Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
OB moet Lesufi bekyk, vra IRV

Die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) wil hê adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), moet onreëlmatige uitgawes ten bedrae van R1,2 miljard deur die Gautengse onderwysdepartement ondersoek.

Die IRV het Woensdag in ’n verklaring gesê hy het ’n klagte by die OB se kantoor in Johannesburg aanhangig gemaak om onder meer onreëlmatige uitgawes wat die departement in die 2018-’19-boekjaar aangegaan het, te ondersoek.

“Die IRV het die OB vandag (Woensdag) genader om moontlike ondoeltreffende uitgawes en wanadministrasie onder Panyaza Lesufi, die LUR vir onderwys, te ondersoek en om regstellende stappe te oorweeg,” lui die verklaring.

Lesufi het verlede maand gereageer op vrae in die provinsiale wetgewer deur Khume Ramulifho, die DA in Gauteng se woordvoerder oor onderwys, wat aan die lig gebring het dat die departement onreëlmatige uitgawes van R1,2 miljard in die 2018-’19-boekjaar aangegaan het as gevolg van tenderonreëlmatighede.

Die IRV wil ook hê Mkhwebane moet die departement se digitale inhoud- en aanlyn assesseringsplatform, gdecontent.co.za, ondersoek.

Die IRV het die OB vandag (Woensdag) genader om moontlike ondoeltreffende uitgawes en wanadministrasie onder Panyaza Lesufi, die LUR vir onderwys, te ondersoek en om regstellende stappe te oorweeg.

Die IRV sê dié webwerf het “verskeie tekortkominge”. Hy meen dit kan dui op verdere “ondoeltreffende uitgawes en wanadministrasie van hulpbronne”.

“Onder dié (onreëlmatighede) is die webwerf se gebrek aan HTTPS-protokol ten opsigte van privaatheid- en data-integriteit, uitleg-elemente wat daarop dui dat oopbron- en gratis leerbestuurstelsels gebruik is en dat verouderde oopbron-platformbedienersagteware gebruik is,” sê die IRV.

Die IRV het bygevoeg dat Mkhwebane ook Lesufi se hantering van die Gautengse skooltoelatingskrisis moet bekyk, waar ouers ’n stryd voer om vir die 2020-skooljaar plek vir hul kinders in skole te kry.

“In die onlangse dae was sosiale en nuusmedia vol stories en foto’s wat ouers wys wat beangs is weens die onvermoë van mnr. Lesufi se departement om die bevredigende plasing van kinders vir 2020 te verseker. Dit is niks anders as ’n skande nie,” sê die IRV.

Steve Mabona, Lesufi se woordvoerder, het in reaksie op die IRV se klagte die organisasie beskuldig van opportunisme in sake wat niks met hom uit te waai het nie. “Hy wil voortgaan met sy roekelose gedrag wat die DA op rassegronde verdeel het en nou wil hy wit skole streng buite perke hou vir ander Suid-Afrikaners,” sê Mabona.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.