Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Onnies meeste oor lyfstraf, aanranding verkla, wys syfers

Lyfstraf en aanranding is boaan die lys van die meer as 700 klagte teen onderwysers wat in die 2018-’19-boekjaar ingedien is.

Die Suid-Afrikaanse Raad van Opvoeders (Sace) het dié inligting Woensdag aan die parlementêre portefeuljekomitee oor basiese onderwys gegee in ’n voorlegging oor hul 2018-’19-jaarverslag.

Dit blyk uit Sace se syfers dat 765 individuele klagte oor voorvalle in die boekjaar teen onderwysers by die raad aangemeld is.

Die ander grootste oortredings van onderwysers sluit in:

* Verbale mishandeling, viktimisering, teistering, laster en intimidasie;

* Onbehoorlike optrede soos kras taalgebruik, alkoholmisbruik, afwesigheid en diensweiering;

* Seksuele wangedrag waaronder verkragting, onsedelike aanranding en seksuele misbruik; en

* Bedrog, diefstal en finansiële wanbestuur.

Ella Mokgalane, uitvoerende hoof van Sace, het gesê as daar na dié syfers in verband met die onderskeie provinsies gekyk word, kan dit lyk asof die Wes-Kaap die meeste oortredings het.

“Dit mag die indruk skep dat onderwysers in die Wes-Kaap nie aan die gedragskode voldoen nie. Dit is egter nie noodwendig die geval nie. Die Wes-Kaap, Gauteng en KwaZulu-Natal is die enigste drie provinsies wat aan wetgewing voldoen wat bepaal dat sodra tugstappe teen onderwysers hier afgehandel is, hulle dit aan Sace moet rapporteer. Daarom, wanneer jy na die grafiek kyk, skep dit die indruk dat dié drie provinsies die meeste onderwysers het wat hulle aan wangedrag skuldig maak,” het sy gesê.

Syfers uit Sace se gedrukte voorlegging toon die meeste van die sake in die Wes-Kaap, 173, was weens lyfstraf en aanranding, gevolg deur onbehoorlike optrede, onbehoorlike taalgebruik, alkoholmisbruik, afwesigheid en diensweiering.

Tugsake teen 386 onderwysers is volgens Mokgalane tussen 1 April 2018 en 31 Maart 2019 afgehandel en gesluit.

Altesaam 67 onderwysers is skuldig bevind, 11 is onskuldig bevind terwyl 23 sake teruggetrek is weens ’n gebrek aan bewyse of getuienis.

Uit dié 67 onderwysers wat skuldig bevind is, is 32 onbepaald as onderwysers afgedank. “Dit beteken hulle kan nooit weer na die onderwysberoep terugkeer nie, hetsy nasionaal of internasionaal, oor ons bande met die internasionale raad. Ons is ’n lid van die Internasionale Federasie van Reguleringsowerhede, wat beteken dat ons inligting met mekaar uitruil,” het Mokgalane gesê.

Die res van die onderwysers is vir ’n tydperk lank geskors en sommige is boetes opgelê en kan weer vir onderwysposte aansoek doen.

Daar was 93 sake van seksuele wangedrag, waarvan 80 ondersoek is. Uit dié 80 ondersoeke is 44 deur ’n tugproses en gefinaliseer. Uit die 44 tugsake is 30 onderwysers skuldig bevind en onbepaald as onderwysers afgedank. Altesaam 17 van die sake is voorlopig teruggetrek.

Mokgalane het verduidelik ingevolge die Kinderwet moet dié onderwysers se name in die nasionale kinderbeskermingsregister aangebring word. “Die implikasie daarvan is dat hulle nooit weer met kinders mag werk nie.

“Dit is moeilik om die name van onderwysers in die nasionale register vir seksuele oortreders aan te bring, want vir jou naam om op dié register aangebring te word moet jy in ’n hof skuldig bevind word, maar met ons, nadat ons jou as onderwyser geskors het, is dit waar dit eindig. So, jy is ’n seksuele oortreder, maar is nie strafregtelik skuldig bevind nie. Jou naam kan dus nie in die register van seksuele oortreders aangeteken word nie, maar wel in die kinderbeskermingsregister. Sace sê dat daardie sake na die polisie geneem moet word,” het Mokgalane gesê.

Meer oor:  Aanranding  |  Lyfstraf  |  Statistieke  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.