Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Parktown: Koppe rol, maar beheerliggaam bly vir nou

In skrille kontras met sy stelling vroeër Vrydagmiddag op ’n mediakonferensie oor die dood van Enock Mpianzi (13), het Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, Vrydagaand gesê daar is nié ’n kultuur van geheimhouding by Parktown Boys’ High School in Johannesburg nie. 

Hy was op die eerste mediakonferensie baie krities oor die “geheimhoudingkultuur” en het beklemtoon dat die Gautengse departement van onderwys al probeer het om dit te verander. 

Hy het op dié mediakonferensie Vrydag aangekondig dat Malcolm Williams, skoolhoof, geskors is. 

Talle klagtes oor Williams en die skool se beheerliggaam is sedert Enock se dood ontvang.

Enock se lyk is verlede Vrydag in die Krokodilrivier by die Nyati-oord naby Brits gekry nadat hy vermoedelik in ’n wateraktiwiteit op sy skool se gr. 8-oriënteringskamp daar verdrink het. 

lesufi
Edward Mosuwa, departementshoof van die Gautengse onderwysdepartement en Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys, Vrydagaand ná die ouervergadering van Parktown Boys' Highschool

Lesufi het op die eerste mediakonferensie gesê die departement het die prokureursfirma Harris Nupen Molebatsi, ’n onafhanklike maatskappy, aangestel om die verdrinking te ondersoek. 

Williams is geskors op grond van die voorlopige bevindings van dié ondersoek. 

“Aanspreeklikheid is vir ons regering van die uiterste belang,” sê Lesufi. 

Die departement doen ook ondersoek na die onderwysers wat saam op die kamp was. 

“Ons kan nie die onderwysers as ’n groep aankla nie, daarom moet ons bepaal wie watter verpligtings gehad het en of hulle dit nagekom het.” 

Lesufi het gesê die kamp was onwettig. ’n Skool moet drie maande voor enige kamp by sy distrikskantoor aansoek doen om goedkeuring.

Lesufi sê die skool het op 19 November, minder as twee maande voordat die kamp op 15 Januarie begin het, aansoek gedoen. 

Amptenare van die distrikskantoor wat met dié aansoeke werk, was ook nalatig en is geskors. 

“Die amptenare wat die aansoek verwerk het, moet ook verantwoording doen omdat hulle moes vasstel of die kamp aan alle veiligheidsaspekte voldoen,” sê Lesufi. 

Skole sal voortaan by die departement self moet aansoek doen as wateraktiwiteite op ’n kamp aangebied word. In sulke gevalle sal die toestemming van die distrikskantore nie voldoende wees nie.  

Harris Nupen Molebatsi Prokureurs is in 2018 aangestel om beweerde nalatigheid en wanpraktyke by die skool te ondersoek. 

Dit was nadat Collan Rex, ’n sportafrigter by die skool, van seksuele misdrywe met die seuns beskuldig is. Hy is in September 2018 skuldig bevind en dien tans tronkstraf uit. 

Die firma het toe reeds aanbeveel dat die kampe gestaak word. 

Enoch Mpianzi, Parktown Boys High
Enoch Mpianzi, 'n Graad-8-leerling van Parktown Boys High word vermis. Foto: Facebook / Parktown Boys' High School

Op die vraag waarom dit steeds voortgegaan het, het Lesufi gesê: “Ons moet onthou drie belangrike aspekte is destyds ondersoek, naamlik die skool se gedragskode, bewerings van seksuele misdrywe by die skool en die kampe self, asook die ontgroeningspraktyke wat daarmee gepaardgaan.

“Ons het die leierskorps van die skool en die gedragskode verander. Hoewel ons alles op papier reggestel het, lyk dit of die kultuur van geheimhouding steeds voortgaan en dit is iets wat ons beslis sal moet ondersoek.” 

Lesufi sê ’n span van die prokureursfirma is ook besig om die omstandighede by die oord self te ondersoek. 

“Ek het op Google gelees van die ander verdrinking in 2010 daar. Ons sal moet kyk waarom die plek so gewild is ondanks die feit dat dit as ’n doodskamp bekend staan,” sê hy. 

Kol. Adèle Myburgh, polisiewoordvoerder in Noordwes, het bevestig Mellony Sias (18) van die Hoërskool Adamantia in Kimberley het op 10 April 2010 verdrink in ’n rivieraktiwiteit, “wat baie ooreenstem met dié waaraan Enock deelgeneem het”. 

Nog ’n leerling, Tumi Mokomane (12), is volgens Myburgh op 5 September 2009 in ’n swemaktiwiteit daar dood. Hy is die volgende oggend op die bodem van die swembad gevind. 

Op 14 Maart 2002 is Tuso Moalusi (17) ook by die oord dood nadat hy ook in ’n rivieraktiwiteit verdrink het, sê Myburgh. 

Sy kon nie bevestig dat Portia Sowela (14) in 1999 by die kamp dood is soos EWN berig het nie. 

Daniël Eloff, die regsverteenwoordiger van die oord, sê hulle weet van drie ander sterftes by die kamp. “Met elkeen van die voorvalle het die polisie in hul ondersoeke bevind die oord is nie aanspreeklik nie. In al drie vorige gevalle was die oorledenes nie besig met ’n programaktiwiteit nie,” sê Eloff. 

Die ouers van Parktown Boys’ High School het Vrydagaand besluit die skool se beheerliggaam sal staande bly totdat die departement se ondersoek na die dood van Enock voltooi is.

Sowat 200 ouers het  in die Linder-ouditorium bymekaar gekom. 

Lesufi het die media daarna toegespreek en ontken dat die skool ’n geheimhoudingkultuur het. 

Hy het gesê vyf uitkomstes is op die vergadering bereik:

* Die skool moet beskerm word in die moeilike tyd en daar moet onthou word dat dit wat gebeur het, nie net by die skool gebeur nie, maar regoor die land. Die ouers het gepleit dat die onderbrekings in die akademiese program by die skool tot ’n einde moet kom.

*  Die beheerliggaam sal in hul posisies bly totdat die ondersoek voltooi is of totdat enige voorlopige uitslae daarop dui dat hulle nie bekwaam is nie.

* Die ouers kla dat hul kinders ’n bespotting in die samelewing word. Hulle vra vir ondersteuning.

* Kampe moet deel vorm van ’n kind se opvoedkundige program en nie ’n dekmantel vir ontgroening wees nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.