018, terwyl 6 362 meer wiskundige geletterdheid geneem het.

Volgens die departement van basiese onderwys het meer as die helfte (54,6%) van leerlinge wat wiskunde geskryf het net 30% behaal.

Luidens die Skole-ondersteuningsentrum (SOS) se jaarlikse matriekverslag het net 2% van kandidate onderskeidings in dié vak behaal.

’n Tekort aan goeie, toegewyde wiskundeonderwysers dra ook by tot die probleem.

Prof. Michael le Cordeur, hoof van die Universiteit Stellenbosch se departement kurrikulumstudie in die fakulteit opvoedkunde, sê hy het in sy eie ontledings ook op skole afgekom wat nie meer wiskunde aanbied nie.

“Dit is omdat kinders die makliker opsie, naamlik wiskundige geletterdheid, kies wanneer hulle gr. 10-keuses kan maak oor vakke.”

Johan Koekemoer, hoof van die VAW, sê hulle het ’n lys van meer as 300 skole wat nie meer wiskunde aanbied nie wat hulle by die departement gekry het.

Die departement het nie op Rapport se navrae gereageer nie.

Die meeste van die skole is in kwintiel 1 tot 3, met ander woorde skole waar skoolfonds nie betaal word nie, in afgeleë gebiede.

Koekemoer sê dis makliker om wiskundige geletterdheid deur te kom en vir die meeste leerlinge is dit die einddoel. “Onderwysers wat wiskunde kan aanbied, word baie makliker deur die private sektor opgeraap.

“Dit is ’n kringloop van gebeure wat eintlik sy wortel het in die feit dat onderwysers hulself dood moet werk vir ’n relatiewe lae loon,” sê Koekemoer.

Le Cordeur sê ’n kopskuif oor wiskunde is op nasionale vlak nodig. Kinders word van kindsbeen af geleer “wiskunde is moeilik” en daarom skram hulle weg daarvan. Daar is geweldige fanfare wanneer dit te laat is en die matriekuitslae aangekondig word, sê hy.

“Ons kan dit nie regmaak in die laaste paar weke met kampe en ekstra klasse nie.”

Dit sluit aan by die probleem dat leerlinge “afgerig” word vir wiskunde-eksamens en byna net ou vraestelle uitwerk. “Min léér vind plaas.”

Koekemoer voeg by die room van die samelewing moet weer gelok word met mededingende salarisse.

“Haal die mag van unies en die staat uit die klaskamer sodat onderwysers hul roeping ongesteurd kan uitleef.”

Le Cordeur sê mens moet leerlinge wat goed is met wiskunde identifiseer en met beurse lok om onderwys te studeer. Volgens hom is daar beslis ’n tekort aan goeie wiskundeonderwysers.

Nóg hy, die VAW, nóg die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) het statistieke daaroor.

“Daar is gewis genoeg opvoeders wat hulself wiskunde-opvoeders noem, maar daar is gewis nie genoeg wat oor die werklike diepgrondige vakkennis beskik en in staat is om ’n liefde vir die vak oor te dra, asook om ‘wiskunde-angstigheid’ dermate te verminder nie,” sê Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.