Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Blade bekommerd oor NSFAS-studente geld vir drank gebruik

Dit is kommerwekkend dat studente wat kontant van die NSFAS kry vir die aankoop van handboeke en ander leermateriaal dit eerder vir drank en allerhande ander dinge gebruik, sê dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, wetenskap en tegnologie.

Nzimande het Donderdag op ’n mediakonferensie gesê sy departement en die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) is gereed vir 2020 se akademiese jaar.

Dr. Blade NzimandeFoto: NICO GOUS

Hy het bekend gemaak dat die NSFAS 359 037 aansoeke vir finansiële steun vir studente goedgekeur het.

Hierdie aansoekers sluit in matrikulante van verlede jaar, gr. 10- en gr. 11-leerlinge en nie-skoolgaande jeugdiges wat hul studies aan TVET-kolleges wil voortsit, asook terugkerende studente wat nie voorheen NSFAS-finansiering ontvang het nie.

Nzimande het bygevoeg dat die 26 universiteite vanjaar net 201 042 eerstejaarstudente sal kan akkommodeer. Geen instap-aansoekers sal toegelaat word nie.

Instap-aansoekers sal wel by TVET-kolleges gehelp word.

Sy departement se ontleding wys dat 453 157 voornemende studente aansoek gedoen het om vanjaar by universiteite te studeer en 90 111 by sulke kolleges.

Hy het gesê kwalifiserende NSFAS-studente hoef ook nie registrasiegeld te betaal nie.

Dr. Randall Carolissen, NSFAS-administrateur, het gesê dat die hulpskema vanjaar tot R35 miljard sal uitbetaal om die tersiêre studies van studente uit veral arm en werkersklas-huishoudings te finansier.

Volgens die NSFAS-webtuiste kry studente R5 000 per jaar vir boeke.

Die Alliance for Academic Success (AAS) het Donderdag in ’n verklaring gesê hy het aan Nzimande geskryf om duidelikheid te kry of daar weer in 2020 kontant uitbetaal sal word.

Die NSFAS het verlede jaar van boekkoopbewyse na kontanttoelaes omgeskakel.

Die AAS verteenwoordig ’n groep verskaffers van akademiese boeke.

“Ná die beleidsverandering verlede jaar het dit duidelik geword dat studente nie hul voorgeskrewe handboeke koop nie. Boekverkope het in 2019 met meer as R500 miljoen, 40% in die boekbedryf en tot 91% op universiteitskampusse, gedaal vergeleke met 2018.

“Die grootste afnames was op kampusse met die hoogste persentasie studente wat deel van die NSFAS is, veral by landelike en histories benadeelde instellings wat die minister as sy prioriteite aangedui het.

“Klein, medium- en makro-ondernemings, opkomende boekwinkels en drukkers is die ergste deur die beleidsverandering getref, met baie wat moes sluit of personeel aflê,” het Mohamed Kharwa, AAS-sameroeper, in hul verklaring gesê.

Nzimande het gesê hy het ook baie klagtes van bekommerde ouers en ander belanghebbendes gekry.

Ons hoor allerhande stories. Oor hoe van die studente die geld onder meer vir drank gebruik.

“Ons hoor allerhande stories. Oor hoe van die studente die geld onder meer vir drank gebruik.

“Dit is iets wat ons voortaan moet monitor en selfs navors. Ons stem almal saam dat studente volwassenes is, maar as hulle nie die kontant gebruik vir hul eie opvoeding nie, waarvoor dit bedoel is, gaan ons later groot probleme as ’n land hê.”

Hy het bygevoeg dat iets gedoen moet word sodat NSFAS-geld nie misbruik word nie.

Volgens Nzimande sal hy die kwessie veral met studente- en jeugorganisasies bespreek.

Carolissen het bygevoeg dat die NSFAS van die koopbewys- na kontantstelsel oorgeskakel het omdat dit ’n “slegte stelsel en praktyk” was wat monopolieë vir sekere boekverkopers geskep het.

Volgens hom gebruik sekere universiteite ook reeds van die kontanttoelaes om skoot- of tabletrekenaars vir studente aan te koop, waarop leermateriaal gelaai word.

Carolissen het gesê daar is ook voortdurend gesprekke met universiteitshoofde en ander om te verseker dat die geld reg aangewend word.

Meer oor:  Nsfas  |  Dr. Blade Nzimande  |  Bekommerd  |  Studente  |  Drank  |  Kontant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.