Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Onnie geskors oor haar vraag op gr. 9-antwoordstel

’n Aardryksundeonderwyser aan die Southdowns College in Centurion is Dinsdag geskors hangende ’n ondersoek na ’n opmerking oor apartheid wat sy glo op ’n leerling se antwoordstel gemaak het.

Die gr. 9-onderwyseres se naam is aan Netwerk24 bekend, maar word weerhou totdat kommentaar van haar regsverteenwoordiger ontvang is.

’n Twitter-gebruiker, wat net as Tshepo bekend staan, het Maandag op Twitter gesê: “My vriend se dogter is ’n gr. 9-leerling aan Southdown College. Sy het punte verloor op ’n vraag oor ’n politieke kwessie (apartheid), omdat die onderwyseres ’n ander mening het.”

Tshepo het ’n foto van die leerling se antwoordstel saam met die plasing getwiet.

Die meisie het in haar antwoordstel geskryf ’n gebrek aan gehalteonderwys is een van die grootste redes vir armoede. Sy argumenteer dat swart kinders in die apartheidsera onderrig van ’n swak gehalte ontvang het, terwyl wit kinders beter onderrig is.

Die onderwyseres het langs die antwoord in rooi geskryf: “(Apartheid was) sowat 30 jaar gelede. Sou dit steeds ’n impak hê?”

Magalan Pather, die skoolhoof, het die onderwyseres se skorsing bevestig.

“Sy is geskors ten einde ’n ondersoekproses moontlik te maak oor ’n plasing van ’n vraestel met ’n opmerking wat sy glo gemaak het op Twitter,” sê Pather in ’n geskrewe antwoord op Netwerk24 se vrae.

Volgens die skoolhoof is die onderwyseres op 15 Oktober geskors nadat die leerlinge die toets op 3 Oktober geskryf het.

“Die skool wil bevestig dat die tugproses in ooreenstemming met die Wet op Arbeidsverhoudinge sal plaasvind. Die opmerking wat op die antwoordstel verskyn, is teen ons waardes en oortuigings,” sê Pather.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê die skool se optrede maak dit vir goeie onderwysers bykans onmoontlik om skool te hou.

“Hulle moet die hele tyd fyntrap in ’n rassemoeras. Op die oog af het dié geval niks met die onderwyseres se rassevooroordele te doen nie, maar alles met ’n rasbehepte samelewing,” sê Hermann.

“Sosiale media word die nuwe reg. Sonder om die onderwyseres te betrek word sy op sosiale media aangekla, verhoor en skuldig bevind.

“Elana Barkhuizen het gewys hoe gevaarlik dit is om gevolgtrekkings net op grond van sosiale media te maak.”

Barkhuizen, ’n laerskoolonderwyseres van Schweizer-Reneke, is vroeër vanjaar ook weens beweerde rassisme geskors.

’n Foto wat sy in ’n gr. R-klas by die laerskool geneem het waarop wit en swart kinders apart sit, is op sosiale media gedeel. Dié foto het tot ’n rasseherrie gelei, maar dit het gou geblyk dat die kinders op grond van taaloorwegings geskei was.

Solidariteit het regshulp en ondersteuning aan Barkhuizen verleen. Solidariteit is egter nie betrokke by die skorsing van die onderwyseres aan Southdowns College nie.

Meer oor:  Centurion  |  Onderwys  |  Onderwyser
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.