Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
‘Ouers moenie op hol gaan oor konsepplan vir skole’

Hoewel onderwysorganisasies die infasering van die skooljaar ondersteun, vra hulle dat mense nie op hol moet gaan oor konsep-dokumente wat die ronde doen nie.

’n Konsepplan met die onderwysdepartement se embleem waarin die infasering van die skooljaar vanaf 6 Mei klaarblyklik uiteengesit word, het die afgelope week uitgelek.

Paul Colditz

Volgens die konsepplan getiteld “Phasing in Approach” kan gr. 12- en gr. 7-leerlinge op 6 Mei terugkeer, gevolg deur gr. 11-leerlinge op 20 Mei.

Leerlinge in gr. 10 en gr. 5 volg op 3 Junie en daarna gr. 9 en gr. 4 (7 Junie) en gr. 8 en gr. 3 (1 Julie).

Leerlinge in gr. 1, gr. 2 en gr. R word laaste ingefaseer, op onderskeidelik 8 en 15 Julie.

Die departement van basiese onderwys het nie Vrydag op Netwerk24 se navrae gereageer nie, maar het vroeër aan News24 gesê daar kan nog nie oor die plan uitgebrei word nie omdat besonderhede nog uitgestryk word.

Basil Manuel, uitvoerende direkteur van die onderwysersvakbond Naptosa, sê egter ouers en onderwysers moet nie onnodig op hol gaan nie.

“Daar sal ’n finale dokument gepubliseer word en daaraan kan ’n mens aandag gee. Dit is ’n proses, ons is nog nie by die einde nie. Dokumente is deel van ’n breër gesprek wat in die volgende paar dae afgehandel word.”

Paul Colditz, voorsitter van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê dis problematies dat die konsepplan uitgelek is.

“Dit is verwarrend en het nou eintlik die status van fopnuus. Dit skep spanning, stres en selfs angs. Ons veroordeel die optrede van diegene wat by die uitlek of verspreiding daarvan betrokke is.”

Dit is verwarrend en het nou eintlik die status van fopnuus. Dit skep spanning, stres en selfs angs. Ons veroordeel die optrede van diegene wat by die uitlek of verspreiding daarvan betrokke is.

Naptosa, Fedsas en die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) is van die organisasies wat by die onderwysdepartement se konsultasieproses betrokke is. Die rolspelers glo infasering is die regte benadering, maar meen die konsepplan se volgorde moet heroorweeg word.

‘Gr. 1 is kritiek belangrik’

Colditz meen skole het geen ander keuse nie as om die onderrigproses in te faseer, veral weens die risiko dat die virus vinnig kan versprei as groot getalle leerlinge op een slag saamdrom. Hy voeg by dit is noodsaaklik dat onderwys voortgaan, veral vir leerlinge wat nie toegang tot aanlyn hulpbronne het nie.

“Die welstand van kinders kom eerste en dit sou onnadenkend en riskant wees om die proses sommer eensklaps vir almal te begin.”

Klopper sê die toepassing van die gesondheidsdepartement se voorskrifte, asook die beskerming van leerlinge en onderwysers, is kompleks.

“Die voorskrifte is daaglikse ontsmetting, die moontlike toetsing van leerlinge en die handhawing van ’n gesonde afstand. Dit kan onmoontlik verseker word as die leerlinge in groot getalle terugkeer,” sê hy.

Naptosa ondersteun infasering, maar Manuel sê daar is kwessies waaroor hulle verskil.

“Die datums is nie gefinaliseer nie, maar op grond van die konsepplan het ons ’n probleem met die groot gapings tussen die datums vir verskillende grade. Ons stem saam met die datums vir gr. 12 en gr. 7, maar moet gr. 1 en gr. 9 nie eerder volgende wees nie?

“Dit is kritieke grade, gr. 1 omdat hulle waarskynlik die meeste verloor het, en gr. 9 omdat hulle die gr. 10-fase betree waar hulle vakke moet kies,” sê Manuel.

Colditz stem saam dat gr. 9-leerlinge vroeër moet begin.

“ ’n Mens kan ook sê gr. 1 is eintlik die belangrikste skooljaar, maar dit moet gebalanseer word met die feit dat dit moeiliker is om higiëne-maatreëls vir jonger kinders toe te pas. Dinge soos die handhaaf van ’n gesonde afstand is vir hulle moeilik verstaanbaar,” verduidelik hy.

Colditz sê skole met spesiale onderwysbehoeftes is ook ’n probleem weens hul unieke situasies.

Volgens Klopper is die konsep-intervalle tussen die infasering van grade moontlik te lank en kan ’n ander volgorde vir laerskole oorweeg word.

“Daar kan vroeër met gr. 1 begin word, omdat hulle besig is met die aanleer van leesvaardighede en ’n later datum kan daartoe lei dat hulle die vaardighede verloor.

Daar kan vroeër met gr. 1 begin word, omdat hulle besig is met die aanleer van leesvaardighede en ’n later datum kan daartoe lei dat hulle die vaardighede verloor.

“Maar die voorskrifte van die gesondheidsdepartement is bepalend, nie dié van die onderwysowerhede nie,” sê hy.

‘Moenie skooljaar skrap’

Die organisasies is dit eens dat die akademiese jaar gered kan word en Manuel sê Naptosa is gekant teen voorstelle dat die jaar geskrap en leerlinge na die volgende graad oorgeplaas moet word.

“As jy gr. 1’s deursit, verskuif jy die taak om leerlinge te leer lees en skryf. Die gr. 2-onderwyser is nie ingestel daarop om dié vaardighede te onderrig nie. Hulle moet die vaardighede vaslê. Jy gaan kinders met massiewe gapings in hul onderrig los.

“Daar sal nou ander gapings wees, maar ons kan dit verklein deur die res van die skooljaar te benut,” sê hy.

Colditz glo verskeie stappe kan gedoen word en sê vakansies moet nie afgeskaf word nie, maar wel verkort word.

“Die skooldag moet verleng word, buitemuurse aktiwiteite moet uitgestel of afgeskaf word, onnodige eksamens en assessering moet afgeskaf of afgeskaal word en die skoolkalender moet aangepas word,” sê hy.

“Die matriekeksamen moet later geskryf word en dele van die kurrikulum wat nie noodsaaklike boublokke vir die volgende jaar is nie, moet afgeskaal word.”

Volgens Klopper neem die SAOU die naweek saam met die departement deel aan besprekings oor die snoei van kurrikulums.

“Dit behels dat daar op die belangrikste komponente in elke vak en graad gefokus word om te verseker leerlinge word nie benadeel nie.

“Elke skool sal bestekopname moet neem en die onderwysowerhede sal moet besef dat ’n eenvormige benadering nie sal werk nie.”

Meer oor:  Basil Manuel  |  Paul Colditz  |  Skole  |  Heropen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.