Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Onnie vas oor seksklagte

’n Onderwyser van die Augsburg Landbougimnasium in Clanwilliam is in hegtenis geneem op ’n aanklag van seksuele aanranding nadat hy verlede week na bewering ’n leerling by dié skool, waar hy in diens was, betas het.

Sers. Noloyiso Rwexana, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, sê die saak is geopen nadat ’n 16-jarige seun na bewering verlede Woensdag seksueel aangerand is.

Volgens die polisie word die verdagte glo in verband met ’n soortgelyke saak in Witbank gesoek.

“Die 47-jarige verdagte is in hegtenis geneem en sal Maandag in die landdroshof in Clanwilliam verskyn, waarna hy na Witbank vervoer sal word,” het Rwexana gesê.

Die Augsburg Landbougimnasium Foto: Facebook

Volgens ’n bron na aan die ondersoek het die 16-jarige onmiddellik die voorval aangemeld nadat die onderwyser hom glo onbehoorlik seksueel betas het.

“Daar is onmiddellik stappe teen die onderwyser geneem.”

’n Internetsoektog wat glo deur die jong slagoffer uitgevoer is, het volgens ouers in Clanwilliam die onderwyser se duistere agtergrond ontbloot.

“Die seun het op die polisielasbrief afgekom wat gewys het dat sy onderwyser glo in Witbank gesoek word vir ’n voorval wat op 14 September 2018 omstreeks 05:00 plaasgevind het toe ’n ander jong slagoffer seksueel aangerand is terwyl hulle op ’n visvanguitstappie was.

’n Lasbrief is op 4 Februarie 2020 deur die landdroshof in Emalahleni uitgereik in dié saak.”

Kerry Mauchline, woordvoerder van Debbie Schäfer, LUR vir onderwys, het by navraag die voorval bevestig en gesê dit is by die Wes-Kaapse onderwysdepartement aangemeld en dat ’n ondersoek uitgevoer sal word.

“Die onderwyser is ’n beheerliggaam-aanstelling en is onmiddellik geskors. Die maatskaplike werker en skoolsielkundige sal die nodige ondersteuning en berading aan die leerling gee.”

Intussen het die nuus oor die onderwyser se inhegtenisname ’n opskudding op Clanwilliam veroorsaak.

Ouers was diep geskok om te hoor oor die voorval en dat daar ’n lasbrief vir die onderwyser in ’n ander dorp ook uitgereik is.

Ouers wil nou weet hoe dit moontlik is dat die skool ’n vermeende sekspes kon aanstel.

“Dit maak net nie sin nie. Hoe is dit dat hy sedert September 2018 net kon wegkom en weer werk in die onderwys kon kry,” het ’n ouer wat anoniem wou bly, gesê.

’n Ander ouer het gesê dat dit ontstellend en onaanvaarbaar is dat so iets gebeur het by een van die goeie skole in hul gebied.

“Skole moet meer moeite doen en dieper delf wanneer hulle aanstellings maak.”

Volgens haar laat ouers hul kinders in die skole en onderwysers se hande en die feit dat soiets kan gebeur, ruk nie net die ouers nie maar die hele gemeenskap.

“Ek is baie trots op daardie leerling wat reg opgetree het en dapper was, hy het baie volgende slagoffers uit daardie siek man se hande gered.”

Meer oor:  Noloyiso Rwexana  |  Clanwilliam  |  Aangekeer  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.