Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Onderwysvoorstelle in W-Kaap wek kommer, sê EE
Debbie Schäfer, LUR vir onderwys in die Wes-Kaap.Foto: Deon Raath

Die onderwysdrukgroep Equal Education (EE) het sy kommer uitgespreek oor voorgestelde wysigings aan die Wes-Kaapse wet op skoolonderwys.

Die wysigings is deur Debbie Schäfer, LUR vir onderwys in die Wes-Kaap, voorgestel.

Die openbaredeelnameproses is nog aan die gang. Op 21 Augustus kan nog insette by die Wes-Kaapse wetgewer gelewer word.

Luidens ’n verklaring van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) is die hoofdoel van die wetsontwerp om die standaard en gehalte van onderwys in die Wes-Kaap te verbeter.

Van die groot voorgestelde wysigings sluit in:

* Om voorsiening te maak vir die sentralisasie van goedere en dienste wat met onderwys in die provinsie verband hou;

* Die regulering van die monitering en ondersteuning van die kurrikulum;

* Om voorsiening te maak vir die vestiging van saamwerkskole en vir skenkers wat openbare skole finansier;

* Om sekere toetse goed te keur wat verband hou met die toelating van ’n leerling tot ’n openbare skool vir leerlinge met spesiale onderwysbehoeftes; en

* Om voorsiening te maak vir geskrewe toestemming van ’n ouer dat ’n leerling ’n skoolaktiwiteit buite die skoolterrein mag bywoon.

EE het sy kommer uitgespreek oor onder meer saamwerkskole en skole wat deur skenkers gefinansier word

EE het sy kommer uitgespreek oor onder meer saamwerkskole en skole wat deur skenkers gefinansier word (twee nuwe soorte openbare skole waar eksterne rolspelers – ’n niewinsgewende organisasie of ’n skenker – beduidende verteenwoordiging in ’n skool se beheerliggaam kan kry).

EE sê as die voorstelle aanvaar word, sal dit die beginsels van ’n demokratiese skoolbestuur en aanspreeklikheid ondermyn. “Private entiteite wat finansiering verskaf of eiendom aan ’n openbare skool skenk, sal so te sê in staat wees om besluitnemingsmagte in skoolbeheerliggame te ‘koop’.”

Roné McFarlane, medehoof van navorsing by EE, sê dit druis teen nasionale wetgewing in.

Ons is veral bekommerd daaroor dat die wetsontwerp so vaag is.

“ ’n Skoolbeheerliggaam is ’n belangrike entiteit wat ouers en die skoolgemeenskap ’n stem gee oor hoe hul skool bestuur word en hulle die geleentheid bied om die regering verantwoordbaar te hou.

“Die voorgestelde wysigings ontneem die gemeenskap in ’n mate van daardie reg deur die staat die reg te gee om meerderheidsverteenwoordiging aan ’n private entiteit te gee.

“Ons is veral bekommerd daaroor dat die wetsontwerp so vaag is. Dit gee geen duidelikheid oor watter kriteria gebruik gaan word om ’n skool tot ’n saamwerkskool te verklaar of aan watter vereistes skenkers en bedryfsvennote moet voldoen nie.”

Nog ’n kwessie wat kommer wek, is die sogenaamde intervensiegeriewe vir leerlinge wat aan ernstige oortredings skuldig bevind word. Ook hierdie voorstel is vaag, sê EE.

“Dit is onduidelik of die hoofdoel van die intervensiegeriewe terapeutiese programme vir leerlinge met gedragsprobleme gaan bied en of die hoofdoel opleiding en onderwys gaan wees.”

Jessica Shelver, ’n woordvoerder van die WKOD, sê die openbaredeelnameproses is nog aan die gang. “Die departement sal die insette en kommentaar van die publiek en die verskillende belanghebbende partye in ag neem en ook die mening van die parlement se regsadviseur ten volle oorweeg.

“Hierna sal die departement volledig terugvoering gee aan die staande komitee, in ooreenstemming met die parlementêre proses.”

Dis te vroeg om dit nou al te doen, sê sy.

Meer oor:  Ee  |  Wes-Kaap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.