Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Oplossing vir Grey ‘in verslag opgesluit’

Die oplossing van die voortslepende probleme van Grey-kollege (sekondêr) in Bloemfontein lê opgesluit in ’n verslag van die Vrystaatse onderwysdepartement wat reeds in Maart vanjaar aan die onderwyshoof oorhandig is, sê die beheerliggaam van die skool.

Die beheerliggaam het ’n beroep op ouers gedoen om Donderdagmiddag op ’n vergadering met die departement in die hoërskoolsaal te vra dat dié verslag en die aanbevelings daarin aan hulle en belanghebbendes van die Grey-gemeenskap bekend gemaak word.

Deon Scheepers. Foto: Katleho Mokuena

In ’n brief aan die ouers sê die beheerliggaam hy meen die ware probleem van Grey-kollege word volledig in dié verslag omskryf en die tyd het aangebreek dat die ouers oor die aard en omvang daarvan ingelig word.

Die beheerliggaam het reeds die departement gevra om dié geleentheid te gebruik om ook teenoor die ouers aan te dui watter van die aanbevelings die departement in werking gaan stel en wanneer dit gaan gebeur.

Die beheerliggaam skryf hy het sonder sukses ’n amptelike versoek aan die onderwyshoof gerig om die inhoud en aanbevelings van die verslag bekend te maak.

Die onderwysdepartement hou die verslag om onverstaanbare redes geheim.

“Dit wek kommer, aangesien die departement in 2017 ’n soortgelyke ondersoek gedoen het en tot vandag weier om ook die 2017-verslag bekend te maak.”

Die beheerliggaam sê die jongste verslag bevat beëdigde verklarings van huidige en voormalige onderwysers, leerlinge en ander belanghebbendes wat probleme opper oor onder meer die bestuurstyl van Deon Scheepers, hoof van die hoërskool.

Die beheerliggaam skryf die bewerings in die verklarings is ernstig en vereis spoedige optrede van die departement.

“Daarom verstaan ons nie waarom die departement so traag is om die verslag bekend te maak nie.”

Die bewerings gaan onder meer op boeliegedrag en viktimisasie van onderwysers, wangedrag, oneerlikheid, onbehoorlike manipulasie van leerlinge, verbreking van vertroulikheid en die ongemagtigde verhoging van eksamenuitslae in die middel van die jaar, sê die beheerliggaam in sy brief.

* Die vergadering wat deur die kantoor van die direkteur van die Motheo-onderwysdistrik gereël is, word om 17:00 gehou om terugvoer te gee oor “ontwikkelinge in Grey-kollege”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.