Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Pandor se bykomende geld kan kampusse stabiliseer

Die byna R1 miljard wat bewillig is om historiese studieskuld aan universiteite te vereffen, kan kampusse landwyd stabiliseer omdat studente nie meer ’n rede sal hê om oproerig te wees nie, sê dr. Theuns Eloff, uitvoerende direkteur van die F.W. de Klerk-stigting en voormalige universiteitsrektor.

Dr. Theuns EloffFoto: Theana Breugem

Hy het Maandag gereageer op Naledi Pandor, minister van hoër onderwys en opleiding, se aankondiging Sondag dat haar departement nog R967 miljoen aan die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) toegeken het om sowat 52 000 studente se studieskuld te delg.

Dit is studente wat in 2018 aan universiteite geregistreer was, maar kragtens die vorige NSFAS-bedeling gefinansier is.

Ralph Mathekga, politieke ontleder van die Universiteit van Wes-Kaapland, meen die regering moet waaksaam wees om nie gyselaar gehou te word deur studente wat met ontwrigting op kampusse dreig as daar nie gehoor gegee word aan hul eise nie.

Eloff sê hy is op rekord dat Suid-Afrika nie gratis hoër onderwys kan bekostig nie.

Volgens hom is Pandor se aankondiging ook nie ’n verkiesingsfoefie nie omdat dit veral arm studente sal help.

Hy sê dit is ook goeie nuus vir universiteite wat die geld broodnodig het.

Hy meen so ’n aankondiging moes kom omdat baie kwalifiserende studente die voordeel van gratis hoër onderwys en opleiding, wat in 2018 in werking gestel is, net-net gemis het.

Prof. Ahmed Bawa, uitvoerende hoof van Universiteite Suid-Afrika (USAF), het die aankondiging as ’n groot stap in die regte rigting vir universiteite beskryf.

“Dit beteken universiteite sal nou ekstra geld hê vir meer akademiese, instandhoudings- en ander programme waarvoor daar nie geld was nie.”

Ralph MathekgaFoto: Noko Mashilo

Volgens Bawa dek dié geld net studieskuld van studente wat deur die NSFAS gefinansier word. Daarom is ’n nasionale gesprek oor studieskuld nodig, omdat ander studente universiteite ook nog baie geld skuld.

Vir Mathekga ruik die aankondiging na ’n verkiesingsfoefie.

“Dit is ’n probleem. Ons moet eerlik wees. Ons is besig om ’n presedent te skep dat jy sal kry wat jy soek as jy genoeg druk op die regering plaas.

“Hierdie gejaag na gratis hoër onderwys en opleiding gaan later ook ’n groot probleem word, veral omdat daar nie deeglik daarvoor beplan word nie.”

Intussen het Connie September, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor hoër onderwys en opleiding, Maandag ook Pandor se aankondiging verwelkom en sê dit getuig dat onderhandelinge, pleks van die vernietiging van infrastruktuur op kampusse, studente se keuse moet wees om kwessies op te los.

Dakota Legoete, ANC-woordvoerder, het Maandag ook saamgestem Pandor se aankondiging sal universiteitskampusse landwyd stabiliseer.

“Die ANC het onderwys ’n topprioriteit gemaak. Hy bly verbind tot gratis onderwys. Ons is tevrede met die regering se pogings om studente by te staan wat nie self finansieel in staat is om te studeer nie,” sê Legoete.

Meer oor:  Naledi Pandor  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.