Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Paneel bespreek vlaag van geweld in skole

Die faktore wat lei tot skolegeweld in Suid-Afrika is baie en veelsoortig. Dit is egter almal se verantwoordelikheid om te verseker dat leerlinge nie op enige wyse aan geweld blootgestel word nie.

Basil Manuel, hoof van die onderwysersvakbond Naptosa, aan die woord op die Nasionale Persklub se mediakonferensie Dinsdag oor skolegeweld. Links van hom is genl.maj. Thokozani Mathonsi van die polisie en regs is Piet Delport, regsverteenwoordiger van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie. Foto: Ischke de Jager

Dit was Dinsdag die mening van ’n paneel wat die vlaag van geweld in Suid-Afrikaanse skole op ’n mediakonferensie van die Nasionale Persklub in Pretoria bespreek het.

“Ons het ongelykheid wat ons nie in baie plekke in die wêreld sien nie. Ons het trauma van historiese en huidige faktore, en maatskaplike en ekonomiese druk,” sê Cullen Mackenzie, ’n kennis- en navorsingsbestuurder by die Katolieke Instituut vir Opvoedkunde.

“Die normalisering van strafmaatreëls beteken geweld verwek geweld. ’n Stelsel wat op strukturele geweld gebou is, lei eintlik tot meer geweld in skole, omdat skole ’n mikrokosmos van die Suid-Afrikaanse samelewing is.”

Die instituut werk nou saam met 85 skole en volg ’n benadering wat daarop gemik is om te erken, te herstel en te versoen.

“Dit is nie daarop gemik om te straf nie, maar om die persoon op te bou en ons het gesien dat dit ’n positiewe effek het op interpersoonlike verhoudings in die skoolgemeenskap,” sê Mackenzie.

Piet Delport, ’n regsverteenwoordiger van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie, sê onderwysers meen die gebrek aan dissipline weerspieël dit wat in ’n kind se omgewing aangaan.

Die instituut werk nou saam met 85 skole en volg ’n benadering wat daarop gemik is om te erken, te herstel en te versoen.

“Dít is waar ons moet probeer om dinge reg te stel. Onderwysers is nie korrektiewe beamptes en polisielede nie en onderwysers moet nie gewapen wees nie.”

Volgens Basil Manuel, hoof van die onderwysersvakbond Naptosa, is dit die werknemer se verantwoordelikheid om ’n veilige werkplek vir onderwysers te skep.

“As die werkplek veiliger is, word die ruimte van die kinders veiliger. As ons nie aandag gee aan die bestuur van ons skoolstruktuur nie kan ons nie ’n verskil maak nie. En daarsonder gaan ons nie die talle probleme oorkom nie – die probleme is groot en baie.”

Roné McFarlane van Equal Education sê onderwysers moet opgelei word oor hoe om geweld in skole te hanteer.

Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole, sê die gemeenskap is verantwoordelik vir skole en wat in skole gebeur, is ’n refleksie van wat in die gemeenskap gebeur.

Ongelukkig is sommige van hierdie komitees nie so funksioneel soos dit veronderstel is om te wees nie.
Genl.maj. Thokozani Mathonsi

Genl.maj. Thokozani Mathonsi van die polisie sê die probleme in skole kom in daardie omgewings wat reeds deur die uitdaging van misdaad in die gesig gestaar word.

“In 2011 het ons ’n ooreenkoms met die departement van basiese onderwys onderteken waardeur ons kyk hoe ons ons ingrypings met betrekking tot veiligheid in die skool kan verskerp. As gevolg hiervan het ons die skole met die polisiekantore verbind,” sê Mathonsi.

Dié protokol behels ook dat elk van dié skole ’n veiligheidskomitee het.

“Ongelukkig is sommige van hierdie komitees nie so funksioneel soos dit veronderstel is om te wees nie,” sê Mathonsi.

Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys, sê die departement “werk onvermoeid om enige voorval van geweld in en om ons skole uit te wis”.

“Gevalle word aangemeld by die polisie en leerlinge verskyn in ’n tugverhoor voor die skoolbeheerliggaam,” sê Mabona.

“Ons is besig om ongeveer 500 boelies te identifiseer en sal hulle deur middel van programme probeer help. Ouers moet ons egter help om dissipline toe te pas.”

Meer oor:  Steve Mabona  |  Paul Colditz  |  Onderwys  |  Skole  |  Boelies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.