SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Onderwys
Ouers moeg gesukkel vir onderwyser
Afrikaanse ouers staan Dinsdag voor die Sandisulwazi Secondary School in Paterson in ’n poging om die skool te sluit weens die afwesigheid van ’n Afrikaansonderwyser. Foto: Verskaf

Afrikaanse ouers van ’n hoërskool in die Oos-Kaap beoog om al die skole van die plattelandse dorp te beset totdat die LUR vir onderwys die dorp besoek.

Ouers en leerlinge van die Sandisulwazi Secondary School, die enigste hoërskool in Paterson, sowat 40 km buite Port Elizabeth, het Dinsdag vir ’n tweede dag die hoërskool se hekke probeer sluit uit protes teen die afwesigheid van ’n Afrikaansonderwyser.

Die skool het in Mei verlede jaar laas ’n permanente Afrikaansonderwyser gehad, sê Alfred Salters, beheerraad-voorsitter.

“Die hele gr. 10-klas het die vak Afrikaans in 2017 gedruip en dit het ’n groot invloed op die slaagsyfer gehad,” sê Salters.

Hoewel die departement van onderwys teen Augustus ’n tydelike Afrikaansonderwyser vir drie maande lank aangestel het, meen Salters dié onderwyser was onbevoeg en te laat om die leerlinge vir hul eindeksamen voor te berei.

Vanjaar was daar egter nog geen Afrikaansonderwyser om vir die sowat 64 Afrikaans-leerlinge klas te gee nie.

Tydens die Afrikaansperiode speel die leerlinge glo buite om die tyd verby te kry.

Mali Mtima, woordvoerder van die onderwysdepartement, het Dinsdag gesê dat die situasie nog voor einde Februarie opgeklaar sal word.

“Ons het reeds ’n kandidaat waarmee ons so gou as moontlik ’n onderhoud vir die pos van Afrikaansonderwyser sal voer.”

Mtima sê die departement beoog dat ’n Afrikaansonderwyser teen die einde van die maand by die skool sal begin.

Hoe kan ’n Xhosa-sprekende persoon vir Afrikaanse kinders leer van Afrikaans?

Maar Salters sê die ouers sal ook nie bes gee as die departement ’n Xhosa-persoon as die Afrikaansonderwyser aanstel nie.

“Hoe kan ’n Xhosa-sprekende persoon vir Afrikaanse kinders leer van Afrikaans?

“Die ouers wil hê die LUR (vir onderwys) moet die skool besoek en die omstandighede kom sien.”

Mtima het egter prontuit gesê dat die LUR nie van plan is om die skool te besoek nie, aangesien die probleem bykans opgelos is.

“Van waar ons staan, lyk dit of die hele situasie ’n rassekwessie is. Dit lyk of hulle nie ’n gekwalifiseerde swart man as Afrikaansonderwyser wil hê nie en die departement sal geensins rassisme duld nie.”

Mtima het benadruk dat die kandidaat gekwalifiseerd is, maar wou nie uitwei oor die persoon se ervaring nie en sê “ervaring kom met tyd”.

Hy sê ook Mandla Makupula, LUR vir onderwys in die provinsie, sal nie die skool binnekort besoek nie, aangesien daar geen verdere probleme is wat onder hul aandag gebring is nie.

Meer oor:  Afrikaans  |  Oos-Kaap  |  Onderwyser  |  Xhosa  |  Skool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.