Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Pandor: Gaping tussen vroue-, manstudente groei

Vroue maak oor alle rassegroepe heen die meeste studente in tersiêre onderrig uit, behalwe in wetenskap, ingenieurswese en tegnologie, en dié gaping tussen die geslagte word al hoe groter, sê Naledi Pandor, minister van hoër onderwys.

Naledi Pandor, minister van hoër onderwys. Foto: Morapedi Mashashe

Pandor het Dinsdag in ’n toespraak aan belanghebbers oor naskoolse onderrig en opleiding in Pretoria gesê vrouestudente is in die meerderheid op byna alle studiegebiede.

Swart Afrikane is ook ’n groeiende meerderheid. Hulle het toegeneem van 66,7% van die studente in 2010 tot 73,7% in 2017.

Die getal permanente personeellede het die afgelope dekade egter nie tred gehou met die verdubbeling van studentegetalle nie en al hoe meer personeellede is net tydelik aangestel.

In 2017 is 1,2 miljoen studente in openbare en private onderwysinstellings ingeskryf, vergeleke met ’n teiken van 1,6 miljoen teen 2030 in die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP).

Aan kolleges vir tegniese en beroepsopleiding is 688 028 studente ingeskryf, vergeleke met ’n teiken van 2,5 miljoen vir 2030.

Meer vroue is ook aan dié kolleges ingeskryf. Hulle het van 47,7% van die studentetal in 2010 tot 57% in 2017 toegeneem.

Aan gemeenskapskolleges is 258 199 studente in 2017 ingeskryf, terwyl die NOP se teiken 1 miljoen teen 2030 is. Vroue is weer eens in die meerderheid en maak 69% of meer van die studente uit, terwyl swart studente 92,2% van die studentetal uitmaak.

Pandor het kommentaar gelewer op twee onlangse verslae van haar departement oor die tersiêre onderwysstelsel in 2017 en vordering wat gemaak is in vergelyking met ander lande.

In 2017 was daar 26 openbare universiteite, 125 private universiteite, 50 kolleges vir tegniese en beroepsopleiding, 268 geregistreerde private kolleges en nege gemeenskapskolleges.

210 931 studente het in 2017 grade ontvang, waarvan die meeste baccalaureusgrade is en in wetenskap, ingenieurswese en tegnologie verwerf is.

Die aantal doktorsgrade het van 1 420 in 2010 tot 3 057 in 2017 toegeneem. Die teiken is 5 000 teen 2030.

Die privaat sektor het in 2017 35 922 gegradueerdes bygedra.

Volgens Pandor dui die syfers van akademiese personeellede ook ’n op ’n “verbetering in gelykheid en inklusiwiteit”.

Die persentasie permanente swart, bruin en Asiër-personeellede het van 43% in 2010 tot 53% in 2017 toegeneem, terwyl die gedeelte wat vroue uitmaak van 44% tot 47% gegroei het.

“Die getal wit personeellede neem af en aantal permanente swart personeellede neem toe, maar min permanente poste word beskikbaar gestel. Universiteit maak eerder van tydelike werknemers gebruik.”

Pandor het verwys na ’n oorsig van 20 jaar van die Raad op Hoër Onderwys wat beklemtoon het dat “daar weinig of selfs geen toename in permanente personeellede was nie te midde van ’n verdubbeling van studentegetalle die afgelope dekade”.

“Die werklas word deur tydelike werknemers opgeneem. Een uit drie is permanent aangestel, twee uit drie is tydelike werkers met verskeie soorte kontrakte.”

Aangesien meer voornemende studente wil inskryf as wat daar plek by instellings is, het die fokus verskuif na die uitbou van kapasiteit en om alternatiewe bane vir onderwys aan te bied, sê Pandor.

* Pandor het Dinsdag haar doktorsgraad in onderwys aan die Universiteit van Pretoria verwerf vir haar navorsing oor transformasie in hoër onderwys.

Meer oor:  Hoër Onderwys  |  Naledi Pandor  |  Geslagsgelykheid  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.