Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Panyaza Lesufi: ‘Alle tale word beskerm’
Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng.Foto: Trevor Kunene

Niemand mag openbare onderrig privatiseer of sê: Hiérdie skool is nét my skool nie.

Daardie dae is verby. Skole behoort aan die regering, het Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, Sondag op ’n mediakonferensie by die departement se plaaslike kantoor in Johannesburg gesê.

Lesufi het teruggekap nadat die burgerregtewaghond AfriForum en Solidariteit se Skole-ondersteuningsentrum (SOS) op 6 Mei 2019 ’n dringende prokureursbrief aan die Gautengse departement gerig het oor gebreke op die aanlyn skoleregistrasieplatform vir 2020.

Dié aanlyn aansoekproses is nou met ’n week – van 13 Mei tot 20 Mei – uitgestel.

Luidens die nuwe regulasies beheer die departement die plasing van ’n leerling en nie die skool nie. Daar word ook nie voorsiening vir taalkeuses gemaak nie en kinders kan in enige skool waar daar binne ’n 30 km-radius van hul huis plek is, geplaas word.

“Buiten vele tegniese probleme is daar ook beginselprobleme,” het Melanie Buys, hoof van ontwikkeling van die SOS, vroeër aan Netwerk24 gesê.

Die department van onderwys in Gauteng se reaksie op die skrywe van AfriForum se regsafdeling.

“Die stelsel in sy huidige formaat ontneem ouers van die reg om ’n keuse uit te oefen oor waar hul kind skoolgaan. Die onderrigtaal van keuse word boonop geensins in berekening gebring nie.”

Met dié dringende prokureursbrief het AfriForum en die SOS gevra dat die stelsel aangepas of die proses uitgestel word totdat die stelsel hersien kan word sodat ouers wel op grond van hierdie aspekte ’n keuse kan uitoefen.

Verder voel albei organisasies sterk daaroor dat leerlinge wat vanjaar reeds vir gr. R by ’n laerskool geregistreer is voorkeur moet geniet vir gr. 1-plasing in dieselfde laerskool in 2020.

Lesufi het ouers Sondag om verskoning gevra vir die ongerief en uitgevaar teen die organisasies wat die uitstel bekom het.

“Ons moet die onderwysstelsel beskerm. Ons kan dit net beskerm as ons almal toegang tot die onderwysstelsel gee,” het Lesufi op die mediakonferensie gesê.

“Die ding met Afrikaans is . . . jy kan nie townshipskole hê wat Afrikaans doen (sic), maar Afrikaanse skole wil nie byvoorbeeld Zoeloe doen (sic) nie.”

Hy het na skole in Centurion, Pretoria, verwys wat slegs in Afrikaans onderrig aanbied, teenoor “ ’n skool in Randfontein” wat glo onlangs dubbelmedium geword het.

Hierop het hy gesê: “Sommige mense is bang vir ‘ander goed’, daarom wil hulle nie skole oopstel nie. Hanteer eerder daardie vrese (as om alles te wil kniehalter). Die aanlyn registrasieproses staan ons by om die wydverspreide behoefte van die gemeenskap te bevredig. Ons wil beklemtoon: alle tale word beskerm en geen taal word bedreig nie.”

Meer oor:  Panyaza Lesufi  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.