Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Onnies versigtig, maar bly om terug te gaan

Onderwysers wat tot dusver weens onderliggende siektetoestande tuis moes bly, is versigtig maar opgewonde om terug te keer skool toe.

Die departement van basiese onderwys het Saterdag in ’n verklaring gevra dat dié onderwysers Maandag 21 September weer by die werk sal aanmeld.

Meer as 22 500 onderwysers het die toegewing ontvang om onder vlak 3 en vlak 2 van die inperking tuis te bly volgens die kollektiewe ooreenkoms 1 van 2020.

Trefeuza Jacobs (54), ’n laerskoolonderwyseres aan die Eunice Primary School in Bloemfontein.

Trefeuza Jacobs (54), ’n laerskoolonderwyseres aan die Eunice Primary School in Bloemfontein, sê sy is baie bang om terug te gaan.

“Ek is baie senuagtig en bang ek steek by die kinders aan omdat ek ’n hoë bloeddruk-lyer is en sukkel met my longe.”

Nie net was dit ’n groot uitdaging om aanlyn klas te gee nie, maar nou is daar ook die onsekerhede oor hoe alles voortaan gaan werk, sê sy.

“Dis ’n groot kans wat ons vat. My man het boonop kanker en ek is bang ek steek hom aan.”

Anché Davidson (32) (tweede van links, voor), ’n IT-onderwyser aan die Hoërskool Birchleigh in Kempton Park, is asmaties, maar opgewonde om terug te keer na die skool.

Anché Davidson (32), ’n IT-onderwyser aan die Hoërskool Birchleigh in Kempton Park, sê al is sy banger vir wat die masker aan haar asma gaan doen as vir die virussiekte self, is sy opgewonde om ná vyf maande terug te wees by die skool.

Davidson ly aan erge asma en haar dokter het aan die begin van die inperking gesê “daar is nie ’n manier” dat sy mag terugkeer skool toe nie.

“Ek is positief om terug te gaan. Baie mense kritiseer en sê ons wat by die huis gebly het, is lui. Maar ek moes die dokter gehoorsaam.”

Nadia Rabe (34), ’n gr.1-onderwyseres aan die Laerskool Doringkloof in Centurion.

Nadia Rabe (34), ’n gr. 1-onderwyseres aan die Laerskool Doringkloof in Centurion, is ook van kleintyd af asmaties en moes tuis bly.

“Ek het die interaksie met my gr. 1’tjies baie gemis. Ek sal wel baie versigtig wees omdat my vierjarige ook asmaties is. Ons was baie lank in die huis, en sal heelwat aanvullings moet drink om ons immuunstelsel te versterk.”

Basil Manuel, uitvoerende hoof van die onderwysersvakbond Naptosa, sê die ooreenkoms wat voorsiening gemaak het vir onderwysers met onderliggende siektetoestande, sluit in dat hulle moet terugkeer wanneer die land na vlak 1 skuif.

Saterdag se verklaring benadruk bloot die ooreenkoms.

“Daar is natuurlik die verantwoordelikheid om streng by die gesondheids- en veiligheidsmaatreëls te hou.”

Hy sê hulle is die versekering gegee dat die nodige persoonlike beskermende drag beskikbaar sal wees.

Paul Colditz, voorsitter van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê hy is nie bewus van enige teenkanting nie.

“Die vakbonde het die vergunning onderhandel en hulle is dus verbind tot dit wat hulle namens die onderwysers onderhandel het. Na my wete ondersteun die vakbonde die terugkeer skool toe.”

Howard Ndaba, woordvoerder van die Vrystaatse onderwysdepartement, sê daar is moontlik onderwysers wat te siek voel om terug te keer. In so ’n geval moet hulle die gewone siekteverlof-protokol volg.

Meer oor:  Paul Colditz  |  Covid-19  |  Skole  |  Onderrig  |  Koronavirus  |  Onderwysers  |  Vlak 1
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.