Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Onnies: US-beleid oor Afr. ‘vaag’
Johan Theron, ’n uitgesproke ­kritikus van Maties se pro-Engelse taalbeleid. Foto: jaco marais

Pogings van die Universiteit Stellenbosch (US) om bruin Afrikaanse onderwysers gerus te stel oor Maties se Engelse taalbeleid, het ’n terugslag beleef nadat twee senior onderwysers gesê het hulle gaan nie langer daaraan deelneem nie.

Die twee, dr. Hendrik Theys, ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR) en Ria Olivier, projekbestuurder van die ATR, sê hulle wil hê die universiteit moet duidelik standpunt inneem oor die status van Afrikaans by die universiteit.

“Ons kan nie vaaghede soos ‘gelyke kanse vir studentesukses’ as ’n plaasvervanger van ’n duidelik stelling oor die gelyke status van Afrikaans by die US aanvaar nie,” sê die twee in ’n verklaring wat Vrydag uitgereik is.

Die twee se onttrekking aan die gesprekke volg op ’n vroeëre verklaring van die universiteit waarin bekend gemaak word dat die universiteitsbestuur beplan om met verskeie groepe skoolhoofde van Afrikaanse bruin skole te ontmoet om die universiteit se nuwe taal­beleid te bespreek.

Theys en Olivier was deel van ’n afvaardiging, gelei deur Danie van Wyk van die Suid-Afrikaanse Onderwysontwikkelingstrust, wat vroeër vanjaar met die universiteitsbestuur vergader het en waar die moontlikheid van sulke gesprekke die eerste keer geopper is.

Theys en Olivier sê boonop is die indruk by dié vergaderings gewek dat daar geen ongelykheid tussen Engels en Afrikaans by die US bestaan nie. Die groep het ná hul eerste vergadering met die Maties-bestuur ’n verklaring uitgereik waarin hulle hul dankbaarheid oor dié feit uitgespreek het.

By ’n daaropvolgende raadsvergadering het Johan Theron, ’n uitgesproke kritikus van Maties se pro-Engelse taalbeleid, die universiteitsbestuur hieroor uitgevra.

Hy wou weet hoe die universiteit die versekering kon gee dat Afrikaans en Engels gelyke status het “as die amptelike taalbeleid dit duidelik stel dat Afrikaans ondergeskik aan Engels is”.

Luidens ’n verklaring wat The­ron ná die raadsvergadering uitgereik het, het die rektor, prof. Wim de Villiers, daarop geantwoord dat “die afvaardiging hom klaarblyklik verkeerd verstaan het aangesien Afrikaans en Engels inderdaad nie gelyke status geniet nie”.

“Ek het daarna die rektor se bestuurspan versoek om ’n mediaverklaring in dié verband uit te reik ten einde die wanpersepsie . . . reg te stel. My versoek is van die hand gewys,” skryf Theron.

Theys en Olivier sê toe hulle ná die raadsvergadering weer met die universiteitsbestuur vergader, het Theron se verklaring ter sprake ­gekom.

Die universiteitsbestuur het egter prontweg ontken dat die gesprek waarna Theron in sy verklaring ­verwys, ooit in die raad plaasge-vind het.

Theys en Olivier sê gegewe die onduidelikhede hieroor en hulle beginselbesware – oor wat hulle sien as die ongelyke status van ­Afrikaans – sal dit voor­tydig wees om deel te neem aan vergaderings om die taalbeleid aan skoolhoofde en leerlinge te verduidelik.

Danie van Wyk, bestuurder in die Wes-Kaap van die Suid-Afrikaanse Onderwysontwikkelingstrust en die leier van die afvaardiging, sê hy is “heel verbaas” oor die standpunt van sy kollegas.

Van Wyk sê almal stem saam “dat dit by ons gaan oor die behoud van Afrikaans as taal van onderrig” by die universiteit.

“Ons het die weg gekies van ’n konstruktiewe pad as individue en as invloedryke onderwysmense.” sê Van Wyk.

“Ons het juis betrokke geraak omdat dit beter sou wees dat hulle hul taalbeleid aan die gemeenskap self moet verduidelik,” sê Van Wyk.

Martin Viljoen, US-woordvoerder, sê die universiteitsbestuur het nog nie ’n geleentheid gehad om Theys en Olivier se verklaring te oorweeg nie.

  • Adv. Jan Heunis SC, president van die US-konvokasie, sê ’n vergadering van Maties se konvokasie, wat beplan is vir volgende maand, is weens die huidige vlaag van ­studenteprotes op kampus tot 26 Januarie uitgestel.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.