Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
NWU wys Steve weg

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het Vrydag ’n stokkie gesteek voor een van sy Potchefstroomse koshuise se plan dat Steve Hofmeyr daar kom optree.

Die Patria-manskoshuis. Steve Hofmeyr se optrede in Julie by die vyfde jaarlikse Patria July-fees is gekanselleer.

Hofmeyr sou oor ’n maand ’n gaskunstenaar gewees het by die Patria-manskoshuis se vyfde jaarlikse Patria July-fees by die Snowflake-mark.

Maar toe die universiteit van die koshuis se plan hoor, is die konsert summier gekanselleer.

Louis Jacobs, die NWU se direkteur van korporatiewe kommunikasie, sê Hofmeyr se beeld en uitsprake pas nie by dié van die universiteit nie.

“Hoe kan die opruiende dinge wat Steve die afgelope tyd kwytraak, strook met die inklusiewe spasie wat ons hier by die NWU probeer bou?”

Hy sê die universiteit het dadelik gereageer toe hulle van die beplande vertoning bewus raak. “Ons regsafdeling het hom per e-pos, faks en ’n geregistreerde brief in kennis gestel van die kansellasie.”

Steve Hofmeyr Foto: Deon Raath

Hy sê hulle sal steeds die kontrak eerbiedig. Hofmeyr kry dus steeds sy geld, maar presies hoeveel dit is, wil Jacobs nie sê nie.

Patria het verlede Woensdag aangekondig Hofmeyr is een van die kunstenaars wat by die Patria July sou optree. Die bekendstellingsvideo daaroor op Patria July se Facebook-blad was Vrydag nie meer daar nie.

’n Inwoner van die koshuis het op voorwaarde van anonimiteit aan Rapport gesê die optredes word maande vooruit beplan, maar hy is nie ontevrede met die universiteit se besluit nie.

“Ons as koshuis en universiteit kan ons nie vereenselwig met die negatiwiteit nie,” het hy gesê.

’n Ander inwoner sê egter hy is vies.

“Die koshuis het reeds einde verlede jaar met Steve begin onderhandel. Die kontrak vir die vertoning is vroeg vanjaar onderteken.

“Dis deur die regsdienste goedgekeur en deur die NWU-bestuur onderteken.

“Hoe kan hulle dan nou maak asof hulle eers hierdie week van sy vertoning bewus geraak het?”

Jacobs ontken dit.

“Ek kan jou waarborg die studente het nie die regte kanale gevolg om die bespreking te maak nie,” sê hy.

Hofmeyr en sy agent het nie op enige van Rapport se oproepe of boodskappe reageer nie.

Die koshuisbestuur probeer nou ’n nuwe kunstenaar in Hofmeyr se plek kry. Almero en Appel tree ook op by die geleentheid.

Hofmeyr het ’n moeilike jaar gehad. Eers het die organiseerders van die Ghoema-musiekpryse op aandrang van hul hoofborg, Multi­Choice, geweier dat hy vir ’n prys in aanmerking kom.

Daarna het MultiChoice besluit om nie meer enige beeldmateriaal van Hofmeyr uit te saai nie.

In Maart het die Emerald-casino in Vanderbijlpark die Afrikaans in die Vaal-konsert waar Hofmeyr en Refentse wou optree “om veiligheidsredes” gekanselleer.

Toyota, MTN en Coca-Cola het ook hul borgskappe aan die Afrikaans is Groot-konserte onttrek te midde van omstredenheid oor Hofmeyr se deelname daaraan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.