Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Oud-Pukke reël self 150-jaar-feesviering

Oudpres. FW de Klerk is maar een van ’n paar bekende oud-Pukke wat einde November by ’n fees ter viering van die totstandkoming van die Potchefstroomse Universiteit 150 jaar gelede verwag word.

Oudpres. FW de Klerk

Prof. Callie Coetzee, voorsitter van die reëlingskomitee, het Maandag gesê oud-Pukke het besluit om die fees vir 30 November te reël nadat die Noordwes-Universiteit (NWU) ondanks verskeie versoeke besluit het om nié ’n 150-jaar-viering te reël of regstreeks daarby betrokke te wees nie.

Die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika wat in 1869 tot stand gekom het, het tot die latere Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) gegroei. Dit het in 2004 met die Universiteit van Noordwes in Mahikeng en die Vista-kollege in Sebokeng naby Vereeniging saamgesmelt om die NWU te vorm.

Louis Jacobs, woordvoerder van die NWU, het vroeër bevestig die NWU is nie by die 150ste bestaansjaarvieringe betrokke nie.

“Ons sal die universiteit se 20ste bestaansjaar in 2024 vier. Sonder om die verlede enigsins te misken, fokus ons op die toekoms, nie op die verlede nie. Die universiteit is gebore uit die samesmelting van verskeie instellings. Ons plaas die klem op wat die nuwe instelling bereik het, nie op die viering van enige voormalige instellings nie.”

Coetzee sê egter die destydse PU vir CHO se kampusse in Potchefstroom en die Vaaldriehoek was die heel belangrikste komponente waaruit die NWU ontstaan het. “Hoe die geskiedenis ook al ontwikkel en watter samesmeltings daaruit gekom het, kan nie geïgnoreer word nie. Ons sien die hand van die Here in die totstandkoming van hierdie universiteit. Ons klompie oudstudente wil daarom uit dankbaarheid erkenning gee vir die totstandkoming van die Teologiese Skool, waaruit die universiteit (direk) gegroei het.”

Dr. Theuns Eloff

Die Teologiese Skool het in Maart vanjaar ook sy 150ste bestaansjaar met ’n fietstoer gevier vanaf Burgersdorp in die Oos-Kaap waar die skool aanvanklik was, na Potchefstroom. Die skool hou vandeesweek van Woensdag tot Vrydag verder ’n konferensie oor die invloed van gereformeerde teologie wêreldwyd. Daar sal ook op 150 jaar van gereformeerde teologie in Suid-Afrika en die res van Afrika teruggekyk word.

Konferensiegangers sal Vrydag die digter, teoloog en Bybelvertaler Totius (J.D. du Toit) se plaas Krugerskraal naby Potchefstroom besoek. Weerlig het sy dogtertjie hier doodgeslaan.

Die fees se einde in November by Snowflake in Potchefstroom sal optredes van bekende oud-Pukke insluit, onder andere Johan van Rensburg (van Noot vir Noot-faam), Danie Niehaus en Anna Davel. Daar sal ook ligte samesang wees.

Die legendariese President van Tarentaal wat dekades ’n humoristiese instelling op die Potchefstroomkampus was, sal gaste met ’n toespraak vermaak. Oudkanseliers en -viserektore sal ook kort toesprake van sowat vyf minute elk lewer. Gaste wat wil, kan ook aansit vir ete.

Die middag sal meer informeel wees met kosstalletjies, kunstenaars, ’n kontantkroeg en baie kuiergeleenthede.

Dr. Theuns Eloff, voormalige visekanselier van die NWU en deesdae voorsitter van die adviesraad van die FW de Klerk-stigting, is van die bekende oud-Pukke wat by die feesreëlings betrokke is.

* Oudstudente kan hier meer inligting kry en kaartjies koop: https://puk150.co.za/. Rig navrae aan Coetzee by 082 337 7951 of dr. Pieter Mulder by 082 550 7795.

Die Teologiese Skool wat in 1869 in Burgersdorp in die Noordoos-Kaap gestig is, het in 1905 na Potchefstroom verskuif. Gereformeerde gemeentes oor die land heen het self die £6 468 wat nodig was vir die verskuiwing ingesamel. Die Teologiese Skool in Potchefstroom het in 1905 amptelik geopen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.