Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Onnie en leerlinge dans: ‘Kom ons vier ons verskille’
’n Skermgreep van die video wat op sosiale media geplaas is.

’n Video van 14 leerlinge van die Laerskool Vryburg en hul onderwyser wat op die skool se trappe dans op die laaste dag van die kwartaal, het honderdduisende sosiale-media-gebruikers laat lag en lekkerkry.

Die video is al meer as 530 000 keer gekyk en meer as 10 000 keer gedeel. Mense wat dit gesien het, wens alle onderwysers wil soos die een in die video wees.

Ammiël Smith
Ammiël Smith toe hy gegradueer het by NWU-Pukke.

Ammiël Smith (27), ’n sportonderwyser wat al voorheen in die nuus was toe hy op straat met sy plakkaat na sy droomvrou gesoek het, sê hy dans gereeld saam met die leerlinge in hul praktiese periodes en hy het op dié manier die passies aangeleer.

“Ek dink dit is baie belangrik dat ons ons verskille vier. Die kinders geniet dit só om te dans en ek dink dit is ’n positiewe manier om hulself te geniet,” sê Smith.

“Die video is op die laaste dag van die kwartaal geneem en almal was so opgewonde om vakansie te hou. Ek het my luidspreker aangesit en ons het begin dans. Hulle het ook baie van die liedjie gehou.”

Smith sê toe die video op die televisienuus beland, het die kinders soos bekendes begin voel.

“Hulle het die nuus by mekaar se huise gaan kyk en video’s daarvan op WhatsApp gedeel. Hulle was so bly daaroor.

“Ek hoop net nie hulle het grootkop gekry as ons teruggaan skool toe nie,” skerts Smith.

Die seun wat tydens die video uit die vullisdrom spring en sy arms swaai, het nie die beste ritme nie, sê Smith.

“Sy bene en arms het nie so lekker saamgewerk nie. Toe verbloem ons maar die onderlyf,” sê hy laggend.

Van die ander leerlinge in die video se danspassies het ook uitgestaan – veral dié van die donkerkopmeisie heel links. Op Facebook het sommige gesê sy is “ ’n nuwe” Nicki Minaj (die Amerikaanse sanger).

Ammiël Smith met drie laerskoolkinders op sy rug.

Smith werk al twee jaar by die skool, waar hy ook atletiek afrig. Al het hy aanvanklik bemarking op Potchefstroom studeer, het hy gedurende ’n uitreik na Indië besluit hy wil ’n onderwyser word.

“Ek het besef dat baie kinders net raakgesien wil word,” sê hy.

“Daar is so baie negatiewe dinge in die wêreld, ek dink iets is beslis nodig om ’n bietjie positiwiteit in hul lewe te bring.”

Smith was self ’n leerling aan dié laerskool, wat in sy kinderdae bekend gestaan het as Laerskool Stellaland.

“My onderwysers het natuurlik nie só met my gedans nie,” sê Smith met ’n glimlag.

Die byskrif van die video op Facebook was in drie tale: “Mooi loop! Take care! Tsmaya sentle!” Dit is ’n dubbelmediumskool, waar baie van die leerlinge Tswana as huistaal praat.

Smith het in 2015  opslae gemaak toe hy op ’n straathoek vir sy droomvrou gaan staan en “bedel” het.  Op die plakkaat wat hy vasgehou het, het gestaan: “Opsoek (sic) na my trouvrou. Geen ou tannies of kansvatters.”

Oor of hy toe sy trouvrou gevind het, wil hy egter nie ’n woord rep nie.

Klik hier om na die video te kyk. 

Meer oor:  Ammiël Smith
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.