SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Onderwys
Ouers kan kies oor seksopvoeding in skole, maar ...

Ouers sal die reg hê om te kan kies dat hul kinders nie onderwerp word aan die omstrede plan vir seksvoorligting in klaskamers nie.

Maar dan moet sulke ouers ’n alternatiewe kurrikulum opstel wat aan die vereiste Caps-skoolkurrikulum se kriteria vir aanvaarding voldoen, sê Angie Motshekga, minister van basiese onderwys.

Caps is die kurrikulum-assesseringsbeleidsverklaring.

Motshekga voer so aan in ’n parlementêre antwoord nadat Nomsa Marchesi, DA-woordvoerder oor basiese onderwys, vroeër in ’n parlementêre vraag by haar wou weet of ouers kan kies of hul kinders aan die Comprehensive Sexuality Education- (CSE) lewensoriënteringskurrikulum in skole onderwerp word of nie.

Die kurrikulum sal na verwagting in 2020 ingestel word en vir gr. 4- tot gr. 12-leerlinge verpligtend wees.

Motshekga is ook gevra of daar opgetree gaan word teen onderwysers wat gekant is teen die CSE en dit nie wil aanbied nie.

Angie Motshekga Foto: Elizabeth Sejake

Volgens haar word CSE aangebied as deel van die Caps vir lewensvaardighede en lewensoriëntering. “Daar word van onderwysers verwag om die leergang te lewer soos uiteengesit in die Caps.”

Marchesi wou ook weet hoe die departement verseker het dat die menings van ouers, geloofsgroepe en relevante nieregeringsorganisasies met betrekking tot die CSE-programme in ag geneem word.

Motshekga het gesê sedert die bekendstelling van die CSE in 2000 het die departement deurlopend raadplegende vergaderings met belanghebbendes op nasionale en provinsiale vlak gehou.

“Die menings van ouers word verteenwoordig deur verenigings van skoolbeheerliggame wat deel vorm van die Nasionale Raadplegende Forum van die departement, waar die CSE-programme voortdurende bespreek word.

“Die menings van geloofsgroepe en relevante nieregeringsorganisasies word verteenwoordig deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Vigsraad, wat die amptelike koördineringstruktuur van die land se MIV-reaksie is, sowel as vir die verhouding tussen die regering, burgerlike organisasies en die godsdienssektor, onder meer.

Motshekga is ook gevra op watter bewyse die CSE-beleid gegrond is. Volgens haar het die departement egter nie ’n CSE-beleid nie. “In plaas daarvan is die CSE deel van die lewensvaardighede- en lewensoriënteringskurrikulum en assesseringsbeleidsverklaring.”

Motshekga het bygevoeg dat die “empiriese” bewyse vir die CSE egter gegrond is op studies soos die algemene huishoudelike opname oor onderwys, die Suid-Afrikaanse nasionale MIV-voorkoms, -gedrags en -kommunikasiepeiling, die Suid-Afrikaanse jeugrisikogedragsopname, die Suider-Afrikaanse Konsortium vir die Monitering van Opvoedkundige Gehalte en die Unesco- internasionale tegniese leiding oor seksopvoeding.

Meer oor:  Nomsa Marchesi  |  Angie Motshekga  |  Onderwys  |  Seksvoorligting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.