Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Nie ons plig om Afrikaans te red, sê Maties-rektor

Dit is nie die Universiteit Stellenbosch (US) se verantwoordelikheid om die voortbestaan van Afrikaans te waarborg nie.

So sê prof. Wim de Villiers, US-rektor en visekanselier.

Dit volg ná Donderdag se opspraakwekkende besluit van die universiteit se bestuurspan om ’n aanbeveling aan die raad te doen om Engels as primêre voertaal te aanvaar.

De Villiers het in ’n onderhoud in sy kantoor aan Netwerk24 gesê:

- Swart-, bruin- en Indiër-studente beleef Afrikaans as eksklusief;

- Dit was die primkomitee wat aanbeveel het Engels moet die kommunikasietaal vir koshuise wees;

- Die universiteit luister na studente en hul ouers want dis hul belange wat gedien word;

- Die meerderheid van studente is Engels en minder as ’n derde wil in Afrikaans onderrig ontvang; en

- Die aanbeveling beteken nie die einde van Afrikaans as onderrigtaal op Stellenbosch nie.

Hy het gesê omvattende gesprekvoering is die afgelope tyd met ’n verskeidenheid studente-organisasies gevoer, insluitend die studenteraad, Open Stellenbosch, Daso-Maties, Sasco en Afriforum.

Dit is ook die primkomitee wat volgens De Villiers eerste aanbeveel het dat alle universiteitskoshuise hul kommunikasie in Engels voer. Hoewel die personeel nie so seer geraadpleeg is nie, is met die onderskeie dekane gepraat en is die senaat ook geraadpleeg. 

“Uit hierdie samesprekings het dit duidelik geblyk dat taal onder ons bruin, swart en Indiërstudente steeds as ’n meganisme van uitsluiting ervaar word,” het De Villiers gesê. 

“Ons moet deur ons studente en ouers gelei word. Dis hulle wat vir ons sê wat om te doen en dis hulle na wie ons geluister het,” het hy gesê.

“Hoekom moet die US die verantwoordelikheid dra om Afrikaans se voortbestaan te beskerm? Ons is ’n toekomsgerigte instelling en ons primêre funksie is kennisskepping en -oordrag. Daarmee saam is die universiteit ’n nasionale bate wat daarna streef om inklusief te wees. Dus kan ons nie ’n situasie hê waar ’n taal toegang tot leer en onderrig vir sekere studente beperk nie.”

Die rektor het bygevoeg die vertrekpunt vir die pad vorentoe sal dus wees dat toegang tot leer en onderrig, wat insluit navorsing en sosiale aktiwiteite op kampus, vir alle studente beskikbaar moet wees. 

Hy het gesê die US se bevolkingsprofiel het die afgelope twee jaar sodanig verander dat 55% van eerstejaars nou Engels is. 

Uit die sowat 18 000 aansoeke wat die universiteit vir 2016 ontvang het, het slegs 32% aangedui hulle verkies Afrikaans. Bykans alle nagraadse studies, wat sowat 35% van studente betrek, geskied ook reeds in Engels.

“Bloot uit die perspektief van die markkragte ter sprake maak dit dus sin om Engels as voertaal te gebruik,” het De Villiers gesê. “Engels is die omgangstaal in Suid-Afrika en hoewel dit nie beteken dat almal ewe goed kan Engels magtig is nie, dit die meeste studente sal toegang gee. Ons is ’n nasionale bate waartoe alle burgers moet toegang hê. Ons kan nie net na plaaslike burgers se belange omsien nie.”

Hy is egter van mening dié besluit beteken allermins die einde van Afrikaans op Stellenbosch.

“Ek is baie sensitief teenoor dié studente wat steeds in Afrikaans onderrig wil word en daarom gaan ons groot met parallelmedium. Die kernfrase hier is ‘ten minste’. Alle klasse moet ten minste in Engels wees, maar oral waar studente dit verlang deur Afrikaans aangevul word.”

Maties sal dus steeds in tutoriale of waar hulle in kleiner klasse byeen is, in Afrikaans onderrig kan word. Eksamens en toetse sal ook steeds in Afrikaans geskryf kan word.

Die US-bestuur se voorstel is in lyn met die taalbeleid wat in 2014 aanvaar is, waarin Afrikaans en Engels op gelyke voet geplaas is. Die bestuur se voorstel sal dus slegs die taalplan raak, waarvolgens dié beleid geïmplementeer moet word, aldus De Villiers. Hy meen die huidige taalplan, waarin die T-opsie uiteengesit word, benodig drastiese veranderings. 

Dit is onwaarskynlik dat ’n amptelike nuwe taalplan reeds aan die begin van 2016 van krag sal word. Sou die US-raad die bestuur se voorstel aanvaar, sal ’n taakspan eers aangestel word om die implementering daarvan te ondersoek. 

Parallelmedium sal egter sou gou moontlik ingefaseer word. 

“Ons is ernstig dat dié voorstel die toon en styl is wat ons as bestuur wil aangee en sal dit dus ten sterkste by die raad aanbeveel,” het De Villiers gesê.

“Of ek ’n streep in die sand getrek het? Ek dink nie dit is so dramaties nie. Dis eenvoudig die standpunt wat ons stel nadat ons ons studente oor hul belewenisse in die klasse en op kampus geraadpleeg het. Ek dink nie dit is so dat Afrikaans tot ’n tweederangse taal afgeskaal word nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.