Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
NOG FOTO'S: Herstelwerk kom ná ouers skool sluit

Hulle wil nie hê Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, moet oor ’n paar maande ouers kom troos omdat hul kinders by die skool dood is nie, sê Dephine Botha, voorsitter van die Ennerdale Secondary School se beheerliggaam.

Twee loopbrûe by die Ennerdale Secondary School word met pale regop gehou. Foto: Diaan Vivier

Die ouers is bekommerd oor swak infrastruktuur by dié skool in die suide van Johannesburg.

Botha sê daar was Vrydagoggend ’n vergadering by die skool met amptenare van die Gautengse onderwysdepartement. Die skool vra sedert 2016 hulp met gevaarlike loopbrûe, reën wat deur dakke in klaskamers instroom en dakteëls wat afval.

“Daar is twee loopbrûe by die skool wat uitmekaarval. Daar is groot krake in die brûe. Daar was in 2016 reeds ’n ingenieur wat ondersoek by die skool ingestel het. Hy het toe al gesê daar moet dringend ingegryp word.”

Sedertdien word een van die loopbrûe by die skool met steierpale gestut.

Die skool het alle klasse behalwe dié van sy matrieks gestaak omdat die gebou onveilig is.Foto: Diaan Vivier

“Ná die tragedie by die Hoërskool Driehoek het die beheerliggaam besluit hulle kan nie die kinders se lewe verder in gevaar stel nie. Ons het besluit tot hiertoe en nie verder nie,” sê Botha.

Die beheerliggaam het ’n vergadering met ouers gehou oor die gevare by die skool, waarna hulle besluit het om die skool te sluit totdat die onderwysdepartement gehoor gee aan hul eise.

“Die skool is nou al drie weke gesluit. Die gr. 12’s gaan egter voort met skool omdat hul jaar baie kort is en daar nie later tyd is om op te vang met die werk nie.”

Botha sê ontevrede ouers het Donderdag saam met die beheerliggaam na die Gautengse onderwysdepartement se hoofkantoor gegaan om ’n memorandum met hul bekommernisse te oorhandig.

“Terwyl ons nog daar was, het hulle reeds ’n inspekteur na die skool gestuur.”

Botha sê ’n vergadering is Vrydagoggend met amptenare van die departement gehou waar daar besluit is om onmiddellik veiligheidsmaatreëls te tref.

Die departement het glo belowe dat die loopbrûe dié naweek tydelik beveilig sal word. Daarna sal ’n kontrakteur aangestel word om dit te herstel.

Volgens Botha sal die skool Maandag weer voortgaan met klasse indien die departement sy belofte nakom om die loopbrûe die naweek te beveilig.

Die skool sal Maandag vanaf 08:00 tot 16:00 voortgaan met klasse sodat die kinders kan opvang met die werk wat hulle die afgelope drie weke verloor het.

’n Loopbrug word gestut.Foto: Diaan Vivier

Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse onderwysdepartement, het bevestig die departement het Vrydagoggend met die skoolbestuur vergader. Mabona sê bouwerk om die skool te beveilig sal op die laatste op 27 Februarie begin. 

“Ons vra die gemeenskap om saam met ons te werk. Ons is ook bekommerd oor die uitdagings rakende infrastruktuur.”

Hy sê die departement werk onverpoos om dié kwessie by skole op te los.

Mabona het vroeër aan News24 gesê die departement kyk op die oomblik na alle skole wat probleme met infrastruktuur aangemeld het.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), het Vrydag gesê die tragedie waarin vier leerlinge dood en 20 beseer is toe ’n loopbrug by die Hoërskool Driehoek meegegee het, is net die oortjies van die seekoei.

“Ons het foto’s gesien van loopbrûe by skole wat amper erger lyk as wat die Hoërskool Driehoek s’n gelyk het.”

Hy sê skole ontvang nie genoeg geld van die regering af om behoorlike instandhoudingswerk te doen nie.

“Die probleme wat ons nou met infrastruktuur ervaar, is weens 20 tot 30 jaar se verwaarlosing.”

’n Deel van die gebou is afgesper.Foto: Diaan Vivier

* Die beheerliggaam van die Hoërskool Overvaal sê dié skool, wat volgens dieselfde bouplanne as die Hoërskool Driehoek gebou is, is veilig.

Frik Roets, voorsitter van die skool se beheerliggaam, sê hoewel die planne dieselfde is, verskil die boustyl.

“Die loopbrug by die Hoërskool Overvaal is ’n ander struktuur as die een by die Hoërskool Driehoek.”

Roets sê die skool het die Saterdag ná die tragedie by die Hoërskool Driehoek struktuur-ingenieurs gevra om ondersoek in te stel na sy struktuur.

Volgens Roets het die ingenieurs die strukture by die skool veilig verklaar.

“Ons het elke hoek en draai by die skool nagegaan en ons het geen probleme nie.”

Leerlinge is tuis weens vrese vir nog ’n brugtragedie.Foto: Diaan Vivier
Die skoolgeboue.Foto: Diaan Vivier
Dele van die skool is steeds afgesper.Foto: Diaan Vivier
Die Ennerdale Secondary School.Foto: Diaan Vivier
So lyk ’n loopbrug by die skool.Foto: Diaan Vivier
Die gebou kort ’n verflaag.Foto: Diaan Vivier
Van die dakteëls is ook nie in ’n goeie toestand nie.Foto: Diaan Vivier

Meer oor:  Ennerdale  |  Panyaza Lesufi  |  Brugtragedie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.