Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Ouers in Wes-Kaap ‘moet kalm bly oor plek in skole’

Ouers in die Wes-Kaap hoef nog nie paniekerig te raak oor plasing vir hul kinders in skole aanstaande jaar nie. Die proses is nog ver van klaar, sê Debbie Schäfer, LUR vir onderwys.

“Die aanvanklike aanbiedingsronde vir plekke in Wes-Kaapse skole is nog aan die gang. Skole het verlede week eers begin om ouers te laat weet of hul aansoeke suksesvol is.

“Sommige ouers het egter nog nie ’n aanbod ontvang van enige van die skole waar hulle aansoek gedoen het nie, en baie mense is bekommerd dat hulle nie plek vir hul kind sal kry nie.

“Ek versoek ouers om kalm te bly. Dit is net die eerste ronde van aanbiedings, en as jy nie in hierdie stadium ’n aanbod ontvang het  nie, beteken dit nie dat jou kind volgende jaar geen plek by enige skool sal hê nie.”

Debbie Schäfer, LUR vir onderwys in die Wes-Kaap. Foto: Curt Lottring/Son

Sy sê ouers wat reeds ’n aanbod van ’n plek ontvang het, het tot 25 Junie om hul finale keuse van skool vir 2022 te bevestig. So is meer as 20 000 leerlinge reeds aanvaar by die skool van hul keuse én ander skole.

Sodra die ouers dan die keuse gemaak het, sal meer as 20 000 plekke weer beskikbaar gestel word, sê sy.

Meer as 50% van die leerlinge ter sprake is in gr. 8. “Ons doen ’n beroep op ouers om te verstaan dat die proses nog nie verby is nie,” sê Schäfer.

Sy het ook ’n spesiale beroep gedoen op ouers om so gou moontlik te bevestig watter skool hul kind gaan bywoon. “Só kan skole bepaal hoeveel plekke hulle nog oor het.”

Sy sê daar bestaan wanopvattings oor plasing by skole. Sommige mense beweer leerlinge word deur “die stelsel” by sekere skole aanvaar.

“Dit is onwaar. Skole evalueer die aansoeke wat hulle via die stelsel ontvang en bied op dié grondslag aanbiedings vir plasing. Elke skool het sy eie toelatingsbeleid, soos bepaal deur die skoolbeheerliggaam, wat toegepas word op al die aansoeke wat hy ontvang.

“Die wet spesifiseer ook sekere kriteria wat oorweeg moet word, insluitend waar ’n leerling woon of waar die ouers werk.”

Chris Klopper, hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU), beaam dit en sê dit is belangrik dat ouers hul kinders betyds by skole inskryf vir die volgende skooljaar.

“Ouers moet kennis neem van die taalbeleid by die skool waar hulle aansoek doen sodat hulle seker is die onderrig word aangebied in die taal van hul keuse,” sê hy.

“Die aansoekers wat tydig en korrek aansoek gedoen het, is geholpe.”

Ek versoek ouers om kalm te bly. Dit is net die eerste ronde van aanbiedings, en as jy nie in hierdie stadium ’n aanbod ontvang het nie, beteken dit nie dat jou kind volgende jaar geen plek by enige skool sal hê nie.

Hy sê sekere skole is in groot aanvraag en bereik ’n punt waar hulle heeltemal vol is, veral vir gr. 1’s en gr. 8’s. “Die uitdaging is om te verseker dat alle skole onderrig van dieselfde gehalte aanbied sodat die vraag na sekere skole nie so hoog vergeleke met ander is nie,” sê hy.

Schäfer sê: “Ons kan nie waarborg die ouer sal die skool van hul eerste keuse kry nie. Elke skool het net ’n bepaalde aantal plekke.

“Baie van ons ouers het ongelukkig aansoek gedoen by enkele van die gewildste skole wat reeds vol is. Hulle het dus baie meer aansoeke ontvang as wat hulle kan akkommodeer. Dit is waarom ons ouers vra om aansoek te doen by tot tien skole op die stelsel, ook die naaste aan hulle.”

Vanessa le Roux, stigter van die groep Ouers teen die Heropening van Skole, wat nou bekend staan as Parents for Equal Education SA (PEESA), bly krities oor Schäfer en die Wes-Kaapse onderwysdepartement.

“Ons grootste probleem is fokus-skole wat vereistes het vir byvoorbeeld wiskunde en wetenskap,” sê Le Roux.

“Daar is byvoorbeeld ’n gemeenskap met vier skole waarvan drie fokus-skole is. Waarheen moet die res van die kinders gaan?

“Dit is net ’n manier om sekere kinders uit te sluit. Skole is veronderstel om kinders se potensiaal te ontwikkel – hulle is nie instellings van hoër onderwys nie. Dit is diskriminerend.”

Meer oor:  Debbie Schäfer  |  Wes-Kaap  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.