Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Onderwys ná 36 jaar steeds ’n vreugde

Volksblad het op die vooraand van Wêreldonderwysersdag, wat die Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) vandag vier, met ’n gewone, toegewyde onderwyser van Bloemfontein oor die soet en suur van dié beroep gesels. Marita Herselman doen verslag.

Dr. André Groenewald, adjunkhoof van die Laerskool Brebner in Bloemfontein. Hy het sy doktorsgraad in geskiedenis aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf. Foto: Mlungisi Louw

’n Inspireerder. ’n Akteur. Iemand wat altyd sy “cool” hou. En ’n lewenslange student van sy of haar vak. Dít is die rolle wat onderwysers in 2018 in skole in Suid-Afrika moet vervul, sê dr. André Groenewald (61), adjunkhoof van die Laerskool Brebner in Bloemfontein. Dit en meer.

“Jy moet emosioneel sterk wees, want van die kinders gaan vir jou regtig moeilikheid maak,” sê dié onderwyser in sosiale en ekonomiese en bestuurswetenskap. Hy het al 36 jaar ondervinding, werk sedert 2001 by dié skool en sien homself al as ’n “meubelstuk”.

“Jy moet maar toneelspeel. Maar partykeer raak hulle aan jou vel. Dan krap hulle jou, dat jy voel hoor hier, ek gaan ontplof.”

Hy sê dit is belangrik om kalm te bly en nie iets te doen wat later probleme kan veroorsaak nie.

Oor die jare heen ontwikkel onderwysers strategieë om situasies in die klaskamer te benader.

Nog ’n wenk is dat onderwysers moet aanhou om van hul vakgebied te leer en met die tegnologie moet byhou om die leerlinge te stimuleer.

Hy geniet ná al die jare steeds sy werk. “Hulle maak jou kwaad, natuurlik maak hulle jou kwaad, maar dis lekker,” glimlag hy.

Groenewald vermoed onderwysers se spanningsvlakke verander geweldig, weens die hoë eise wat aan hulle gestel word.

Dit is onder meer vir André Groenewald die moeite werd om in die onderwys te wees wanneer hy besef hy het ’n indruk op die leerlinge gemaak. Foto: Mlungisi Louw

“Ons sukkel om die eindresultate te bereik wat van ons verwag word. Hoewel jy jou bes probeer.”

Hy sê onderwysers het beperkte metodes om dissipline toe te pas. Jy moet versigtig wees in wat jy sê en doen.

By die Laerskool Brebner is daar byvoorbeeld ’n puntestelsel waar die leerling se oortredings aangeteken word en die ouers ingeroep word as ’n sekere punt bereik word. “Dit is ’n langer proses. Jy kan baie keer nie die probleem in die klas oplos nie.”

Hy sê hoewel daar individue is wat dié stelsel “elke keer bietjie omkrap”, is daar leerlinge wat ná ’n besoek van hul ouers bedaar het. Groenewald prys die ouers se betrokkenheid.

Dat leerlinge nie meer luister nie en die klasse lawaaierig is, is ’n algemene probleem in die onderwys. “Die geraasvlak het geweldig gestyg. En dit veroorsaak uiteindelik dat jy voel jy wil weghardloop . . .”

Jy moet maar toneelspeel. Maar partykeer raak hulle aan jou vel. Dan krap hulle jou, dat jy voel hoor hier, ek gaan ontplof.

Die onlangse geweld in skole maak hom egter bang vir die toekoms van onderwys.

Een van sy vriendinne is by ’n ander Bloemfonteinse skool deur ’n leerling met ’n mes gedreig.

“Die kind het met ’n mes na haar toe teruggekom en vir haar gesê: ‘Ek weet waar jy bly en ek gaan jou met die mes bykom.’ ”

Met haar klagtes by die hoof het hy gesê hy kan niks daaraan doen nie, omdat die kind minderjarig is.

André Groenewald bied onder meer vir gr. 7-meisies sosiale wetenskap aan. Foto: Mlungisi Louw

Groenewald wonder wat hul beskerming as onderwysers is.

“Tot waar gaan jou beskerming en jou reg, en tot waar gaan sy beskerming?”

Maar al is daar soveel uitdagings, hou die onderwys steeds groot bevrediging in.

Een manier hoe hy ’n verskil in kinders se lewe probeer maak, is om hulle op kulturele ontdekkingsreise deur die land te neem. Hy en die gr. 7-leerlinge het onlangs besienswaardighede in die Suid-Kaap besoek.

Veral bevredigend is die reaksie van leerlinge wanneer hy hulle op dié toere aan nuwe dinge bekend stel. Op dié toere sien hy ook ’n ander sy van die leerlinge – selfs moeilikheidmakers wys hier leierseienskappe.

Uiteindelik geniet hy dit om met mense te werk en die interaksie wat daarmee gepaardgaan – “as ek nie nodig gehad het om ’n klomp administrasiewerk te doen nie, sou dit utopies gewees het”.

Nog ’n riem onder sy hart is wanneer oudleerlinge hom besoek jare nadat hulle in sy klas was om te sê hy was hul gunstelingonderwyser.

Die besef dat hy op iemand ’n indruk gemaak het, maak alles vir hom die moeite werd.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.