Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Onderwysposte in die gedrang omdat baie ouers nie betaal

Die Covid-19-pandemie eis sy tol op skole se begrotings en plaas dalk selfs talle beheerliggaamsposte in die weegskaal.

Chris Klopper, president van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), het Maandag in ’n verklaring sy kommer uitgespreek oor onderwysposte wat in die gedrang gebring word omdat talle ouers nie skoolgeld betaal nie.

“Benewens die probleme wat uit die bestryding van die Covid-19 pandemie voortspruit, ervaar openbare skole groot finansiële probleme weens die feit dat talle ouers doodgewoon opgehou het om skoolgeld te betaal,” het Klopper gesê.

Volgens hom weier van die ouers om te betaal omdat skole nie ’n diens gelewer het tydens die nasionale staat van inperking nie.

Luidens die verklaring besef die SAOU terdeë die direkte verband tussen ouers se inkomstepatrone en die vermoë om skoolgeld te kan betaal.

Daar is ook “opregte begrip” vir die gevalle waar dit vir ouers onmoontlik geraak het om te betaal. “ ’n Baie ernstige beroep word nietemin op ouers gedoen om, waar moontlik, steeds skoolgeld te betaal.”

Paul Colditz
Paul Colditz Foto: Argief

Paul Colditz, voorsitter van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê volgens hul beraming is daar landwyd 150 000 mense in beheerliggaamsposte.

“Sowat 50 000 van hierdie mense is opvoeders en die ander 100 000 is nie-opvoeders.

“Potensieel is die pos van elkeen van hulle in die gedrang.”

Fedsas het reeds vroeg in April dié probleem voorsien en beheerliggame voortydig raad gegee oor hoe die skoolprogramme en begrotings aangepas moet word om voorsiening te maak vir verminderde inkomste.

“Personeel is nodig om onderrig in stand te hou en salarisvermindering en afleggings moet as heel laaste opsie oorweeg word,” het Colditz gesê.

Hy sê hy het die minister (van basiese onderwys), Angie Motshekga, vroegtydig om hulp gevra, maar dat daar niks van gekom het nie en die provinsies wat hulp móét gee, het self nie geld nie.

Colditz raai skole af om lenings aan te gaan om salarisse te betaal.

“Dit is moeilik en nie baie wys nie.”

Hy sê hoewel hy begrip het dat die betaling van skoolgeld vir baie ouers moeilik is om te verstaan, is dit ’n statutêre verpligting.

“Dis soos belasting en of jy nou die diens kry of nie, moet jy steeds betaal.

“Die feit dat die gebou toe was, beteken nie dat skole ophou bestaan het nie,” sê Colditz.

Hy benadruk dat daar steeds deurlopende uitgawes is wat betaal moet word.

“Dit is ook juis in gevalle waar onderwysers afstandonderrig verskaf het, wat hulle harder as ooit tevore gewerk het.”

Basil Manuel, uitvoerende direkteur van die onderwysvakbond Naptosa, sê hulle is veral bekommerd oor nie-onderrig-beheerliggaamsposte.

“Baie skoonmakers, terreinbestuurders en sekretaresses word deur die beheerliggaam aangestel.”

Volgens Manuel is dit juis hierdie poste wat ook nou broodnodig is om die instandhouding van skole te verseker en dat al die administratiewe vereistes wat met die Covid-19-pandemie-reëls en -regulasies gepaard gaan, vlot verloop.

Dit is ook juis in gevalle waar onderwysers afstandonderrig verskaf het, wat hulle harder as ooit tevore gewerk het.

“Dit is baie kommerwekkend om te dink dat hierdie poste dalk die eerste sal wees wat gesny te word indien daar snitte aan die salarisrekening gemaak word.”

Gys Coetzee, hoof van Hoërskool Voortrekker in Bethlehem in die Vrystaat, sê hulle moes die oomblik wat die nasionale staat van inperking in werking getree het, onmiddellik alle stappe doen om geld te bespaar.

Alle begrotingsitems is hertoegewys na die “kernbesigheid, wat akademie is”.

Coetzee sê hulle het ook dadelik met ’n aanlyn klasmodel begin wat dit moontlik gemaak het dat die leerlinge nog deurlopend onderrig kon ontvang, maar net op ander platforms.

“Danksy dít het ons ouers ondersteunend gebly en dit sal dus moontlik wees om ons verantwoordelikhede teenoor beheerliggaam-onderwysers te kan nakom vir die res van die jaar.

“Ek is baie dankbaar vir ’n bestuursliggaam met visie en kapasiteit,” sê hy.

Ander skole is egter nie so gelukkig nie.

Nasionale en provinsiale woordvoerders van die onderwysdepartement was nie teen druktyd beskikbaar om kommentaar te lewer oor moontlike oplossings wat die departement vir die kwessie kan hê nie.

Meer oor:  Basil Manuel  |  Chris Klopper  |  Paul Colditz  |  Poste  |  Covid-19  |  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.