Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Oupagrootjie (91) kry sy doktorsgraad

Andries Conradie se bloedrooi mantel staan uit tussen die massa swart togas wat in die ingangsportaal van die Winnie Madikizela-Mandela-gebou vergader.

Andries Conradie
Andries Conradie het Vrydag sy doktorsgraad op Unisa se kampus in Pretoria ontvang. Foto: Arisa Janse van Rensburg.

Dit is wel nie net sy klere wat Conradie onderskei nie, maar ook sy fyn, wit hare en sy effens geboë postuur.

Op 91 was Conradie verreweg die oudste mens wat Vrydag graad gevang het op Unisa se gradeplegtigheid en daarby ’n doktorsgraad in filosofiese teologie.

Hy het vanjaar sy doktorale tesis voltooi met die titel “Die Bybel as problematiese teks – ’n kritiese ontleding aan die hand van polemieke in die Nederduits Gereformeerde Kerk: Van Johannes du Plessis tot Willem Vorster en Ferdinand Deist (1920-2000)”. (Sien hieronder.)

Wanneer sy dogter, dr. Alet Harmse, hom met sy toga en kappie help, sê hy met ’n glimlag: “Die laaste keer dat ek ’n graad gekry het, was in 1967.”

Toe het hy sy meestersgraad in geskiedenis voltooi. Hy vertel met oorgawe van sy loopbaan as hoërskool-geskiedenisonderwyser, skoolhoof en universiteitslektor.

En dit was as lektor aan die Fort Hare-Universiteit in die Oos-Kaap in die apartheidsjare dat die teenstrydighede in die Bybel hom vir die eerste keer begin pla het.

“Ek kon nooit verstaan dat ek en my swart kollega kon koffie drink in die Transkei en Mthatha nie, maar wanneer ons Grahamstad toe gaan, dan mag ons nie.”

Andries Conradie wou graag sy familie by sy gradeplegtigheid hê. Van links is sy jongste broer, Herman Conradie, dr. Alet Harmse, sy dogter, Conradie en Alta van Wyk, sy kleindogter. Foto: Arisa Janse van Rensburg
Prof. Sakkie Spangenberg (links) en prof. Willem Boshoff het Andries Conradie (middel) met sy doktorstesis gehelp. Foto: Arisa Janse van Rensburg

Volgens hom het hy en sy oorlede vrou toe reeds baie oor die onderwerp gesels “omdat die meeste van ons vriende swart of Engels was. Toe lees ons hoe die Bybel gebruik word om apartheid te regverdig”.

Die eerste keer dat hy vrae oor die goddelike oorsprong van die Bybelverhale gevra het, het ’n dominee aan hom gesê die probleem is dat hy te veel lees, sê hy laggend.

Dit het hom wel nie afgeskrik nie.

“Ek kan nie glimlag nie, my tande is te min daarvoor,” het dr. Andries Conradie op sy gradeplegtigheid geskerts. Foto: Arisa Janse van Rensburg
Andries Conradie voor die Winnie Madikizela-Mandela-gebou op Unisa se kampus in Pretoria waar hy Vrydag sy doktorsgraad verwerf het. Foto: Arisa Janse van Rensburg
Andries Conradie meen dit is omdat hy baie lees, klein porsies kos eet en op sy oudag nog elke dag brandewyn en water drink dat hy nog genoeg energie het om selfstandig te wees. Foto: Arisa Janse van Rensburg

Nadat hy in 1992 afgetree het, het die gogga vir ’n doktorsgraad hom weer gebyt nadat ’n vorige poging misluk het. Prof. Sakkie Spangenberg, sy studieleier, sê Conradie het ses jaar aan sy tesis gewerk.

“Hy wou dit aanvanklik voor sy 90ste verjaardag voltooi, maar ’n beenoperasie het hom ’n jaar vertraag.” Spangenberg sê hy is baie trots op Conradie se tesis.

Conradie deel graag sy geheim om op so ’n hoë ouderdom nog aktief te wees. “Ek hou my brein aan die gang, ek eet net ’n bietjie kos op ’n slag en ek drink elke dag nog my dop brandewyn.”

Hy voeg vinnig by dat hy dit met water verkies, “want daai ouens wat Coke by brandewyn gooi, pleeg sonde”.

Daar is ook geen keer aan hom nie. Hy wil nou ’n biografie skryf oor Willem Vorster, een van die teoloë aan wie hy ’n hoofstuk in sy tesis gewy het.

Conradie se doktorale tesis

“Die Bybel is ’n menslike geskrif oor wat mense oor God gedink het. Dit is absoluut bog om te sê dit is die woord van God.” So som dr. Andries Conradie sy doktorale tesis op.

Met die tesis wou Conradie mense uitdaag om meer krities oor die Bybel te wees en nie alles goedsmoeds te aanvaar nie. Hiervoor het hy na teenstrydighede in die Bybel gaan kyk, soos ondersoek is deur Johannes du Plessis, Willem Vorster en Ferdinand Deist.

Du Plessis was ’n teoloog wat gesê het hy kan nie in die Bybel glo sonder om dit te probeer verstaan nie. Dit het tot ’n krisis in die Gereformeerde Kerk gelei. “Klagtes dat Du Plessis op ’n gevaarlike pad was, het uiteindelik tot ’n buitengewone sinode in 1930 gelei toe hy van sy pos onthef is.”

Vorster en Deist het hul opleiding as teoloë voltooi. Hulle het hulself nie beroepbaar gestel nie, maar was krities oor hoe die Bybel gebruik word om apartheid te regverdig.

“In Suid-Afrika het Johannes du Plessis nie gedwaal in sy openlike verklaring dat die Bybel foute en teenstrydighede bevat wat nie aan goddelike inspirasie toegeskryf kan word nie; ná 40 jaar waartydens geen kritiek op die Bybel geduld is nie, het Ferdinand Deist en Willem Vorster die intellektuele debat weer begin en verder gevoer met kritiese vrae . . . oor die opvatting dat die Bybel die Woord van God is, wat nie geïgnoreer kan word nie,” skryf Conradie in sy tesis.

Hy kyk ook na die Nasionale Party se opvatting dat apartheid die wil van God was.

Conradie verwys ook na verskeie gruweldade in die Bybel en hoe dit in kontras staan met die begrip van ’n liefdevolle God.

Hy meen Genesis 2 en 3 is wolhaarstories, aangesien daar reeds vroeër in die Bybel van “ons” gepraat word nog voordat God man en vrou gemaak het. “As dit homself weerspreek, kan dit mos nie God se Woord wees nie.”

In sy slotsom meen Conradie dit is duidelik dat “mense steeds dom gehou word oor die inhoud van Bybelverhale wat teenstrydighede bevat en nie aan God as die Spreker verbind kan word nie”.

“Met die vermeerdering van kennis deur wetenskaplike ondersoek en gebruik van die rede het dit vir die moderne ondersoeker moontlik geword om vreesloos te wys op foute en teenstrydighede in die Bybel – wat nie weggeredeneer kan word nie en ook nie aan God toegeskryf kan word nie.”


Meer oor:  Unisa  |  Doktorsgraad  |  Gradeplegtigheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.