Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Oos-Kaap bestee fortuin aan e-leer

Die Oos-Kaapse regering bestee meer as R500 miljoen om vir 55 000 matrieks Samsung-tablette te huur en 13 klaskamers vir e-leer in te rig in ’n provinsie waar 1 598 skole nog puttoilette gebruik.

Iqbal Survé

Die driejaarkontrak vir die huur van dié peperduur toerusting is toegestaan aan Sizwe Africa IT Group, ’n filiaal van die sakeman Iqbal Survé se maatskappy Ayo Technology Solutions.

Survé was ’n prominente ondersteuner van oudpres. Jacob Zuma deur sy mediagroep, wat die dagblaaie The Star en Cape Times insluit.

Boonop berig Daily Maverick die departement betaal veel meer vir die huur van talle van die toestelle aan Sizwe Africa as wat dit sou gekos het om splinternuut van die rak af te koop. Pryse wat na bewering kunsmatig hoog is, sluit in R224 560 vir ’n Chinese EKAA “slimskerm” wat in virtuele klaskamers gebruik word en in die handel vir minder as R45 000 beskikbaar is, het Daily Maverick bereken.

Die aanvanklike kontrak van R160 miljoen vir virtuele klaskamers tussen Sizwe en die departement van ekonomiese en kleinsakeontwikkeling, toerisme en omgewingsake (Destea) is verlede jaar gesluit.

Die bykomende kontrak vir tablette vir die departement van onderwys is toe doodeenvoudig by dié bestaande kontrak gevoeg.

Kontrak is toegeken aan filiaal van Iqbal Survé se Ayo.

Yusuf Cassim, die DA se woordvoerder oor onderwys in die Oos-Kaap, het in Mei vanjaar vir die departement vrae oor dié kontrak gestuur, maar die vrae is eers op 15 Julie geantwoord.

Nou blyk dit dat nóg R404 miljoen bestee word aan die huur van die 55 000 Samsung Galaxy Tab-tablette asook 72 000 simkaarte en data vir drie jaar. Die projek se mikpunt is om leerlinge by van die provinsie se armste skole te help.

Toe Cassim by die departement wou weet waarom die tabletkontrak nie getender is nie, maar eerder gevoeg is by ’n bestaande kontrak wat Sizwe Africa reeds met die regering gesluit het vir die e-klaskamers, het die Oos-Kaapse regering volgens Cassim gesê dit was nodig om vertroue in die regering te herstel en daarom was dit nodig om die pas waarteen dienste verskaf word, te bespoedig.

Volgens die departement neem die regering se “burokratiese verkrygingsprosesse” soms te lank en daarom gebruik die departement “waar nodig en lewensvatbaar” toegelate kortpaaie.

Die provinsiale tesourie het glo van die tabletkontrak geweet.

Cassim sê die departement van onderwys wou die indruk skep dat hulle op die e-leer-oplossing besluit het juis om onderrig tydens die sluit van skole weens inperking moontlik te maak, maar eintlik dateer die kontrakte al uit Augustus, lank voor die koms van Covid-19.

Die DA sê onder meer die tablette en ander toerusting is nie op die ope mark bekom nie en die departement het te veel daarvoor betaal. Boonop is besluit om te huur pleks van te koop.

Die departement het Vrydag op ’n mediakonferensie oor die kontrak gesê mense moet ophou om die suiwer internet-koopprys vir so ’n tablet met sy huurooreenkoms te vergelyk aangesien dié prys versekering, onderhoud van die toestelle, datakoste en skerm­beskermers insluit.

Cassim sê hulle het Donderdag voorleggings aan Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer, gedoen om haar te vra om te ondersoek of die kontrak wettig is en of die departement waarde vir geld kry.

Volgens die departement is 44 000 van die 55 000 Samsung-tablette reeds uitgedeel en “ ’n mens kan op die leerlinge se gesigte sien hoe opgewonde hulle daaroor is.”

Toe Rapport vra of die installering van toilette nie voorkeur behoort te geniet nie, het Themba Kojana, superintendent-generaal van die departement, gesê hulle is heeltemal bewus van die provinsie se infrastruktuurprobleme en werk hard daaraan om hierdie agterstande te verklein.

Die kontrak sluit in R125 miljoen vir 72 000 simkaarte.

In antwoord op Daily Maverick se vrae het die departement die afgelope week gesê joernaliste wat besorg is oor die prys van die toerusting moet hulself afvra of enige ander verskaffer “op vlak 5” van die inperking daartoe in staat sou gewees het om op 2 April 55 000 tablette te lewer.

“Die departement se aanvanklike belegging in e-leer . . . was vir 13 virtuele klaskamers (uitsaai-ateljees) en 72 000 simkaarte. Die virtuele klaskamers word ontplooi in al 12 onderwysdistrikte in die provinsie, en een by die hoofkantoor in Zwelitsha.

“Die doel van die virtuele klaskamers is om te verseker dat onderwysers en vakadviseurs klasse kan opneem vir argiefdoeleindes en om later na leerlinge te versprei.

“Die Oos-Kaap is een van die armste provinsies in die land en die meeste leerlinge kom uit arm huishoudings met geen ander bron van inkomste nie behalwe staatstoelaes. Daarom is besluit om hierdie leerlinge van e-leer-toestelle te voorsien sodat hulle toegang tot vooraf opgeneemde lesse kan hê.”

Meer oor:  Iqbal Survé  |  Ayo Technology Solutions  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.