Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Skooldrag: Angie verheug oor ooreenkoms

Skooluniforms is ’n “gelykmaker” wat kinders uit minder gegoede omstandighede baie verleentheid kan spaar.

Daarom is Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, verheug oor ’n nuwe ooreenkoms tussen die Mededingingskommissie en verskeie beheerliggaam-organisasies wat gesonde mededinging oor die verskaffing van skooluniforms wil verseker.

“Ons kan nie net skooluniforms afskaf nie. Enigiemand wat uit ’n arm omgewing kom, kan getuig van die waarde van ’n skooluniform. Gewone klere is ’n groot probleem, want dit is ’n maatskaplike aanwyser,” sê Motshekga.

“As jy die skooluniform wegneem, sal dit vir kinders wys wie kom uit ’n ryk gesin wat ontwerpersklere kan koop. Kinders is sensitief, as hulle nie dieselfde klere het nie, is dit vir hulle ’n verleentheid.”

Tembinkosi Bonakele, kommissaris van die Mededingingskommissie, het Maandag ’n memorandum van verstandhouding met die Stigting vir Beheerliggame (GBF), die Nasionale Vereniging van Skoolbeheerliggame (NASGB), die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) en die Nasionale Vereniging van Gespesialiseerde Onderwys (Sanase) onderteken.

Ons kan nie net skooluniforms afskaf nie. Enigiemand wat uit ’n arm omgewing kom, kan getuig van die waarde van ’n skooluniform. Gewone klere is ’n groot probleem, want dit is ’n maatskaplike aanwyser.

Juané van der Merwe, bestuurder van Fedsas se regsdienste, sê die ooreenkoms is gesluit om teenmededingende gedrag tydens die verkryging van skooluniforms en ander items, veral persoonlike beskermende toerusting, te bekamp.

“Skoolbeheerliggame mag verskaffingsooreenkomste of kontrakte met diensverskaffers aangaan, maar hierdie ooreenkomste is aan die Mededingingswet onderhewig. Voorraad mag byvoorbeeld eksklusief verskaf word deur ’n winkel of ’n vervaardiger wat dan aan een of meer plaaslike handelaar verskaf. Die koste van die uniform of ander items mag egter nie ’n onbekostigbare finansiële las op ouers plaas nie,” sê sy.

Fedsas adviseer skole oor die aankoop van goedere en dienste en het reeds in 2018 ’n protokol van samewerking met die Mededingingskommissie gesluit om gesonde mededinging te verseker. Dié ooreenkoms is hersien en deur Maandag se ooreenkoms vervang.

“In terme van die memorandum van verstandhouding kom Fedsas en die kommissie ooreen om mekaar by te staan en te ondersteun, en om mekaar in te lig van optrede wat indruis teen die beginsels van die Mededingingswet wat ouers kan benadeel. Die partye sal ook aktief die beginsels van die Mededingingswet bepleit waaraan skole moet voldoen,” sê Van der Merwe.

Sy sê onderwys is ’n basiese mensereg en die koste om ’n openbare skool by te woon mag kinders nie verhoed om toegang tot gehalteonderrig te kry nie.

“Dis ons plig om toe te sien dat die koste van ’n skooluniform, skryfbehoeftes en persoonlike beskermende toerusting nie toegang tot onderwys belemmer nie.”

Luidens ’n verklaring deur die departement van basiese onderwys en die Mededingingskommissie het die memorandum ten doel om die mededingingsbeleid oor die verkryging van skooluniforms en ander onderrigverwante goedere en dienste te versterk.

Die kommissie is sedert 2010 met klagtes oorval dat skole eksklusiewe ooreenkomste met verskaffers vir skooluniforms sluit. Die ooreenkomste is dikwels sonder deursigtige mededingende prosesse voorafgegaan en sodoende is ander verskaffers verminder of uitgesluit. Dit lei dan tot opgeblase pryse.

Tydens die koronaviruspandemie het die kommissie meer klagtes gekry omdat sommige skole vereis dat leerlinge spesifieke Covid-19-verwante items moet koop, wat gesigmaskers, handreinigers en tegnologiese toestelle insluit.

Van die riglyne wat die kommissie nou vir skole uitgereik het, is dat skooluniforms so generies as moontlik moet wees sodat dit by verskeie verskaffers gekoop kan word. Skole moet verkieslik meer as een verskaffer aanwys om meer opsies aan ouers te bied en eksklusiewe items moet beperk word. Eksklusiewe ooreenkomste met verskaffers moet tot ’n periode van drie tot vyf jaar beperk word en mededingende prosesse moet gevolg word om dié verskaffers aan te stel.

Meer oor:  Fedsas  |  Angie Motshekga
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.