’n Kabinetsminister wat in haar motor sit en huil, is ’n ongewone gesig.
Naledi Pandor, minister van hoër onderwys, sê dit het met haar gebeur nadat haar studieleier vir haar doktorsgraad ’n hoofstuk in haar proefskrif afgeskiet het.

Naledi Pandor ontvang haar PhD van prof. Tawana Kupe, visekanselier van die UP. Foto: DEAAN VIVIER
Pandor het Dinsdag haar doktorsgraad in opvoedkunde aan die Universiteit van Pretoria (UP) ontvang.
“Ek kon sedert 2015 nooit ’n naweek net rus nie en het dikwels by die tafel aan die slaap geraak. Maar as ’n mens vasbeslote is, is dit moontlik,” het sy Donderdag aan Rapport gesê.
Prof. Chika Sehoole, dekaan van die fakulteit, was haar studieleier.
Pandor, ’n oudonderwyseres met onder meer ’n meestersgraad in onderwysbeleid en -praktyk in veelrassige gemeenskappe, moes destyds haar nagraadse studie staak om te werk. “Ek het dus nie voortgegaan om die PhD te doen nie, maar dit was altyd iets wat ek wou doen.”
Haar navorsingsonderwerp was “Contested meanings of transformation in higher education in post-apartheid South Africa”.
“Ek het probeer vasstel wat bedoel mense eintlik as hulle praat van transformasie. Hoekom is daar verskillende sienings?”
Sy het gevind die talle betekenisse reflekteer die komplekse aard van die sektor.
In onderhoude het sy mense gevra wat transformasie voor die einde van apartheid beteken het.
Feitlik almal het “toegang” gesê. En toe sy vra wat dit nou beteken, het sy ’n groot verskeidenheid reaksies gekry.
“Dit is toegang, maar dit moet met sukses gepaardgaan.
“Ek het dit nie in die verlede in ag geneem toe ek daarvan gepraat het nie, en net gekonsentreer op die feit dat Afrikane uitgesluit word.
“Nou verstaan ek as hulle toegang kry, maar nie sukses behaal nie, kan dit nie as transformasie beskou word nie. Of as hulle slegs literatuur van Europa lees, is dit nie transformasie nie, ook nie as hulle nie deur ’n diverse personeel opgelei word nie.
“Ek het ontdek deel van die redes vir die betwiste siening van transformasie is omdat die konsep nie ontleed is en by ’n gemeenskaplike konsep uitgekom is waar almal konsensus bereik nie.
“So, ons almal veg oor transformasie, maar ons bedoelings is baie verskillend. Dit is baie meer as net vervanging van wit met swart.”
Sy het al die groepklasse bygewoon.
“Ek onthou die een waar ons ons voorgestelde onderwerpe moes voorlê. Daarna het die personeel en ander PhD-studente vrae gevra en hulle het my voorstel uitmekaar geskeur.” Sy moes weer oor die onderwerp nadink.
En toe die keer toe haar studieleier gesê het ’n hoofstuk in haar proefskrif is benede peil.
“Ek wou in die kantoor sit en huil, maar het my ingehou. Toe ek in die kar kom, het ek in trane uitgebars, want ek moes die hele hoofstuk oordoen,” sê sy.