Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Nog aantygings teen Bolandse skoolhoof ondersoek

Die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) ondersoek nog klagtes teen die hoof van ’n bekende Bolandse hoërskool, nadat hy in Januarie ’n finale geskrewe waarskuwing ontvang het.

Wikus Naudé, hoof van Hugenote Hoërskool in Wellington. Foto: Paarl Post

Die WKOD het Donderdag bevestig dat hy ’n “aantal bykomende aantygings” teen Wikus Naudé, hoof van die Hugenote Hoërskool, ontvang het sedert tugstappe in die begin van die jaar teen hom ingestel is.

Naudé is steeds by die skool in Wellington en die WKOD sê hy ondersoek die aantygings teen hom, maar wou nie uitwei oor wat dit behels nie.

Naudé is sedert 2016 die skoolhoof.

Bronagh Hammond, WKOD-woordvoerder, sê die departement wil nie verder kommentaar oor die aangeleentheid lewer nie.

Die skool het Donderdag ook gesê hy gaan geen kommentaar lewer nie.

In Februarie is berig oor ’n ouer wat in 2018 gekla het nadat sy 16-jarige seun in gr. 11 deur drie matriekseuns aangerand is en die hoof daarna na bewering die seun geviktimiseer en sy ouers gedreig het.

Dié ouer het gesê dat die skool gedreig het om sy seun van diefstal aan te kla, eerder as om teen die drie leerlinge op te tree, en gedreig het om die saak verder te neem indien hulle (die ouers) die aanrandingsaak wou verder neem.

Die Hugenote Hoërskool in Wellington. Foto: Morné van Rooyen

In Desember 2018 is daar ook berig dat Naudé beveel is om sy vuurwapens uit die koshuis te verwyder waar hy met sy vrou en twee dogters gewoon het.

Die vuurwapens het onder die WKOD se aandag gekom in ’n forensiese ondersoek na klagtes oor beweerde ongerymdhede by die skool.

Verder is daar in Junie 2018 berig dat ouers in die omgewing van die skool gekla het omdat die hoof en adjunkhoof in Namibië en die Noord-Kaap leerlinge gaan werf het, terwyl hulle glo nog nie geweet het of hul kinders plek gekry het nie.

Bruin ouers het aan Rapport gesê dat hulle gehoor het van baie ander ouers wat reeds bevestiging van hul kinders se plek in die skool ontvang het, maar hulle het nog daarop gewag.

Die skool het destyds daarop gesê dat dit normaal is om leerlinge vir die koshuis van buite Wellington te werf.

Meer oor:  Wes-Kaap  |  Boland  |  Ondersoek  |  Skoolhoof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.