Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Ontevrede dosent moet uitslae gee, beveel hof

’n Deeltydse dosent aan die Sentrale Universiteit van Tegnologie (SUT) in Bloemfontein wat weens ’n loondispuut die uitslae van studente weerhou het, moet dit binne tien dae aan die universiteit beskikbaar stel.

Die hooggeregshof in Bloemfontein het die universiteit se dringende aansoek teen die dosent, Corinne de Kock, toegestaan.

Sy wou nie die uitslae van ’n bestuurspraktyk-module beskikbaar stel nie.

Luidens hofstukke bevraagteken sy haar vergoeding sedert April verlede jaar. Sy het egter versoeke vir vergaderings met die vise-kanselier en ’n dekaan van die hand gewys en ook nie op ’n brief van die universiteit se regsverteenwoordiger gereageer nie.

Dr. Ntsoaki Joyce Malebo, hoof van die departement van lewenswetenskappe by SUT, sê in die stukke sy het in April ’n e-pos van De Kock ontvang waarin sy haar vergoeding van vier uur per week en die salarisskaal bevraagteken.

Malebo het De Kock gevra om ’n gedetailleerde opsomming van haar werkure aan te stuur, waarná Malebo ook gevra het dat hulle vergader om dié inligting te bespreek. De Kock het glo in e-posse gesê sy is nie die daaropvolgende week beskikbaar nie, maar dat sy binnekort ’n ander afspraak sal reël.

Sy het egter nooit ’n afspraak gereël nie en het in Junie 2018 gesê sy verkies om per e-pos te kommunikeer, aangesien sy nie groot probleme voorsien nie.

Malebo sê sy en De Kock het van Junie tot Oktober e-posse aan mekaar gestuur sonder dat ’n oplossing gevind is.

Malebo het op 2 Oktober in ’n e-pos aan De Kock geskryf sy kan nie haar eie vergoeding bepaal nie.

De Kock was nie met die terugvoering tevrede nie en het die visekanselier, prof. Henk de Jager, betrek. Hy het op dieselfde dag gereageer en voorgestel dat hulle die aangeleentheid in die week van 8 tot 12 Oktober bespreek.

De Kock het dit van die hand gewys en gesê sy sien geen nut daarin nie en het op betaling vir ekstra werk aangedring.

De Jager het op 9 Oktober gesê kommunikasie per e-pos is nie genoeg nie en sal ook nie help om ’n oplossing te bereik nie. Hy het weer op ’n vergadering aangedring.

De Kock het op 30 Oktober gesê sy sal nie die finale uitslae teen die afsnydatum in November beskikbaar stel nie.

Prof. Albert Strydom, dekaan van die fakulteit bestuurswetenskappe, het ’n e-pos aan De Kock gestuur, maar sy het daarop aangedring dat sy steeds op terugvoer van die vise-kanselier wag.

De Kock het ook nie in Desember op ’n skrywe deur die universiteit se regsverteenwoordiger gereageer nie.

Die hofstukke is Donderdag aan haar beteken en sy het hierna van die uitslae beskikbaar gestel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.