Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Nuwe US-taalbeleid bekend gestel

Die Universiteit Stellenbosch (US) sal Saterdag sy hersiene taalbeleid beskikbaar stel sodat “belangstellendes” kommentaar daarop kan lewer.

Die beleid word elke vyf jaar hersien en die US sê die nuwe beleid is gegrond op die een wat in 2017 in werking gestel is.

’n Brief aan oudstudente Vrydag lui: “Aangesien die konstitusionele hof in 2019 bevind het dat die 2016-taalbeleid grondwetlik geregverdig is en dat die universiteit se proses om die beleid te aanvaar ‘deeglik, uitvoerig, inklusief en behoorlik beraadslagend was’, is die huidige beleid as vertrekpunt vir die hersieningsproses gebruik.”

Die konsepbeleid sal Saterdag op die US se webtuiste geplaas word en mense sal tot 12 April kans hê om insette daaroor te lewer. Daar sal ook ’n tweede geleentheid wees om deel te neem.

Kommentaar op die eerste konsep van die hersiene beleid kan slegs ingedien word op ’n digitale platform wat op die US se taalwebblad beskikbaar is.

Die US wil op 2 Desember vanjaar ’n finale konsep van die 2021-taalbeleid aan die universiteitsraad voorlê vir goedkeuring.

Die huidige taalbeleid lui: “Afrikaans en Engels is die US se leer- en onderrigtale. Die US ondersteun die akademiese gebruik van hierdie tale deur ’n kombinasie van leergeleenthede vir studente, wat insluit lesings, tutoriale en praktika, sowel as leerondersteuning deur middel van inligtings- en kommunikasietegnologie.”

Volgens dié beleid sal voorgraadse modules aangebied word in aparte lesings in Afrikaans en Engels, “waar dit redelikerwys uitvoerbaar en pedagogies verantwoordbaar is om meer as een klasgroep te hê”.

Vir voorgraadse modules waar albei tale in dieselfde klasgroep gebruik word, word alle inligting in minstens Engels oorgedra, en word opsommings of beklemtoning van inhoud ook in Afrikaans voorsien. Vrae wat in Afrikaans en Engels gestel word, kan minstens in die taal van die vraag beantwoord word.

Alle verpligte leesstof vir voorgraadse modules word in Engels voorsien, behalwe waar die module oor die taal self handel. Dit word ook in Afrikaans voorsien “tensy dit nie redelikerwys uitvoerbaar is nie”.

Vraestelle vir toetse, eksamens en ander assesserings in voorgraadse modules is in Afrikaans en Engels beskikbaar. Studente mag alle assesserings beantwoord en alle geskrewe werk indien in Afrikaans of Engels.

Oor taalgebruik in koshuise, wat onlangs omstredenheid veroorsaak het, lui die beleid: “In koshuise en ander leefomgewings word taal op so 'n wyse gebruik dat, waar dit redelikerwys uitvoerbaar is, geen belanghebbende uitgesluit word van deelname aan enige formele aktiwiteite in hierdie omgewings nie.”

Die US-senaat het Vrydagmiddag op ’n vergadering ’n voorstel aanvaar dat afgewyk word van die US se taal-implementeringsplanne.

Gegewe die snelle verengelsing van onderrig die afgelope vyf jaar, twyfel ons of so ’n besluit tydelik sal bly.

Die omstrede afwyking bepaal glo dat nuwe kursusse wat in 2021 aangebied word in die eerste semester slegs in Engels aangebied word. Netwerk24 kon nie ’n afskrif van die voorstel voor druktyd in die hande kry nie.

Voorheen is berig hierdie voorstel is ter tafel gelê “weens die Covid-19-pandemie en die geweldige druk op dosente, wat betref onder meer noodafstandsonderrig”.

Die US het volgehou dat die afwyking ’n tydelike maatreël in die eerste semester sal wees, maar die Afrikaanse Taalraad meen dat dit nie lank sal wees voordat dit die norm word nie.

“Gegewe die snelle verengelsing van onderrig die afgelope vyf jaar, twyfel ons of so ’n besluit tydelik sal bly,” sê Conrad Steenkamp, hoof van die Afrikaanse Taalraad, en Danie van Wyk, voorsitter van die DAK-netwerk, in ’n verklaring wat ook deur 64 ander mense onderteken is.

“Ons vermoed die argument dat daar nie genoeg tyd vir vertaling in Afrikaans is nie sal gebruik word om ’n praktyk van slegs Engels ook gedurende die daaropvolgende semesters deur te druk. Dit sal vinnig die nuwe praktyk word.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.