Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Nog nie plek vir 23 000 in Gauteng se oorvol skole

Meer as 23 000 leerlinge moet nog ’n plek kry in Gautengse skole vir 2019, maar meeste van dié skole is reeds vol.

Panyaza Lesufi, LUR van onderwys in Gauteng. Foto: Trevor Kunene

“Die Gautengse onderwysdepartement bevestig sy toewyding daartoe om 23 644 leerlinge te plaas teen die sperdatum van 31 Oktober 2018,” lui ’n verklaring wat Sondagoggend deur dié departement uitgereik is.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, sê egter meeste skole is reeds vol en dat alle leerlinge nie by hul skool van keuse geplaas gaan word nie.

Luidens die verklaring is daar sowat 1 500 leerlinge wat per distrik nog geplaas moet word en die distrikte met die grootste getal ongeplaaste leerlinge is Tshwane-Suid en Ekurhuleni-Noord.

Buiten die leerlinge wat nie geplaas is nie, is altesame 21 094 leerlinge heeltemal uit die sisteem verwyder. “Hulle het nie die relevante dokumente ingedien nie. Dié leerlinge sal in ’n latere stadium oorweeg word,” lui die verklaring.

Boonop het 5 974 leerlinge hul plek in skole verloor omdat hulle nie plasings aanvaar of afgekeur het nie. Dié plekke is dan aan ander leerlinge aangebied.

Onderwyskenners is dit eens dat daar nie genoeg skole in Gauteng is om die vlaag leerlinge wat jaarliks na dié provinsie stroom, te akkommodeer nie.

“As ’n mens kyk na die toevloei van leerlinge na Gauteng in die afgelope tien jaar, sal jy sien dat daar ’n tekort van sowat 400 skole in die provinsie is,” sê Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas).

Volgens Colditz word meeste skole gebou om 750 tot 780 leerlinge te akkommodeer. “Dit word uitgewerk volgens die getal klaskamers, ablusiegeriewe en die terrein van die skool self. In sommige van dié skole is daar reeds ver oor die 1 000 leerlinge.”

Hy sê skole wat hoog in aanvraag is, is reeds oorvol. “Sulke skole kry tot 900 aansoeke, waar hulle slegs plek het vir byvoorbeeld 147 leerlinge.”

Skole in die townships kan klasse van tot 70 leerlinge bevat.

Colditz sê dié probleem is as gevolg van jare lange versuim as dit kom by die beplanning om nuwe infrastruktuur op te rig. Hy sê Lesufi moet volle verantwoordelikheid aanvaar vir dié swak beplanning.

Mugwena Maluleke, hoofsekretaris van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou), stem saam dat die bestaande skole nie die getal leerlinge kan hanteer nie.

“Skole in die townships kan klasse van tot 70 leerlinge bevat.”

Hy sê die onderwysdepartement probeer sy bes om nuwe skole te bou. “Die departement kan nie byhou met die hoeveelheid mense wat na die provinsie stroom nie.”

Volgens Colditz kan ouers appelleer daarteen indien hul kinders nie in die skool van hul keuse geplaas word nie.

Maluleke sê ouers kan die distrikskantoor nader indien hul kinders in skole geplaas is wat buitensporig ver geleë is.

“Kinders moet in skole geplaas word wat naby aan hul ouers is. Ouers moet daartoe in staat wees om hul kinders te ondersteun en hulle kan dit nie doen as die kinders in skole is wat te ver weg is nie.”

Meer oor:  Panyaza Lesufi  |  Gauteng  |  Onderwysdepartement  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.