Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Oekraïense meisie wen Afrikaanse spelkompetisie

Daryna Anatoliivna Levanets kon nie ’n woord Afrikaans praat toe sy op vyfjarige ouderdom by die Rep en Roer-kleuterskool in Potchefstroom aangekom het nie.

Dasha Levanets die afgelope naweek ná haar eerste plek in die ATKV se Spelathon. Foto: Des Janse van Rensburg
Netwerk24Foto: Des Janse van Rensburg

Haar pa, Anatoliy Levanets, en ma, Oksana, albei postdoktorale studente, het toe pas uit hul geboortestad Kiëf (in Oekraïne) na Suid-Afrika gekom om by die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus te werk.

Vandag is Daryna Anatoliivna Levanets sommer net Dasha en so vlot in Afrikaans dat sy pas die ATKV se Spelathon vir gr. 10 tot 12 leerlinge in die kategorie Afrikaanse Eerste Addisionele Taal gewen het.

Dasha, ’n matriekleerling aan die Hoërskool Ferdinand Postma in Potchefstroom, het kort ná haar prestasie die afgelope naweek aan die organiseerders gesê sy is nog geskok omdat sy nie verwag het om so goed te presteer nie, maar ook “baie bly”.

Dasha was nie Dinsdag vir kommentaar beskikbaar nie. Sy het egter kort ná die kompetisie die volgende oor haar liefde vir Afrikaans gesê: “Daar is so baie mense wat Afrikaans praat. Dit is nie net ’n manier om te kommunikeer nie, maar dra ook kultuur en erfenis oor. Dis ’n fassinerende en kultuurryke taal.”

Dasha het in ’n onderhoud in Augustus vanjaar aan die Potchefstroom Herald vertel tydens haar ouers se aankoms in Suid-Afrika kon sy net Oekraïens en Russies praat. Sy was aanvanklik onseker en ongemaklik in die Afrikaanse gemeenskap en kleuterskool, maar binne ses maande het sy Afrikaans begin verstaan en ’n bietjie begin praat. Dit het haar omtrent vier jaar geneem om die taal op dieselfde vlak as haar portuurgroep te kon praat. Tuis praat die gesin steeds net Russies.

Dasha is die voormalige Dux-leerling van haar skool en spog met ’n gemiddeld van 90,5%. Sy is ook ’n ywerige leser, veral van Engelse letterkunde. Levanets is deesdae ’n lektor in plantkunde aan die NWU en Oksana werk as ’n biochemikus by ’n plaaslike onderneming.

Dasha neem al die afgelope vier jaar aan die ATKV se Spelathon deel, berig die Potchefstroom Herald. Sy is nog onseker wat sy volgende jaar gaan studeer, maar oorweeg rigtings soos forensiese rekeningkunde en dataontginning.

Meer oor:  Potchefstroom  |  Oekraïne
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.