Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Nuwe rektor weet hoe om te lei
Prof. Francis Petersen

Prof. Francis Petersen, die nuwe rektor van die Universiteit van die Vrystaat (UV), is dalk nie so charismaties soos sy voorganger nie, maar volgens ’n oudkollega weet hy hoe om te lei.

Petersen, die adjunkvisekanselier van institusionele innovasie aan die Universiteit van Kaapstad, is die afgelope week deur die UV-raad gekies om prof. Jonathan Jansen op te volg.

Jansen beklee sedert September ’n genootskapspos by die sentrum vir gevorderde studie en gedragswetenskappe aan die Stanford-Universiteit in Amerika.

“Francis is nie die tipe wat die heeltyd met ’n mening in almal se gesigte is nie,” sê prof. Harro von Blottnitz van die Universiteit van Kaapstad se departement van chemiese ingenieurswese, waar Petersen voorheen die dekaan was.

“Hy is ’n goeie luisteraar en het baie geduld. Die uitdagings wat hy erf as hy in die Vrystaat aankom, sal hy hanteer soos hy dinge altyd doen: deur ’n goeie span rondom hom te hê en aandag te gee aan die basiese beginsels van hoe om ’n organisasie te lei.”

Von Blottnitz sê Petersen het ’n formidabele navorsingskultuur opgebou by die Kaapse Skiereiland- Universiteit vir Tegnologie se departement van chemiese ingenieurswese.

“Hy het baie kennis van die Suid-Afrikaanse wetenskapslandskap. Hy verstaan die dinamika van groot organisasies en is goed daarmee om die beste uit mense te kry,” sê Von Blottnitz.

Petersen was saam met prof. Lis Lange, viserektor: akademies by die UV, in ’n tweestryd vir die rektorspos.

Regter Ian van der Merwe, voorsitter van die UV-raad, het in ’n verklaring gesê die hoër onderwyssektor is die afgelope paar maande “deur ’n moeilike en uitdagende tyd” en die universiteit is dankbaar om ’n leier soos Petersen aan sy stuur te kan plaas.

Petersen het in ’n verklaring wat deel gevorm het van sy aansoek vir die pos gesê dit is belangrik om die ligging van die UV in Suid-Afrika en die vasteland te begryp, om die uitdagings vir nou en die toekoms binne dié konteks te besef en om die universiteit se fokus te verskerp om ’n meer inklusiewe, akademies uitmuntende instelling te word, ingesluit in ’n kultuur van innovasie.

“Die akademiese projek moet fokus op ’n unieke ervaring van onderrig vir elke UV-student, die versterking in die koers waarby studente deur toegewyde akademiese ondersteuning, kurrikulumverandering en hernuwing in akademiese programme deurgeplaas word.”

  • Petersen het die grade BIng (Chem), MIng en PhD aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Hy was voorheen uitvoerende hoof van strategie by Anglo Platinum en president van navorsing en ontwikkeling by Mintek.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.