Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Ogod: Skole gaan nie appelleer nie
Paul ColditzFoto: Nelius Rademan

“Die jagseisoen is nou oop,” sê Hans Pietersen van die Organisasie vir Godsdiensteonderrig en Demokrasie (Ogod), nadat die ses skole wat hy vroeër vanjaar voor die hof gedaag het besluit het om nié aansoek te doen om teen die uitspraak oor godsdiens in skole te appelleer nie.

Die skole het tot Vrydag tyd gehad om aansoek te doen tot verlof om appel teen die uitspraak van die hooggeregshof in Johannesburg dat openbare skole nie een geloof voor ’n ander mag stel nie.

Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê hy beskou die uitspraak as “regverdig en billik”.

Pietersen sê Fedsas het ná die uitspraak skriftelik gesê dit is “sake soos gewoonlik” vir die skole.

“Nou is die eier op hul gesig.”

Pietersen sê die skole het nie aansoek gedoen om te appelleer nie, omdat hulle nie ’n nuwe verskoning gehad het om ’n appèl te regverdig nie, “of hulle wou nie die risiko loop vir ’n strenger uitspraak nie”.

Colditz sê hy gaan nie reageer op Pietersen se “onsinnige kommentaar” nie.

“Dit is allesbehalwe die waarheid,” sê Colditz.

Hans PietersenFoto: Felix Dlangamandla

Hy sê Fedsas is tevrede met die uitspraak en hy stem saam met die regter se stelling dat diversiteit gevier moet word eerder as om dit “bloot te verdra”.

“Dit is van toepassing op meer as net godsdiens.”

Colditz sê dit is wel steeds “sake soos gewoonlik” vir die skole: “Geringe aanpassings is nodig om aan die bevel te voldoen.”

Pietersen sê hulle gaan die klagte teen die skole wat die uitspraak oortree vaartbelyn maak.

“Ons hoef nou nie jare te wag om die skole te vervolg wat ’n spesifieke geloof bevorder nie.

* Ogod wou hê die hooggeregshof in Johannesburg moes die Laerskool Randhart in Alberton, die Laerskool Baanbreker in Boksburg, die Laerskool Garsfontein in Pretoria, die Hoërskool Linden in Johannesburg, die Hoërskool Oudtshoorn en Langenhoven Gimnasium in Oudtshoorn se godsdiensbeleid ongrondwetlik verklaar.

Dié skole het hulself met die Christelike geloof verbind.

* Die minister van basiese onderwys, die minister van justisie en korrektiewe dienste, en die Nasionale Vereniging van Skoolbeheerliggame was saam met dié ses skole respondente in die saak.

Meer oor:  Paul Colditz  |  Hans Pietersen  |  Fedsas  |  Ogod
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.