Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Ouermoles by skole in Pta

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) wil klagte by die Menseregtekommissie (MRK) indien nadat ontstoke ouers die eerste skooldag Woensdag by drie hoërskole in die noorde van Pretoria ontwrig het.

Die ouers het daarop aangedring dat die skole plek maak vir hul kinders, wat nog nie geplaas is nie. EFF-lede was na bewering ook betrokke.

By die Hoërskool Gerrit Maritz het die situasie in so ’n mate handuit geruk dat hy sy deure moes sluit. Hoewel niemand beseer is nie, is verskeie ouers en kinders getraumatiseer.

Honderde ouers staan Woensdag buite die Vodacom ICT-sentrum in Sunnyside, Pretoria, om hul kinders se lot oor skoleplasings te hoor. Foto: Deaan vivier

Die betogers het ook ontwrigting by die Hoërskool Pretoria-Noord en die Hoërskool Akasia veroorsaak.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU, sê hulle is besig om die klagte te formuleer.

“Dié optrede ontneem kinders van die reg op onderwys. As dit by ander skole gebeur het, het die MRK reeds al die perde opgesaal. Ons beskou die voorval as ’n toets vir die MRK en sal sy optrede dophou,” sê Klopper.

André Gaum, kommissaris vir onderwys van die MRK, sê die kommissie sal die klagte oorweeg en bepaal of die voorval ondersoek moet word.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, kry die wind van voor nadat dit bekend geword het dat ’n beduidende aantal Gautengse leerlinge wie se ouers betyds aansoek gedoen het, nog nie plek in ’n skool het nie. Hy het Dinsdag gesê net sowat 0,8% van leerlinge in Gauteng het nog nie plek nie.

Steve Mabona, woordvoerder van die provinsiale onderwysdepartement, sê die departement raai ouers af om skole te ontwrig.

Kapt. Mavela Masondo, provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig die polisie was Woensdag by die Hoërskool Akasia en die Hoërskool Gerrit Maritz om die situasie dop te hou.

Volgens Klopper het hy van die skoolpersoneel verneem dat EFF-lede betrokke was.

Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder, kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Daar was ook chaos by die Vodacom-ICT-sentrum in Sunnyside, Pretoria, waar honderde ouers om antwoorde oor plasings gaan pleit het.

Ouers het ook vroegoggend reeds by die Mamelodi Teachers’ Centre gewag.

Lesufi het Dinsdag gesê alle leerlinge wat in 2019 aansoek gedoen het, is teen 3 Desember geplaas, insluitende dié wie se ouers geappelleer het. Die departement het ná verlede jaar se eerste ronde van aansoeke sowat 700 appèlle ontvang.

Honderde ouers staan Woensdag buite die Vodacom ICT-sentrum in Sunnyside, Pretoria, om hul kinders se lot oor skoleplasings te hoor. Foto: Deaan Vivier

Hoewel die meeste appèlle volgens Lesufi nie suksesvol was nie weens ’n gebrek aan plek in skole, het hy beloof dat almal teen Dinsdagaand sou weet waar hul kinders Woensdag moes aanmeld.

Nonala Buthelezi, een van die ouers wat vroegoggend reeds in Sunnyside was, het wel in 2019 appèl aangeteken teen haar dogter, Azize Maphumulo (14), se plasing in ’n skool waar sy Woensdag veronderstel was om haar hoërskoolloopbaan te begin.

Sy het geen antwoord gekry nie.

“Dis chaos hier . . . Hulle het aanvanklik gesê ons moet Maandag hier wees, maar hulle was nog toe en het gesê ons moet vandag terugkom. Is dit net ’n speletjie wat die regering met ons speel?” wil sy weet.

Lesufi het Dinsdag gesê laat aansoeke sal tot 24 Januarie aanvaar word en alle leerlinge sal teen 31 Januarie geplaas wees.

Hy het ook gesê hy gaan private skole se hulp inroep.

Hy sê die leerlinge wat daar sal skoolgaan, is wel almal verlede jaar geplaas, maar weens infrastruktuurkwessies by skole of die ontevredenheid van ouers, moes die leerlinge geskuif word.

“Hulle sal tydelik daar skoolgaan en nie meer betaal as die skool waarvoor hulle aansoek gedoen het nie,” sê hy.

Nóg leerlinge geplaas nadat laat aansoeke geslaag het

Die Gautengse departement van basiese onderwys het Woensdag alle laat aansoeke wat hy dié dag ontvang het verwerk en gevolglik 10 191 leerlinge in skole geplaas.

Deur die laat aansoekproses wat Woensdag begin het, wil die departement ouers tegemoetkom wat nie verlede jaar betyds aansoek om skoolplasing gedoen het nie.

“Die laat aansoekproses het glad verloop en geen haakplekke is ondervind nie,” lui ’n verklaring wat Woensdagaand deur die Gautengse onderwysdepartement uitgereik is.

Dit kom nadat die departement vandeesweek uit verskeie oorde deurgeloop het omdat ’n beduidende aantal leerlinge, wie se ouers betyds aansoek gedoen het, nie voor die eerste skooldag Woensdag geplaas kon word nie.

Die hoofrede daarvoor is dat ouers nie plekke wou aanvaar nie omdat hulle ontevrede is met die skole waar hul kinders plek gekry het, sê die departement.

Luidens die departement dui die groot aantal laat aansoeke daarop dat party ouers nie luister na die beroep om betyds aansoek te doen nie.

Hy het ouers gemaan om die plekke wat hulle aangebied word, te aanvaar omdat die beskikbare plek in skole al hoe minder word.

“Die getal skole waar daar nog beskikbare plek is, het Woensdag van 1 267 tot 760 gedaal. Daarom het ouers wat uitstel beperkte opsies om skole te kies.

“Ouers word daaraan herinner dat slegs skole met beskikbare plek oop is vir laat aansoeke. Slegs een aansoek kan gedoen word en dokumente moet binne 24 uur by die skool ingedien word.”

Ouers kan aanlyn aansoek doen of hulle kan die departement se provinsiale kantoor, sy 15 distrikskantore of 57 inloopsentrums tussen 08:00 en 16:00 besoek. Ouers sal tot 24 Januarie aansoek kan doen.

Die departement waarsku hy sal nie verantwoordelikheid aanvaar vir plekke wat verlore gaan omdat ouers versuim om leerlinge by die skole te registreer waar hul plek kry nie.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, sê in die verklaring die plasings is gegrond op ’n gereguleerde plasingsproses. - Christiaan du Plessis

“Ouers is die geleentheid gegee om appèl aan te teken en hierdie prosesse is regverdig beoordeel,” sê Lesufi.

Ouers staan buite die Vodacom ICT-sentrum in Sunnyside, Pretoria, om hul kinders in skole te kan plaas. Foto: Deaan Vivier
Ouers sit al glo sedert Woensdag 01:00 voor die Mamelodi Teachers’ Centre met die hoop dat hul kinders in skole geplaas sal word. Foto: Deaan Vivier
Ouers staan Woensdag tou buite die Mamelodi Teachers’ Centre om hul kinders te registreer.Foto: Deaan Vivier

Meer oor:  Skoleplasings  |  Panyaza Lesufi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.