Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
O-Kaap hoor Maandag of hy mikpunt vir matrieks haal

Die Oos-Kaapse onderwysdepartement sal Maandag weet of hy sy mikpunt vir ’n 80%-slaagsyfer in die matriekeindeksamen behaal het.

Die uitslae vir 2020 se matriekklas, wat weens die koronaviruspandemie hul skooljaar onder ongekende omstandighede moes voltooi, word Maandag deur Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, bekend gemaak.

Fundile Gade, LUR vir onderwys in die Oos-Kaap, sal Dinsdagmiddag die provinsie se 2020-matriekuitslae op ’n nuuskonferensie by die Mandla Makhupula-instituut in Oos-Londen bespreek.

Fundile Gade, LUR vir onderwys in die Oos-Kaap. Foto: Argief

Op dieselfde nuuskonferensie het Gade verlede jaar gesê die Oos-Kaap mik daarna om oor sowat twee jaar ’n plek in die toptien-streke in die land met sy matriekuitslae te behaal.

Vir die provinsie se 2020-matriekklas was sy doelwit ’n 80%-slaagsyfer, nadat die provinsie reeds twee jaar agtereenvolgens die beste vordering in sy matriekslaagsyfer tussen die provinsies aangeteken het.

Die 2019-matriekklas se slaagsyfer van 76,5% was ’n groot sprong vanaf die vorige jaar se 70,6%.

Die Oos-Kaap se 2018-matriekklas het ook gesorg dat die provinsie vir die eerste keer in meer as vyf jaar nie laaste in die land was nie, maar wel voorlaaste.

Hoewel die Oos-Kaapse onderwysdepartement nie Sondag voor Motshekga se aankondiging wou kommentaar lewer nie, het Gade wel in ’n verklaring gesê ondanks die stryd waarin die 2020-matriekklas gewikkel was, het hulle die departement se verwagtinge oortref.

“Hierdie klas moes twee dinge bestuur – Covid-19 en hul akademiese toewyding– iets wat nog nooit voorheen op skool ervaar is nie.

“Ons is ook nederig oor die veerkragtigheid wat ons onderwysers steeds toon,” sê Gade in sy verklaring.

Intussen heers groot opgewondenheid oor die matriekuitslae in Port Elizabeth by die Hoërskool Pearson waar die dux-leerling deur die minister uitgenooi is na Maandag se nasionale prysuitdeling en aankondiging van die uitslae.

Volgens Hela Roux, skoolhoof, is dit ’n eerste vir die skool.

“In 2019 het die skool ’n 99,6%-slaagsyfer gehad, met slegs een leerling uit die 230 matrikulante wat nie geslaag het nie.

“Ons matriekklas kan vir seker nog beter as verlede jaar s’n vaar, ten spyte van die Covid-19-uitdagings. Ons is baie trots op ons matrikulante se werkywer en hul vinnige aanpassing by aanlyn onderrig en onderbrekings in die jaarprogram. Hul het bewys dat hulle enige uitdaging met mannemoed kan aandurf en die beste daarvan kan maak.

“Ons onderwysers het ook die spreekwoordelike ekstra myl gestap om te verseker ons kinders is gereed vir enige uitdaging.”

In Port Elizabeth se noordelike voorstede is Keith Buck, skoolhoof van die Sanctor High School, hoopvol op ’n 85%-matriekslaagsyfer, teenoor die vorige jaar se 74%.

Buck sê hulle sal vanjaar voortbou op die lesse wat gedurende die pandemie geleer is, en fokus op die skep van ’n positiewe leergebied vir die leerlinge.

“Wanneer die leerlinge en onderwysers positief en gemaklik voel met die skool se leer-omstandighede, sal hul toewyding outomaties volg.

“Ons het vanjaar ’n baie groot matriekklas. Uit ons 256 gr. 11-leerlinge het 16 gedruip. Met die bykomende leerlinge het ons nou ’n matriekklas van 242 leerlinge.”

Pieter Steyn, skoolhoof van die Hoër Landbouskool Marlow wat net buite Cradock geleë is, sê hoewel daar noodgedwonge afgewyk moes word van die normale ritme van die akademiese jaar, glo hy dat die impak hiervan minimaal behoort te wees en Marlow se uitslae steeds aan die normale hoë verwagtinge sal voldoen.

“Die toewyding van die onderwysers wat te midde van die pandemie buite hul gemaksone die klaskamer na ’n aanlyn platform verskuif het, behoort die deurslag hier te gee. Met die geleidelike heropening van die skole deur die loop van die jaar en die ander grade wat net om die beurt in die klaskamers kon wees, was die gr. 12-leerlinge deurlopend by die skool waar hulle onverpoos kon voortgaan met hul voorbereidings.”

Die Brandwag Hoërskool in Uitenhage het in 2019 ’n 98%-slaagsyfer gehad, waarvan 69,5% met toelating tot graadstudie geslaag het. Steven Zietsman, skoolhoof, sê ondanks die unieke uitdagings van 2020 glo hy dat Brandwag se personeel die matrieks so goed vir die eindeksamen voorberei het as gedurende enige ander jaar. “Ons vertrou dat ons matrieks na die beste van hul vermoë presteer het.”

Colin Bartle, die Hoërskool Despatch se skoolhoof, sê hy sien daarna uit om die uitslae te ontvang en het vertroue dat die matrieks suksesvol sal wees. “Dit was in alle opsigte ’n uitdagende jaar met vele ontwrigtings, maar ek is oortuig daarvan dat ons leerlinge goed voorbereid was vir die eksamen. Ons personeel het alles in hul vermoë gedoen om deur die sillabus te kom en werklik die ekstra myl gestap.”

Meer oor:  Oos-Kaap  |  Matrieks2020  |  Uitslae  |  Slaagsyfer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.