Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Nuweland dalk studenteverblyf

Die ikoniese Nuweland – die oudste rugbystadion in die land – kan onder meer in woonstelle omgeskep word wat verblyf aan meer as 1 000 studente sal verskaf, wys ’n vertroulike dokument van die ontwikkelaar.

Ruhan Straeuli

Dis nie net die stadion wat gaan verdwyn nie. Luidens die dokument, wat die ontwikkelaar geheim wil hou, maar waarvan Rapport ’n kopie bekom het, word verskeie eiendomme in die area wat aan die rugbyunie behoort ook vir moontlike ontwikkeling geteiken.

Die rugbystadion word luidens die dokument toegewys vir ’n moontlike R2 miljard-ontwikkeling wat ’n “opvoedkundige fasiliteit vir gemengde gebruik” sal insluit.

Volgens dié planne sal die ikoniese rugbyveld – waar toetsrugby sedert 1891 gespeel is – onder beton verdwyn wanneer die stadion platgeslaan word vir wat die ontwikkelaars ’n “possible massing concept” noem. Dié konsep word later in gewone taal verduidelik: behuising vir 1 250 studente asook ander kampusgeriewe.

Daar word ook melding gemaak van ’n kleinhandel-en-sakeontwikkeling en parkeerplek vir meer as 1 000 motors.

‘Dit is nie ons finale planne nie.’

Die ontwikkeling vorm deel van die omstrede vennootskap wat die WP Rugbyunie met die Flyt Eiendomsgroep gesluit het en waarvolgens die unie ’n kontantinspuiting van R112 miljoen van Flyt ontvang om sy lenings by Remgro en Investec te kan aflos.

Die lening van Flyt moet oor vier jaar teen primakoers terugbetaal word. In ruil daarvoor het die WP-unie al sy eiendom as sekuriteit aangebied.

Die ooreenkoms met Flyt volg nadat die unie se president, Zelt Marais, vroeër weggestap het van ’n soortgelyke ontwikkelingsooreenkoms met die bankreus Investec. Investec oorweeg dit om hof toe te gaan oor die kwessie.

Verskeie eiendomsontwikkelaars het destyds aan Rapport gesê die Flyt-ooreenkoms hou groter risiko in vir die WP as die een met Investec, terwyl dit ’n “droom” vir die ontwikkelaar is.

Die oorspronklike Flyt-ooreenkoms het net melding gemaak van die ontwikkeling van twee eiendomme wat aan die rugbyunie behoort – die Nuweland-stadion en ’n eiendom by Brookside.

Uit die prospektus in Rapport se besit blyk dit Flyt het sy oog op veel meer as net dié twee eiendomme. Nog vyf eiendomme wat aan die stadion grens en wat saam net meer as 24 000 m2 beslaan, word ook toegewys vir “moontlike ontwikkelingsinsluiting”.

Dit sluit die gebou in wat die Universiteit van Kaapstad se sportwetenskap-instituut huisves, Mill-huis en tuin, die Dulwich- parkeergebied (wat aan die Liesbeekriver grens) en verskeie eiendomme in Kelvinweg (die straat net agter die Pickard-pawiljoen).

Die ontwikkelaar kan hom vasloop weens die feit dat ’n paar eiendomme in die gebied wat aan die Mill-huis grens deur erfeniswetgewing beskerm word.

Flyt se besturende direkteur, Zane de Decker, het die afgelope week benadruk dat die brosjure nie hul finale planne verteenwoordig nie en Rapport gevra om nie die dokument te publiseer nie. Hy het gesê in die dokument word dit duidelik gemaak dat dit nie gereproduseer of versprei mag word sonder Flyt se uitdruklike toestemming nie.

“Ons behou ons regte voor indien u verkies om hierdie dokument te publiseer sonder ons uitdruklike toestemming,” het De Decker gewaarsku.

“Ons is nog in die vroeë stadiums om verskillende ontwikkelingsopsies te beoordeel. Dit is ’n lang proses wat ’n rukkie sal duur,” aldus De Decker.

“Sodra daar op ’n voorkeurroete besluit is sal ons alle belanghebbendes in kennis stel en die formele regteaansoekfase begin.”

Marais, wat die ooreenkoms met Flyt reeds herhaaldelik as “die transaksie van die eeu” beskryf het, het aan Rapport gesê die projek is nog in ’n baie vroeë stadium van ontwerp en beplanning “wat die oorweging van verskillende opsies vir die erf insluit”.

Hy het gesê hulle sien uit na hul vennootskap met Flyt wat talle voordele vir spelers en klubs sal ontsluit en “WP-rugby na nuwe hoogtes neem”.

Meer oor:  Zane De Decker  |  Kaapstad  |  Nuweland  |  Flyt  |  Stadion
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.