Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Oud-Bokke trotse pa’s

Twee oud-Springbokke se borskas swel van trots, en om ’n ander rede as rugby.

Die voormalige vaskopstut Willie Meyer se dogter Jana (19) het matriek met onderskeidings in Afrikaans, Engels en lewensoriëntering geslaag.

Jana was in 2020 die onder-hoofmeisie van die Hoër Meisieskool Oranje (OMS) in Bloemfontein en die kaptein van die eerste netbalspan.

Ollie le Roux en sy dogter Mia, wat verlede jaar aan Oranje gematrikuleer het.

Ongelukkig kon sy baie van haar pligte nie nakom nie weens die inperking wat die Covid-19-pandemie meegebring het. Jana lag as sy sê dat hulle as leierskorps seker in die skool se geskiedenis bekend sal staan as “die lot wat die minste nog gedoen het”.

Op ’n ernstiger noot noem sy dat 2020 nie net fisieke uitdagings ingehou het nie, maar ook emosionele uitdagings.

“ ’n Mens moes ’n kopskuif maak, want jy moes anders leer as waaraan jy gewoond was. Jy moes op jou eie leer, iets wat heeltemal vreemd is as jy daaraan gewoond is om in ’n klaskamer te sit. Dit het dit beslis moeiliker gemaak.”

Aanvanklik moes die sportspanne ook voortgaan met hul voorbereiding asof dinge weer na normaal sou terugkeer.

“Ons het byvoorbeeld aan die begin aanhou netbal oefen omdat ons nie geweet het of ons êrens in die jaar weer ’n kans sou hê om wedstryde te speel nie.”

Sy sê ten spyte van die onsekerheid het die skool hulle as matriekklas baie goed bygestaan met aanlyn hulp en sy is baie tevrede met haar drie onderskeidings. Sy oorweeg dit egter om van haar vraestelle te laat hermerk.

Die oud-Springbokstut Willie Meyer by sy dogter Jana ontspanne op die strand en tevrede met haar matriekuitslae.

Jana vertrek eersdaags na die Universiteit Stellenbosch waar sy BSc (menslike lewenswetenskappe) gaan studeer. Sy hoop om later in oudiologie te spesialiseer.

Meyer sê hy is baie trots op en dankbaar vir Jana se goeie uitslae.

“Dit was beslis nie ’n maklike matriekjaar nie en ons is bly dat daar nou uiteindelik finaliteit is ná die aanvanklike sprake van vakke wat moontlik oorgeskryf sou moes word en die gewag op die uitslae.”

Hy sê hy is ook dankbaar dat sy vanjaar met ’n bietjie meer sekerheid haar universiteitsjare kan aanpak, al is dit nog allesbehalwe normaal.

Meyer se voormalige Springbokspanmaat en oud-loskopstut Ollie le Roux se dogter Mia het ook verlede jaar aan die OMS gematrikuleer.

Nog twee van Le Roux se dogters, Chloë (gr. 11) en Donna (gr. 8), is vanjaar op OMS, terwyl Meyer se jongste dogter, Lisa, in gr. 10. is.

Ander oud-Bokke wie se dogters vanjaar op Oranje se skoolbanke sit, is Naka Drotské se stiefdogter, Annica Smith (gr. 12), Franco Smith se dogter Cara (gr. 9) en Daan Human se dogter Yannique (gr. 9).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.