Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Opsigter (61) van Ocean View verwerf onderwysdiploma
Abduraghiem de Klerk spog hier met sy sertifikaat van die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT). Foto: Jaco Marais

Hy was 20 jaar lank ’n dwelmverslaafde en in ’n donker gat waaruit hy nie kon kom nie.

En nou, op 61-jarige ouderdom, het Abduraghiem de Klerk, ’n skoolopsigter van Ocean View in Kaapstad, ’n onderwyskwalifikasie.

Sageda, sy vrou, het Sondag op Facebook ’n foto van sy gradeplegtigheid op die Bellville-kampus van die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT) en ’n inskrywing oor die pad wat hy gestap het, gedeel.

“My vrou is baie stout,” sê hy en lag. “Ek hou nie eintlik van die spotlight nie.”

Meer as 2 600 mense het op die inskrywing gereageer en dit sowat 400 keer gedeel.

De Klerk het op 11 Desember sy nasionale professionele diploma in onderwys ontvang.

Maar dit was ’n lang pad vir hierdie ywerige fietsryer, wat jare lank ’n dwelmverslaafde was.

Sy lewe het egter handomkeer verander en hy het in 2005 aan sy eerste fietstoer, Die Burger-Sanlam-fietstoer, deelgeneem.

Hy was ’n nutsman toe ’n pos in 2010 vir ’n skoonmaker by ’n skool naby sy huis, Ocean View School for Learners with Special Educational Needs, geadverteer is.

Abduraghiem en Sageda de Klerk by sy gradeplegtigheid verlede jaar op die Bellville-kampus van die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie.Foto: Facebook

Hy het die pos gekry en dis hier waar sy liefde vir kinders begin het. Hy het besef hy wil ’n verskil in hul lewens maak.

Hy het besluit om sy matriek te skryf nadat hy die skool in st. 9 (gr. 11) verlaat het om te gaan werk.

Hy het in 2013 sy matriek sonder ’n handboek geslaag. “Vir elke vak het ek vyf jaar se vraestelle en memorandums by die departement gaan haal en so op my eie studeer.”

Hy het in 2016 ’n ambagsertifikaat verwerf, en in 2018 besluit om onderwys aan die KSUT te studeer. Hy het in twee jaar “drie jaar se werk” gedoen en in Desember verlede jaar sy kwalifikasie verwerf.

“Die twee jaar se studie was tough. Ek het nagte deurgesit.

“Nou hoop ek my skoolhoof sien ek is ’n stukkie goud werd en dat ek ’n pos as onderwyser sal kry.”

Hy sê hy kyk elke oggend in die spieël en sê vir homself dit begin by hom om ’n verskil te maak.

“Alles wat ek doen, is om vir die kinders te wys hoe belangrik jou opvoeding is. Ek kan mos nie vir hulle sê ’n skoolloopbaan is belangrik en dan het ek self nie skool klaargemaak nie.”

Hy sê hy wil graag vir die ouer mense in sy gemeenskap sê dis nooit te laat om ’n besluit te neem om ’n sukses van iets te maak nie.

Sy ander groot liefde is fietsry en hy het die Fresh Start-fietsryklub begin, waaraan 24 leerlinge behoort.

“Hulle het elke dag iets om na uit te sien. Dit is om kinders van die verkeerde dinge af weg te hou.”

Vier van die leerlinge is juis einde Junie na België genooi en daar is met ’n veldtog op GoGetFunding begin om die seuns finansieel te help.

De Klerk sê dit is sy droom om voor ’n wiskunde- of tegnologieklas te staan.

Hy sê sy benadering kom daarop neer dat ’n mens nie in ontkenning moet lewe nie.

“Dit hang alles van jou af. Die rehabilitasie gaan niks help as jy nie jouself wil help nie.

“God het my sekerlik nie verniet op hierdie pad geplaas nie.”

Abduraghiem de Klerk voor sy huis in Ocean View.Foto: Jaco Marais

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.