Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Nog ’n juffrou van Schweizer dalk geskors

’n Tweede graad R-onderwyseres van Laerskool Schweizer-Reneke kan dalk geskors word nadat ’n foto wat wys hoe swart en wit leerlinge apart sit op sosiale media ’n rassestorm ontketen het.

Schweizer-Reneke
Ouers kom haal hul kinders ná skool by die Laerskool Schweizer-Reneke, waar daar tans ’n rasseherrie woed.Foto: Deaan Vivier

’n Onderwyseres is reeds Donderdag hangende ’n ondersoek geskors nadat ’n ooreenkoms tussen die skoolbeheerliggaam en die departement van opvoeding en sportontwikkeling in Noordwes bereik is.

Hoewel dit nie haar klaskamer was nie, is sy steeds gevra om haar pos te ontruim.

Freddy Sepeng, die departement se woordvoerder, het Vrydag aan Netwerk24 gesê die onderwyser is geskors omdat sy die foto geneem het.

“Sy moes geweet dat wat sy sien verkeerd is,” het Sepeng gesê.

Sy het intussen uit vrees vir haar eie veiligheid die dorp verlaat.

’n Vriend van haar en die pa van een van die kinders in die klas sê sy en haar gesin het te midde van al die bohaai vir eers na ’n ander bestemming vertrek.

“Die ouers is baie ontsteld omdat sy glo weens politieke redes gebrandmerk is, maar sy is heeltemal onskuldig,” sê die pa.

Hy is ook omgekrap omdat die beheerliggaam nie meer gedoen het om die onderwyseres te verdedig nie.

Die ouers is baie ontsteld omdat sy glo weens politieke redes gebrandmerk is, maar sy is heeltemal onskuldig.

Jozeph du Plessis, skoolbeheerliggaamvoorsitter, het nie op navrae oor besonderhede oor die skorsing gereageer nie.

Die pa sê die onderwyseres in beheer van die betrokke klas is ’n uitstekende leerkrag, wat juis baie moeite met die swart kinders doen.

“Die hele ding word uit verband geruk om sekere politieke persepsies te pas. Dit het niks met apartheid te doen nie. Die swart kinders is vir die oomblik eenkant geplaas omdat hulle nie Afrikaans of Engels magtig is nie, sodat sy spesiale aandag aan hulle kan gee.”

Sepeng het bevestig dat beweringe teen die tweede onderwyseres ook ondersoek word. ’n Verslag sal na verwagting Maandag aan Sello Lehari, LUR vir onderwys en sportontwikkeling in Noordwes, oorhandig word.

Lehari sal dan besluit of daar teen die tweede onderwyseres en die skoolhoof opgetree gaan word.

Die laerskool was Vrydag oop, maar die meeste ouers het besluit om nie hul kinders skool toe te stuur nie uit vrees vir hul veiligheid.

Dit kom nadat betogers Donderdag op die skool toegesak het en angsbevange ouers hul kinders deur ’n gat in ’n palissadeheining gaan haal het.

Baie van die kinders het gehuil en is glo getraumatiseerd ná die voorval, het verskeie dorpsmense, wat anoniem wou bly, vertel.

Netwerk24 het met verskeie mense in die eens rustige plattelandse dorp gepraat.

Almal wou anoniem bly.

Sê jy iets, dan word dit uit verband uitgeruk.

“Sê jy iets, dan word dit uit verband uit geruk. Môre kom mense ook na jou toe en vra hoekom jy dit vir die koerante gesê het,” het ’n vrou gesê.

“Ons wil nie eintlik praat nie, want ons wil hê dinge moet weer rustig raak. Ons wil nie nog meer moeilikheid veroorsaak nie,” sê sy.

’n Ander dorpenaar het gesê die gemeenskap wonder of daar nie dalk meer agter die foto skuil nie. “Dit maak ’n mens bekommerd, want die kinders is klein. Jy wil hulle leer om verdraagsaam te wees teenoor mekaar wanneer hulle klein is.”

Volgens dié man is dit sleg dat daar die afgelope week oor die land heen oor hul dorp berig word. Hy het gesien hoe die dorp se naam byna oral op sosiale media verskyn.

Intussen berig RSG dat nóg ’n skool in Noordwes onder bewerings van rassisme deurloop. Klasse by die Hoërskool Stilfontein is Vrydagoggend ontwrig toe swart ouers en leerlinge buite die skool betoog het en die bestuur van rassisme beskuldig het. Volgens die betogers het swart en wit leerlinge ewe swak gevaar, maar slegs wit leerlinge is na die volgende grade deurgesit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.