Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Nog nie alle onnies terug by skole

Nie alle onderwysers kon Maandag al terugkeer skool toe nie en daar is steeds kommer oor of onderwysers en skole teen volgende week gereed sal wees om leerlinge te ontvang.

Verskeie onderwysersvakbonde is skepties of die departement van basiese onderwys betyds beskermende klere en toerusting aan skole sal kan verskaf.

Paul Colditz

“Ons praat van meer as ’n miljoen leerlinge wat na verwagting Maandag sal terugkeer skool toe,” het Paul Colditz, voorsitter van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), Maandag aan Netwerk24 gesê.

Skole in die land het in Maart, voordat die nasionale staat van inperking afgekondig is, gesluit.

Colditz is veral ook bekommerd oor meer afgeleë skole en of die departement hulle betyds sal bereik.

“Die Vrystaat, Limpopo en die Oos-Kaap is van die provinsies wat ons nie verwag dadelik gereed sal wees nie,” het Colditz gesê.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het verlede week aangekondig dat gr. 7’s en matrieks op 1 Junie terugkeer skool toe. Sy het gesê die tyd van 25 tot 29 Mei moet gebruik word om skole gereed te maak om leerlinge in ’n veilige omgewing te kan ontvang. Dit sluit in behoorlike waterverskaffing, toegang tot basiese higiëne en sanitasie en die verkryging van skerms en makers.

Dit is juis dié verkryging wat ’n uitdaging geword het.

Volgens Basil Manuel, uitvoerende direkteur van die onderwysersvakbond Naptosa, het verskeie provinsies KwaZulu-Natal se voorbeeld gevolg en nie Maandag al onderwysers gevra het om terug te keer nie.

Noordwes se skole het personeel gevra om Woensdag terug te kom, terwyl KwaZulu-Natal sal wag tot Vrydag.

Die raad van onderwysministers, onder leiding van Motshekga, het Maandag toegegee dat daar skole is wat nie beskermende toerusting ontvang het nie.

“Vordering met die skoonmaak van skole en aflewering van beskermende toerusting word gemaak,” sê die raad egter in ’n verklaring.

’n Finale verslag sal Donderdag ingedien word waarin die vordering en oorblywende uitdagings uiteengesit sal word.

Dit sal ’n groot uitdaging wees vir skole om wel Vrydag gereed te wees.

Die raad was egter bekommerd dat inbrekers verlede week twee skole in KwaZulu-Natal se voorraad van beskermende toerusting gesteel het. In Soweto is twee mense glo deur die plaaslike gemeenskap vermoor nadat hulle glo probeer het om by skole in te breek.

“Dit sal ’n groot uitdaging wees vir skole om wel Vrydag gereed te wees,” het Chris Kloppers, uitvoerende direkteur van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), gesê.

SAOU het reeds ’n vraelys opgestel sodat skole teen Donderdag kan laat weet wie die nodige hulpmiddele ontvang het.

Colditz en Kloppers sê ook die vakbonde sal ’n wakende oog moet hou oor enige bykomende regulasies.

“Dit is ’n gegewe dat nuwe en behoorlike regulasies afgekondig moet word, minstens voor Donderdag, sodat almal weet wat om te doen en leerlinge sowel as onderwysers goed beskerm is,” sê Colditz.

Motshekga se departement het teen Maandag nie op verskeie navrae reageer nie.

Gauteng

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, het Maandag gesê die provinsie sal ouers bystaan wat eerder hul kinders met onderliggende gesondheidsprobleme tuis wil hou.

Aanlyn leermateriaal sal beskikbaar gemaak word vir dié leerlinge.

Die provinsie “wil nie hê ouers moet voel hulle kinders moet om hierdie redes dan eerder hul skooljaar herhaal nie”.

Colditz herinner ouers daaraan dat hulle wel hul kinders sal moet registreer as tuisskoolleerlinge.

“Ouers moet ook mooi dink hieroor, want indien jou tuisonderrig nie so goed is nie, sal jou kind wel die jaar moet herhaal. Skole kan ook net soveel help hiermee; daar kan nie verwag word dat elke skool ingerig moet wees om leerlinge met tuisonderrig te kan help nie,” sê Colditz.


Limpopo

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) het Maandag skole in Limpopo besoek om hom te vergewis van die gereedheid van skole om gr. 7’s en matrieks oor ’n week te ontvang, berig Marietie Louw-Carstens.

Victor Mavhidula, voorsitter van die MRK in Limpopo, sê hy sal eers na afloop van die besoeke kan sê wat die tekortkominge is. Die MRK het nieregeringsorganisasies genader om hom te help met die ondersoek na die gereedheid van skole in die provinsie.

Intussen het verskeie skoolhoofde Sondag by die departement van onderwys se kantore in Polokwane inligtingsessies oor die koronavirus bygewoon.

Gideon Petzer, hoof van die Laerskool Pietersburg-Oos, sê amptenare van die departement het onder meer vir hulle gewys hoe om ’n termometer te gebruik.

Dié skool het 38 liter ontsmettingsmiddel gekry, wat vir onderwysers en die skool se administratiewe personeel bedoel is.

Petzer sê hulle wag nog vir maskers en die skool gaan glo slegs een termometer kry.

“Dit gaan ’n uitdaging wees as ons die een termometer vir al 1 250 leerlinge moet gebruik.”

160 gr. 7-leerlinge sal volgende Maandag hul klasse by die skool hervat.

“Daar is ’n positiwiteit onder die personeel dat ons met die skooljaar kan aangaan,” sê Petzer.

AfriForum het die Laerskool Pietersburg-Oos sowel as die Laerskool Pietersburg gedurende staat van inperking ontsmet.

Elmarie Craig, woordvoerder van die Hoërskool Pietersburg (PHS) in Polokwane, sê die skool het 52 liter ontsmettingsmiddel by die departement van onderwys gekry. “Ons wag nog vir maskers en termometers. Die skool is op ons eie onkoste ontsmet.”

Die SAUK berig daar is geen lopende water by die Dikgopeng Primary School in Ga-Dikgale buite Polokwane nie. Die skool het ook steeds net puttoilette.

Die onderwysersvakbond Sadou in Limpopo het Sondag ’n beroep op sy lede gedoen om nie terug te keer na skole nie. Luidens ’n verklaring van Sadou het die departement van onderwys nog “te min” gedoen om te verseker dat onderwysers nie die koronavirus sal opdoen wanneer die skole heropen nie.


Meer oor:  Skole  |  Paul Colditz  |  Onderwysers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.