Die departement van onderwys in die Oos-Kaap het te midde van groeiende druk dat skole landwyd eerder moet toe bly, erken dat van die 5 000 skole in die provinsie nog nie gereed is om Maandag te heropen nie.
Die Menseregtekommissie het Donderdag in ’n verklaring gesê hy het Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, gevra dat skole liefs gesluit moet bly.
Motshekga het onlangs aangekondig dat gr. 7- en gr. 12-leerlinge op 1 Junie agter die skoolbanke sal inskuif.
Ná die aankondiging moes die onderwysdepartement spartel om voorsiening te maak sodat leerlinge in dié twee grade veilig kan terugkeer skool toe.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys. Foto: Argief
Terwyl die departement Vrydag nog geswyg het oor presies hoeveel skole in die Oos-Kaap se 12 distrikte wel gereed is, werk sowat 200 plaaslike diensverskaffers onverpoos om beskermende drag en watertenks by skole af te lewer.
Volgens Themba Kojana, hoof van die onderwysdepartement in die Oos-Kaap, is een van die knelpunte rondom die heropening van skole dat beskermende drag en handreinigers nog nie by al die skole afgelewer is nie.
In sommige streke is die aflewering van beskermende kleredrag 91% afgehandel en in ander streke net 4%.
Kojana het bevestig dat die skole wat teen Maandag nog nie hul besending ontvang het nie, eers moet heropen nadat hulle dit ontvang het.
Honderde skole in die provinsie sit ook sonder water en sanitasiegeriewe.
Fundile Gade, LUR vir onderwys, sê 756 skole gaan watertenks ontvang ingevolge ’n vennootskap met die nasionale departement van water en sanitasie en Rand Water.
Volgens Gade is 480 van die tenks Vrydag na verskeie skole gestuur. Die res word op 2 Junie afgelewer.
Wat matrikulante betref, gaan die departement die kontaktyd tydens die skooldag verleng.
“Tablette vir matriekleerlinge sal die akademiese aanbieding in die provinsie ’n hupstoot gee. Dit sal leermateriaal op hê wat leerlinge sal help om hul akademiese doelwitte te bereik,” sê Gade.
Na verwagting sal daar op 8 Junie met die uitdeel van 55 000 tablette begin word.
Leerlinge wat Maandag skool toe gaan, se koors sal geneem word voordat hulle die skoolterrein betree.
Altesame 20 000 werklose mense is in die provinsie aangestel om die siftingsprosesse by skole te hanteer en 900 leerlinghelpers gaan onder meer administratiewe hulp bied.