Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Nuwe NWU-statuut dalk einde van die naam Pukke
Die hoofgebou op die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus. Foto: Cornél van Heerden

Die Noordwes-Universiteit (NWU) met sy drie kampusse is nou een en die Potchefstroom-kampus is nie meer ’n Afrikaanse kampus waar anderstalige studente net bloot “geduld” word nie.

Só het prof. Johannes Froneman, woordvoerder van prof. Dan Kgwadi, die NWU se visekanselier, gesê nadat die nuwe statuut waaraan die universiteit vir drie jaar gewerk het, goedgekeur is.

Prof. Johannes Froneman, woordvoerder van prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die Noordwes-Universiteit.Foto: Cornél van Heerden

“Die logiese implikasies van die statuut is om ’n eenheid te wees en nie drie afsonderlike kampusse nie,” het Froneman gesê.

Op ’n vraag oor of die naam Puk gaan wegval, het hy gesê: “Die vraag het nog nie opgeduik in forums nie. Die logiese gevolg van die nuwe statuut gaan ons wel in oënskou moet neem en nuwe antwoorde moet verskaf.”

Froneman het verder gesê hulle het al gepraat oor die moontlikheid dat sportspanne as die NWU gaan deelneem.

Volgens hom moet egter nog gesprekke gevoer word oor die gebruik van die naam Puk.

Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding, het die statuut onderteken, die NWU-raad het dit aangeneem en dit is Vrydag in die Staatskoerant gepubliseer.

Froneman sê egter die taalbeleid het nie verander nie.

“Die toepassing van die taalbeleid was nog altyd soepel en met inagneming van die veranderende omstandighede. So doen ons dit steeds. Daarom het ons ’n jaar of wat gelede reeds meer parallelmediumklasse begin aanbied sodat Engelssprekende studente gemakliker kan studeer,” sê Froneman.

Hy sê die NWU kyk steeds na hoe hy die taalaanbod “soepel kan aanpas” om van die NWU se Potchefstroom-kampus ’n plek te maak wat meertaligheid bevorder en “waar studente uit alle agtergronde tuis kan voel”.

Prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die Noordwes-Universiteit. Foto: Cornél van Heerden

“Dit geld natuurlik ook vir die ander twee kampusse (Mafikeng en Vaaldriehoek). Ons erken dus die reg van Afrikaanse studente om in Afrikaans se studeer. Ons visekanselier het dit sedert sy aanstelling by herhaling gesê. Niks daaraan het verander nie.

“Maar die NWU Potchefstroom is nie meer ’n Afrikaanse kampus waar anderstalige studente maar geduld word nie. Ons verwelkom al ons studente en voorsien dat die Engelssprekende komponent geleidelik groter sal word.”

Hy sê daar is geen sprake dat Afrikaanse studente weggewys sal word om plek te maak vir Engelssprekendes nie.

“Ons het nie ons toelatingsvereistes om demografiese of ander nieakademiese redes aangepas nie.”

Dié nuwe statuut behels ook dat die drie kampusse as besigheidseenhede wegval.

“Die fokus is nie meer op ’n maroen Puk- of blou Mafikeng- of groen Vaaldriehoekkampus nie, maar die vakgroepe en skole wat onder hul onderskeie fakulteite met ’n enkele uitvoerende dekaan sal funksioneer.”

Froneman sê dit is hoe ’n akademiese eenheidskultuur bevorder sal word en die universiteit se verskeidenheid versterk sal word.

Die hart van die NWU sal nou sy agt fakulteite wees, wat oor kampusse heen sal funksioneer.

“Die studente is ook besig om mekaar te ontdek en ondersteun oor en weer mekaar se sportaktiwiteite. Wanneer die NWU wen, wen almal. En saam is ons spyt oor ’n nederlaag. As een van ons studente Mej. Suid-Afrika word, is dit ons almal se vreugde,” sê Froneman.

Die NWU ondersoek ook nou hoe hy sy korporatiewe identiteit (die huidige blou, groen en maroen vir afsonderlike kampusse) vorentoe gaan aanpas ten einde ’n “nuwe realiteit te weerspieël”.

Daar is egter nog geen besluit oor die nuwe korporatiewe identiteit geneem nie, sê Froneman.

“Die feit is dat ons reeds ’n enkele span het wat studente werf. Ons bemarkingsmateriaal weerspieël ook reeds hierdie benadering.”

Wat verloor die Potchefstroomse kampus?

Daar moet nog gesprekke gevoer word oor die gebruik van die naam Puk. Daar is nog geen besluit oor die nuwe korporatiewe identiteit geneem nie.
Prof. Johannes Froneman, woordvoerder van prof. Dan Kgwadi

Die Potchefstroom-kampus gaan soos gewoonlik voort met die aanbied van akademiese programme, sê Froneman. “Sommige uitvoerende dekane sal op Potchefstroom gesetel wees, ander nie. Waar daar nie ’n uitvoerende dekaan teenwoordig is nie, sal daar ’n adjunkdekaan wees. Waar ’n skooldirekteur elders gesetel is, sal daar ’n adjunkdirekteur wees.”

Hy sê daar sal geen gapings in die leierskap wees nie en sal as ’n instelling van eenheid funksioneer.

Die aanstellings wat hierdie struktuur ’n werklikheid sal maak, volg later vanjaar.

“Ons glo dat ons die eise van die tyd beter sal kan hanteer. Ons sal saam ons standaarde handhaaf, want daar is nie meer die opsie om ’n program op een kampus te laat akkrediteer en nie op ’n ander nie.

“Hierdie benadering van ouds hou groot risiko in en is nie volhoubaar nie. Ons is een NWU en gaan nou as sodanig funksioneer.”

Volgens Froneman leef ons in ’n meertalige land “vol verskillende kulture en godsdienste, geskiedenisse en belewings van die werklikheid om ons”.

“ ’n Goeie universiteit skep geleenthede om van mekaar te leer om saam te leef. Dit is wat die NWU toenemend gaan doen. So dien ons die land en sy mense.”

Lees statuut hier.

Prof Dan Kgwadi oor die nuwe statuut.

Meer oor:  Nwu  |  Johannes Froneman  |  Kampusse  |  Eenheid  |  Pukke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.