Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Om Afrikaans te verbied is verkeerd, sê US

Dit is verkeerd om studente aan te sê om nie Afrikaans in sosiale verband te gebruik nie, sê die Universiteit Stellenbosch (US).

“Dit is ook verkeerd as studente onder druk geplaas word om nie Afrikaans te gebruik in ’n kursus met spesifikasies wat wel vir Afrikaans voorsiening maak nie. Dit is nie ons beleid nie; dit is nie veronderstel om te gebeur nie,” sê die US.

Dit kom nadat die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) Woensdag in ’n verklaring geëis het dat die US dit onomwonde stel dat studente toegelaat sal word om in koshuise in die taal van hul keuse te kommunikeer.

Die SAOU het verwys na bewerings vroeër vanjaar dat studente in sommige koshuise verbied is om Afrikaans te praat en selfs om in Afrikaans te sing.

Dit is nou die onderwerp van ’n ondersoek deur die Menseregtekommissie.

Net ná dié voorvalle het die US aan Netwerk24 gesê die “gees en bedoeling” van sy taalbeleid is waarskynlik verkeerd geïnterpreteer en toegepas op ’n manier wat nie met die doelstelling van die beleid en sy waardes strook nie.

Die SAOU sê: “Sulke ‘verkeerde interpretasies’ moet aan die kaak gestel word en onomwonde gekorrigeer word ten einde nie die geloofwaardigheid van die beleid te ondergrawe nie”.

Dit is ook verkeerd as studente onder druk geplaas word om nie Afrikaans te gebruik in ’n kursus met spesifikasies wat wel vir Afrikaans voorsiening maak nie. Dit is nie ons beleid nie; dit is nie veronderstel om te gebeur nie.

Die unie sê ’n taalbeleid is “van weinig waarde as diegene wat dit moet implementeer, dit opsetlik of onwetend verkeerd interpreteer en uiteindelik die beginsels soos vervat in die beleid, self oortree”.

“Verder kan inklusiwiteit nie deur uitsluiting bereik word nie,” sê die SAOU. “Al sou dit maklik wees om ander tale ter wille van inklusiwiteit te belet, kan ’n mens eenvoudig nie die stelselmatige uitsluiting van Afrikaans aanvaar of regverdig nie.

“Afrikaanse leerlinge was en is steeds ’n baie belangrike bron van studente vir die universiteit. SAOU-lede, skole, leerders en ouers sal ’n onomwonde respons van die universiteit waardeer.”

Die universiteit het Woensdag op die SAOU-verklaring gereageer en aan Netwerk24 gesê: “Die US stem saam dat verkeerde interpretasies reggestel moet word en dit is wat die US doen. Ons het reeds te kenne gegee dat, in sekere kringe ten tye van die verwelkomingsperiode, dinge nie reg geloop het wat betref taal in koshuise nie.

“Die US het ook ’n onafhanklike ondersoek begin na die bewerings dat ’n beleid van slegs Engels in sekere koshuise gevolg is.”

Dié ondersoek, deur die ouditfirma Deloitte, is nog nie afgehandel nie.

“Die US stem ook saam met die SAOU dat taal ‘een van die mees emosioneel gelaaide onderwerpe in Suid-Afrika is’ én dat dit ’n komplekse balanseertoertjie is om ’n ‘gebalanseerde en billike benadering te vind wat deur alle partye aanvaar kan word,” lui die US se respons.

“In teenstelling met soveel ander universiteite in Suid-Afrika, het die US reeds geruime tyd terug meertaligheid gekies,” sê die US.

“Ons het dit gekies omdat ons as instelling rekening hou met die diversiteit van ons samelewing – wat ons taaldiversiteit insluit – asook die intellektuele rykdom wat in daardie diversiteit opgesluit lê.”

Die US sê Afrikaans het oor dekades heen ’n akademiese repertoire ontwikkel “waartoe die US beduidend bygedra het en steeds bydra”.

“Die toepassing en verryking van die akademiese potensiaal van Afrikaans is ’n manier om ’n groot en diverse gemeenskap in Suid-Afrika te bemagtig. Hiertoe bly die US ook verbind.

“Die US bly verbind tot die gebruik van Afrikaans tesame met Engels as onderrigtale in die konteks van inklusiwiteit en meertaligheid.”

In teenstelling met soveel ander universiteite in Suid-Afrika, het die US reeds geruime tyd terug meertaligheid gekies.

Die US sê hy bevestig ook dat Afrikaanse leerlinge altyd ’n belangrike bron van studente vir die universiteit was en steeds is. “Die US is dit eens met die SAOU dat inklusiwiteit nie deur uitsluiting bereik kan word nie.”

‘Afrikaans is inheems’

Die SAOU het ook in sy verklaring verwys na die verandering aan die departement van hoër onderwys en opleiding se definisie van inheemse tale in sy jongste taalbeleidsraamwerk vir openbare hoëronderwysinstellings.

Dié beleidsraamwerk definieer “inheemse tale” as “tale wat hul ontstaan in Afrika het en tot die suidelike Bantoe- taalfamilie behoort.”

Die definisie lui dan verder: “ ’n Inheemse taal is ’n taal wat inheems aan ’n streek of land is en deur inheemse mense gepraat word.”

Die SAOU bestempel dié definisie as “werklik problematies” en sê dit blyk dat Afrikaans uitgesluit is en nie as inheemse taal erken word nie.

“Dit strook nie met die voorgestelde definisie van inheemse tale nie, behalwe dat Afrikaans nie onder die ‘Suidelike Bantoe-taalfamilie’ val nie.

“Dit kan nooit gestel word dat Afrikaans enigiets anders as ’n inheemse Suid-Afrikaanse taal is nie. Afrikaans word nêrens anders ter wêreld gepraat nie. Om Afrikaans uit te sluit, is niks anders nie as die essensie van uitsluiting.”

Die US sê hy verwelkom die SAOU se verwysing na Afrikaans as inheemse taal.

“Die universiteit het reeds in sy terugvoering op die departement se konsepraamwerk van 2018 uitgewys dat ons die siening dat Afrikaans inheems is, sterk steun.

“Dit is ook deur die US onder die aandag van Universiteite Suid-Afrika gebring aangesien alle universiteite die implikasies van die nuwe raamwerk sal moet verreken.”

Meer oor:  Us-Taalbeleid  |  Saou  |  Afrikaans  |  Universiteit Stellenbosch  |  Taalbeleid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.