Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Openbare skole nog nie gereed

Skole, ouers en leerlinge sal dié week meer duidelikheid hê oor hoe die plan lyk om skole oor twee weke te heropen.

Onderwysers in openbare skole begin Maandag werk, maar leerlinge kan eers van 15 Februarie af teruggaan. Dis egter steeds nie duidelik wie almal op 15 Februarie welkom sal wees nie.

Alle grade mag terugkeer, maar skole mag nie op volle sterkte bedryf word nie, sê Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement van basiese onderwys (DBO). Die departement raadpleeg nog belanghebbendes en sal “een of ander tyd in die volgende week” riglyne oor die terugkeer van leerlinge bekend maak.

‘Die leerlinge is gretig om te begin.’

Daar heers kommer by onderwyskundiges oor hoe die matrieks in nóg ’n ontwrigte skooljaar die gr. 11-werk gaan inhaal wat verlede jaar agterweë gebly het én die matriekkurrikulum gaan afhandel. Hulle het nie soos die ander grade “twee tot drie jaar” om 2020 se verlore werk in te haal nie.

Melanie Buys, onderwysspesialis verbonde aan die Skoleondersteuningsentrum (SOS), sê skole het die voordeel van 2020 se ervaring en spring op ’n beter voet weg met aanlyn of afstandleer.

“Skole wat op 15 Februarie oopmaak en weer op 31 Maart sluit vir vakansie maak 'n reeds kort kwartaal nog korter om sinvol te werk.

“Dit gaan vir vakbonde meer daaroor om mense by die skool weg te hou as oor leerlinge se belange en veiligheid. Die leerlinge is gretig om te begin. Selfs minder vakansie in ’n aangepaste skoolkalender is hanteerbaar, maar die DBO moet die datums vasmaak en daarby hou!” sê Buys.

’n Skoolkalender is steeds nie gepubliseer nie.

Intussen maak talle skole planne om te vergoed vir verminderde klastyd.

Celeste Labuschagne, ’n voormalige adjunkhoof nou verbonde aan die SOS, sê baie skole het ’n verlengde skooldag gehad waarvan ’n deel aan sport gewy is.

“Ek weet van skole wat eers 15:00 uitkom en dan ’n sportperiode ingewerk het. Leerlinge wat nie aan sport deelneem nie, het dan kans gehad om onder toesig huiswerk te doen.

“Dié skole gaan nou van daardie sportperiode gebruik om seker te maak al die verlore werk word ingehaal.”

Jana Terblanche, ook ’n voormalige skoolhoof wat nou verbonde is aan die SOS, sê onderwysers gaan hul vakinhoud nog meer as gewoonlik moet sif om die kernkurrikulum so suksesvol moontlik oor te dra.

Intussen blyk dit die meeste openbare skole is nog nie gereed om teen 15 Februarie leerlinge te ontvang nie. In ’n opname wat deur al vyf die onderwysersvakbonde (Sadou, Naptosa, die SAOU, die PEU en Natu) gedoen is onder 7 440 skoolhoofde (32% van alle openbare skole), het 40% gesê hulle het nie genoeg hand- en oppervlakreinigers om oop te maak nie. Tot 20% het nie genoeg maskers nie en net 47% van skole reken hulle kan aan alle Covid-19-veiligheidsprotokolle voldoen.

City Press, Rapport se susterskoerant, berig die Oos-Kaap se onderwysdepartement het skole daar ingelig hulle moet minstens vir die eerste kwartaal hul eie maskers en handreinigers koop.

Yusuf Cassim, die DA se onderwyswoordvoerder in die provinsie, sê dié besluit “gooi die armes vir die Covid-19-wolwe”.

Dit het verder die afgelope week aan die lig gekom dat onderwysers met onderliggende siektetoestande nie meer verskoon is van skoolbywoning nie. Die departement en die vakbonde het verlede jaar ooreengekom dat hulle nie fisiek by die skool hoef te wees voordat die land nie terug op vlak 1 is nie, maar dié ooreenkoms het intussen verval.

Ernstige gevalle kan op individuele vlak hanteer word in oorleg met skoolhoofde en die onderwyser se dokter.

Intussen het Panyaza Lesufi, LUR van onderwys in Gauteng, gesê hy was “uit die veld” geslaan toe hy uitvind sy eie departement het tussen Junie en Augustus verlede jaar R431 274 959 aan die ontsmetting van skole in Gauteng bestee.

Nóg dié departement nóg die DBO wou kommentaar lewer voor ’n ondersoek na die besteding afgehandel is.

Miljoene gemors

Die Gautengse onderwysdepartement het verlede jaar binne drie maande ongeveer R431 274 959 aan die ontsmetting van skole bestee. Waarvoor kon dié R431 miljoen betaal het?

  • Die bou van byna vier volledig toegeruste skole met rekenaarlokale.
  • Die installasie van 43 127 “Eaziloo VIP”-toileteenhede vir skole.
  • Die salarisse van 1 862 hoërskoolonderwysers of 2 207 laerskoolonderwysers vir ’n jaar.
  • Kos vir 6 845 634 kinders vir een maand deur die Nasionale Skoolvoedingsprogram.

– Bronne: City Press, Gift of the Givers, Payscale.com, News24.

Meer oor:  Panyaza Lesufi  |  Elijah Mhlanga  |  Heropening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.