Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Ouers bekommerd oor kleuters wyl kleuterskole toe is

Die eienaars van verskeie kleuterskole met wie Netwerk24 gepraat het, sê ouers wat Maandag moet terugkeer werk toe, is bekommerd oor die versorging van hul kinders.

Volgens die jongste inperkingsregulasies heropen vroeëkinderontwikkelingsentrums eers op 6 Julie.

Ds. Nioma Venter van die Wes-Kaapse sinode van die NG kerk se diensgroep Diaconia, sê by die Little Seeds-sentrum is dit ouers se grootste bekommernis.

Dit gaan nog ’n maand wees voordat die kleuters van Ommihoek-kleuterskool in Pretoria weer op die klimrame kan speel. Foto: Ommihoek.co.za

Little Seeds is ’n vroeëkinderontwikkelingsprogram wat verlede jaar deur Badisa, ’n maatskaplike organisasie en Diaconia gestig is. Die sentrum versorg gewoonlik 3 171 kinders in 14 kleuterskole en bedryf ook sowat 350 dagmoederprogramme.

“Die huidige opsies is dat ’n kind by ’n familielid of vriendin gelos kan word of iemand kan na jou huis kom,” sê Venter.

Venter sê hulle is uiters besorgd oor die risiko’s vir die verspreiding van die virus en doen al die moontlike om gereed te wees vir wanneer programme hervat kan word.

“Ons maak veral ook staat op instruksies van die departement maatskaplike ontwikkeling om te verseker die nodige protokol en riglyne sal ingestel wees. Daar is soveel uitdagings en grys gebiede waarop niemand tans antwoord het nie, byvoorbeeld hoe hou jy afstand tussen klein kindertjies; hoe beperk jy die getal kinders in ’n klas.

“Little Seeds is besig om beskermende toerusting gereed te kry en al ons kleuterskole daarmee toe te rus,” sê Venter.

Anne-Marie Saffi, koördineerder van Little Seeds kleuterskole in die Suid-Kaap, sê ouers het gemengde gevoelens.

“Ouers is bekommerd oor wie hul kinders gaan versorg wanneer hulle terugkeer werk toe, maar terselfdertyd is hulle ook baie beskermend teenoor hul kinders en die gevaar om aan die virus blootgestel te word. Ons vind dat hulle meer gerus is as hulle ingelig word oor maatreëls teen die virus by kleuterskole,” sê Saffi.

Hoe nou gemaak as ons toemaak?

Dis nie net ouers wat besorgd is nie.

Kleuterskooleienaars soos Hannelie de Bruin, van die Ommihoek-kleuterskool in Pretoria sê sy sukkel om haar 16 werknemers te betaal.

“Elf van daardie 16 is broodwinners; wat gaan hulle doen as ons toemaak?” sê De Bruin.

De Bruin sê die kleuterskool het finansiële tekorte gehad sedert die aanvang van die staat van inperking omdat sommige ouers nie die volledige skoolgeld kon betaal nie.

Sy het egter hard probeer om die vyf onderwysers, kok, assistente en tuinman by die skool te betaal.

Sy sê die ouers van die 52 kinders wat ingeskryf is by Ommihoek, wil byna daagliks by haar hoor wanneer die kleuterskool heropen.

“Daar is ’n rede dat die ouers se kinders in kleuterskole is.”

Kobie van Rensburg van Pretoria, ma van drie kleuters, sê die inperking en sluiting van kleuterskole het haar en haar man, Eddie, se inkomste beïnvloed. Kobie is ’n projekbestuurder vir ’n oorsese maatskappy en Eddie is ’n sakeman.

“My man het onlangs ’n nuwe onderneming begin en ek werk van die huis af. Sedert die kleuterskool toegemaak het, is die kinders heeltyds by die huis. My man kan nie aan sy onderneming bou nie, want hy versorg die kinders. Ek is nou die broodwinner van die huis,” sê sy.

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement van basiese onderwys, sê die fokus is nou daarop om skole vir leerlinge in gr. 7 en 12 te heropen en “deur die ervaring te gaan en om te sien wat die praktiese implikasies is as die kinders terug is in die skool.”

Meer oor:  Gesluit  |  Kleuters  |  Staat Van Inperking  |  Werk  |  Ouers  |  Kinders  |  Kleuterskole  |  Versorging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.